Hoe heerlik om terug te wees op die sewende verdieping!
Nie net om almal weer te sien nie – ons is ’n hegte Huisgenoot-familie, en jy mis jou pelle en kollegas – maar ook omdat jy sommer die energie voel as jy by die deur instap.
Ja, my langverlof van drie maande is verby.
Baie van julle sou seker opgelet het dat ek sommer nog twee weke verlof bygelas het – daar was net te veel boeke om nog te lees! En wat ’n seëning is so ’n lekker lang betaalde vakansie. Jy kry inderdaad nuwe perspektiewe oor jou lewe en werk as jy ’n slag ’n bietjie terugsit, ander dinge doen (selfs al is dit kaste regpak), by mense uitkom vir wie jy in die dolle gejaag van elke-dagse-lewe nie tyd het nie. Ek het nog nooit so baie ge-Google nie: Dis asof jou kop weer ’n slag oor dinge begin wonder as hy nie so oorvol is met werk nie.
Ek wonder steeds hoekom Algerië se sokkerspan almal spierwit is met totaal Westerse gelaatstrekke.
Van die sokker gepraat, dit het ek uit elke moontlike hoek beleef. Ons het gaan kyk in Gugulethu, in Athlone, in restaurante, in die Kaapstad-stadion, by vriende, by die huis met kosse van elke land wat daardie dag gespeel het.
Ons het die “Fan Walk” geloop en by die kykkol ons vuvuzelas geblaas. Soos so baie van julle op ons brieweblaaie en Facebook en webtuiste vertel het, het my hart ook geswel van trots. En soos so baie van julle, hoop ek die nasietrots wat ons almal ervaar het, gaan van nou af net breër uitkring.
Die kopskoonmaak was vir my ’n nuwe begin, op talle vlakke. Dit was ’n voorreg om te sien met hoeveel passie en bekwaamheid Julia en die span elke week ’n trefferuitgawe op die rak gesit het.
Daarom is dit ook tyd vir ’n nuwe begin hier, nuwe inisiatiewe, nuwe projekte. Dis baie opwindend, en soos altyd hou ons julle beslis op die hoogte sodra ons plan van aksie reg is.
Lekker week!