Nou toe, wanneer laas het ons so ’n massa-bekering op ’n Vrydagmiddag gesien?
Baie Huisgenoters was vooraf darem erg negatief oor WB 2010 – vol doemprofesieë oor alles wat ongetwyfeld sal skeefloop, en net niks lus vir niks nie, nie vir die lawaai en die ontwrigting en veral nie die sokker nie.
En toe? Toe’s daar ’n openingsplegtigheid so totaal anders as die Chinese se Olimpiese extravaganza: eenvoudig, warm, menslik, met ’n lieflike mengelmoes van dansende, singende mense, almal stralend van pure lekkerkry. En daar’s ’n openingswedstryd waarin Bafana Bafana ons opgewonde maak, en breëbors, en lus vir nog.
Vir baie was dit ’n nuwe, vreemde spel, maar soos ’n stoere rugbyslaaf in die kykkroeg waar ek was, agterna opgemerk het: “Ek dink dis ’n game wat ’n mens maar kan kyk.”
Agterna stroomdie Huisgenoters toe na ons Facebook-blad om lofliedere te sing, die negatiwiteit skoon vergete in die euforie van die sokker-feestelikheid.
So skryf Rita Ransby: “Fantasties. Het sommer sn . . en trane gesit en huil voor die game. Dit is so ongelooflik as jy dink aan al die reëlings wat getref is om die skouspel bymekaar te bring. En SA het dit gedoen . . .”
En Christa Loubser: “Mense ek kry skoon hoendervleis soos daai vuvuzelas nou op SABC1 blaas, en dis van pure lekkerte . . . Ek het definitief die gees gevang. Ayoba!!! Laduuuuumaaaaaa!!!!
Sowáááár ja, dis lekker om ’n Suid-Afrikaner te wees!