Daar is nog werklik goeie mense in hierdie wêreld. En in ’n land waar ons so vinnig op die negatiewe fokus, is dit goed om dit te onthou. Dié week bring ons hulde aan so ’n vrou, iemand van wie niemand eens geweet het tot ’n tragedie haar lewe beëindig het nie.
Sarah Holland is een van daardie mense wat op haar stil, klein manier van Suid-Afrika ’n beter plek gemaak het. Sy was ’n kleuterskoolonderwyser wat geroepe gevoel het om met haar pensioengeld ’n weeshuis op die KwaZulu-Natalse platteland te begin. Hier was sy ’n veilige hawe vir mense wat nie meer geweet het watter kant toe nie, tot sy en 10 ander hartverskeurend in ’n brand in die weeshuis gesterf het. Maar dit verander nie aan dié feit nie: Sy het ’n verskil gemaak, en sy sal nie vergeet word nie.
Terwyl die Sarahs van die wêreld hul geld selfloos deel, wens die meeste van ons ons het meer, en die brandarm, doofstom egpaar van Kaapstad wat vier kort dae “kitsmiljoenêrs” was, het die land behoorlik aan die praat gehad.
Hul kortstondige geluk het toe in trane geëindig – nes ook dié van vele ander mense wat wel al die boerpot gewen het. Lees meer hieroor, want erken maar, dis tog lekker troos vir al ons armes!
Alle sexy oumas, daar is nog tyd om foto’s in te stuur en lekker pryse te wen in ons kompetisie.
En terloops, weet jy waaraan ons landsvlag nooit mag raak nie? Nie? Lees dan gerus die derde aflewering van ons Ken Jou Land-reeks.