Jy kan vanjaar weer vir jou gunsteling nuwe liedjie stem! Kyk die video's hier!
Dit kos net R1. Stuur die SMS-stemkode van jou gunsteling-liedjie met jou naam en van na 32113.
Jy kan na videos van die liedjies hier op Huisgenoot.com kyk of op kykNET, wat dit gereeld gaan uitsaai.
Een gelukkige stemmer kan ’n Olympus-kamera van R2 399 wen.
En 10 lesers kan elk dubbelkaartjies wen na die Huisgenoot-Tempo’s op 27 Julie in Emperor’s Palace, Kempton Park, waar die Liedjieskryfwenners bekendgemaak sal word. Wenners is verantwoordelik vir hul eie vervoer.
LET WEL: Die stemmery sluit op 26 Julie om 12:00.
FINALISTE EN VIDEOS
NIKKA
SMS LIED 1 NA 32113
Liedjie Baby Baby Baby
Kunstenaar Nicholis Louw
Die Pretoriase aspirantsanger Nikka werk aan haar debuutalbum en het die modern popnommer Baby Baby Baby vir haar eerste CD geskryf. Sy is vreeslik opgewonde daaroor dat Nicholis haar liedjie gaan vertolk. Nicholis sê op sy beurt hy is “skoon verlief” op die liedjie. “Ek is versot daarop; ek is doodseker dit gaan ’n treffer wees. Nikka het ’n baie unieke styl en baie talent.”
KYK VIDEO - Baby Baby Baby
GUSTAV SMIT
SMS LIED 2 NA 32113
Liedjie 4 Wit Mure
Kunstenaars Karen Ferreira enViljoen Retief
Gustav, ’n ondernemingsbestuurstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, se liedjie is geskryf oor die kamer waar sy musiekgroep, InSlowMotion, op skool geoefen het. “Toe ons al die meubels uit die vertrek dra, het net die vier wit mure en herinneringe oorgebly.” Viljoen sê die liedjie het dadelik in sy gedagtes vasgesteek. “Die liedjie praat dadelik met jou en pas by my musiekstyl.”
KYK VIDEO - 4 Wit Mure
NARDUS DU PLOOY
SMS LIED 3 NA 32113
Liedjie Kettie en Klip
Kunstenaar Wicus van der Merwe
Nardus, ’n lid van die Pretoriase groep Die Kaalkop Waarheid, het besluit om te eksperimenteer en toe sy skreeusnaakse liedjie geskryf oor twee boesempelle wat leeus jag. “Ek’s bly Wicus sing die liedjie; hy sal dit laat werk,” sê Nardus. Wicus sê die liedjie herinner hom aan sy kinderjare“met kinders wat rondhardloop en sommer alles wat beweeg én stilstaan met hul ketties skiet!”
KYK VIDEO - Kettie en Klip
ANDRÉ SAAIMAN
SMS LIED 4 NA 32113
Liedjie Daar Het Ek Dit Nou
Kunstenaars Les Javan en die Delta Vastrap Genootskap
André, ’n kabinetmaker van Port Elizabeth, sê daar gaan nie ’n dag verby dat hy nie aan die lirieke of melodie vir ’n nuwe liedjie dink nie. “Ek verkies dit as ander mense my liedjies sing.” Les sê hy sing nie maklik ander mense se liedjies nie, maar hy het besef dié een kom uit die hart. “Dis asof dit deur ’n broeder van ’n ander moeder geskryf is.
KYK VIDEO - Daar Het Ek Dit Nou
MARTIENS JOUBERT
SMS LIED 5 NA 32113
Liedjie Bakgatboogie
Kunstenaar Snotkop
Martiens boer buite Nylstroom in die Waterberge met skape en beeste, maar wil ook sanger word en het die liedjie Bakgatboogie vir sy debuutalbum geskryf. “Snotkop gaan ’n lekker vibe daaraan gee,” sê hy opgewonde. Snotkop reken dit het beslis trefferpotensiaal. “Die liedjie kook! Dit het ’n sterk melodie en ’n koor wat ’n mens dadelik onthou. Dis ’n liedjie vir ’n lekker jol.”
KYK VIDEO - Bakgatboogie
JOHAN BEUKES
SMS LIED 6 NA 32113
Liedjie Tarantula
Kunstenaar Emo Adams
Johan, ’n bemarker van Heidelberg in Gauteng, het sy heerlike liedjie geskryf nadat hy op ’n televisieprogram gesien het hoe twee spinnekoppe “met mekaar dans”. “Dis ’n grapperige liedjie en Emo sal reg daaraan laat geskied,” sê hy. Emo wil die liedjie graag by sy volgende album insluit. “Dis ’n lekker jol; dit beskryf ’n nuwe sort dans. Dis die nuwe Gums Kawielie Wams.”
KYK VIDEO - Tarantula
LIEZEL MARSHALL
SMS LIED 7 NA 32113
Liedjie Ek Onthou
Kunstenaar Rudi Claase en Corlea Botha
Die Pretoriase gospelsanger Liezel Marshall is aan die skei en het hierdie hartseer ervaring in ’n pragtige ballade verwerk. “Ek is mal oor Rudi en Corlea se klassieke klank en ek is bly hulle sing die liedjie,” sê sy. Rudi en Corlea sê dit pas volmaak by hul styl. “Die liedjie is persoonlik en dit gee diepte daaraan. Dit het trefferpotensiaal en ’n mens hou net ál meer daarvan.”
KYK VIDEO - Ek Onthou
PJ NEL
SMS LIED 8 NA 32113
Liedjie Kyk na My Hart
Kunstenaar Andries Botha
PJ is ’n sanger uit eie reg en sing gewoonlik onder die naam PJ Cruz. Hy het gedroom hy moet aan Huisgenoot se kompetisie deelneem en toe sy kragtige rockballade ingeskryf. “Andries gaan die liedjie die regte plofkrag gee,” sê hy. Andries sê die liedjie bring rock- en dansmusiek volmaak by mekaar uit. “Dis ’n lekker partytjieliedjie; dit kan ’n groot treffer word.”
KYK VIDEO - Kyk na My Hart
WALDO GREEFF
SMS LIED 9 NA 32113
Liedjie Is Dit Jy?
Kunstenaar Andriëtte
Waldo werk aan ’n meestersgraad in musiektegnologie aan die Universiteit van Pretoria en skryf liedjies wat stories vertel. Die aangrypende ballade Is Dit Jy? gaan oor ’n vrou wie se geliefde oorlog toe gaan en nie weer terugkom nie. “Dis ’n eer dat Andriëtte met haar wonderlike stem die liedjie gaan sing,” sê hy. “Die liedjie is ’n ongelooflike ballade en dit gaan baie gewild wees,” sê Andriëtte.
KYK VIDEO - Is Dit Jy?
DAVE LUBBE
SMS LIED 10 NA 32113
Liedjie Wense
Toonsetting en kunstenaar Nianell
Dave is ’n dosent in sake-etiek en ouditkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy skryf dikwels in sy vrye tyd lirieke en sy liedjie is so mooi, dit gee jou eintlik hoendervel. “Nianell het ’n ongelooflike stem en ek het al haar CD’s,” sê hy oor die kunstenaar wat dit gaan uitvoer. Nianell sê sy het Dave se lirieke binne sekondes getoonset. “Die woorde het hul eie wysie gekies.”
KYK VIDEO - Wense