Met die laaste blaaie van ons gesondheidstydskrif, Huisgenoot-Pols, op pad na die drukkers terwyl die eerste repetisies vir Huisgenoot-SkouspelPlus by Kaapstad se GrandWest-casino begin, was hierdie week ietwat doller as gewoonlik.
En tussen die gejaag deur breek die een groot nuusstorie ná die ander: Die omstrede Survivor-deelnemer Jub Jub jaag tussen ’n groep skoolkinders in en vier jong seuns sterf grusaam; die SuperSport-klankingenieur Nick Greyling word vrygelaat ná agt angswekkende dae in die hande van Nigeriese rebelle; die ma van Jeannine du Plessis (hoofgetuie in die opspraakwekkende adv. Barbie-hofsaak) laat weet sy is gereed om met ons te gesels net enkele dae nadat haar dogter in Botswana selfmoord gepleeg het . . .
Jy weet dis ’n goeie Huisgenoot as jy al die ander dinge op jou lessenaar dadelik los om eers die storie te lees wat pas daar geland het! Hoop julle verdiep julle ook in al hierdie week se Huisgenoot-dramas.
Marco van Vuuren
Ons telefone hou nie op lui oor verlede week se storie oor klein Marco van Vuuren nie. Huisgenoters van oraloor bel of skryf hulle wil geld skenk vir dié kindjie van KwaZulu-Natal wie se penis deur ’n dokter in ’n staatshospitaal vermink is.
’n Groep lesers het selfs ’n steungroep geskep op ons Facebook-tuiste (wat elke dag met rasse skrede groei!).
Dis nogal ingewikkeld: Jy kan nie geld skenk as jy nie ’n fonds geregistreer het nie; om ’n fonds te registreer het jy ’n prokureur nodig, ensovoorts. Toe besluit ons: Kom ons help almal wat klein Marco wil help – ons het mos ’n geregistreerde fonds, die Ubuntu-fonds.
Nog besonderhede hieroor volgende week.