Hier komdie sokke’, hier kom die sokke’, la-la-la la-la-la-la! Maar toegegee: Nie almal is ewe opgewonde daaroor nie.
Daar is inderdaad ook heelparty lesers wat voel as hulle nog net een vuvuzela hoor bulk, nog net een keer hoor dis nou sus en soveel dae dan’s dit hier, dan kraam hulle sowaar ’n ronde bal.
Twee jaar gelede was dit ek daardie. Kom in Zürich aan vir ’n familiekuier, en daar’s derduisende mense met serpe omdie nek en vlae in die hand in die stad, almal vreemd opgewonde. Sokkermalles, blyk dit toe, slaggereed vir Euro 2008. En wat is dit?
Geskokte antwoord: Dis maar net Europa se groot vierjaarlikse sokkerstryd! En Switserland is medegasheer! O diep rivier, o donker nag, was dit nou nodig? Maar toe gebeur die ongehoorde. Lang storie kort: Later was ek so begeester dat ek in ’n oomblik van eensame histerie voor die kassie selfs die TV se tegniese nooddienste gebel het om te hoor op watter %*&!!& kanaal die sokker dan uitgesaai word, en praat gou asseblief, dit begin nóú.
Twee goed het ek geleer: Min dinge bly oninteressant as daar begeesterde mense om jou is en jy kyk en luister net so ’n bietjie. En: Moenie eens probeer toilet toe gaan nie, dis nie rugby dié nie, dié spel is blitsig.
En as Bafana vroeg uitval? Dan maak ons soos die Switsers toe dit hulle daardie jaar oorkom: Rol netjies jou eie landsvlag op, hang jou ander gunsteling-span s’n oor die balkonmuur en jol voort!