Skottel-TV vir R99 per maand

E-pos
Print

Dit gaan Suid-Afrika se TV-landskap verander.

Hier is bekostigbare kykstof vir mense wat tot nou maar met die SABC en e.tv tevrede moes wees – en kompetisie vir DStv.

Ja, hier is gesonde mededinging, en die wenners is ek en jy.

So praat mense oor TopTV, die nuweling in Suid-Afrika se betaal-TV-bedryf, wat voorheen na party mense se smaak maar bra keusebeperk was.

“Suid-Afrikaners wat tussen R99 en R249 per maand kan bekostig, sal toegang hê tot wêreldklas-TV-vermaak oor alle genres heen, insluitend nuus, kennis, flieks, gesins-, kinder-, musiek-, sport- en kultuurprogramme,” sê Vino Govender, uitvoerende hoof van TopTV se beheermaatskappy, On Digital Media.

Een ding is seker: Hier in die wegspringblokke is TopTV inderdaad baie bekostigbaar. Dit was ons ervaring toe ons self een van die nuwe dekodeerders verrassend goedkoop gaan koop en laat installeer het (maar daar was teen saktyd nog ’n groot tekort aan hulle).

Jou aanvanklike kitsindruk is inderdaad ook dat TopTV beslis die lewe van mense wat nie betaal-TV gewoond is nie – en bygesê, nie veral sport wil kyk nie – kan opkikker.

TopTV se teikenmark is die 5,5 miljoen mense metTV’s wat nie DStv het nie, verneem ons van Melinda O’Connor, publisiteitsbestuurder. Daar was wel ook navrae van DStv-intekenare wat die geldknyp voel, en van dié wat nou
DStv én TopTV wil hê.

“Maar ons kyk eerder na mense wat nog al die jare nie betaal-TV-dienste gehad het nie,” sê Melinda. Hulle het nou ’n keuse buiten openbareTV – “en die verbruiker het reeds begin wen”.

Inderdaad, want DStv het nou ook onder meer ’n nuwe R99- boeket bekendgestel.

Wat sal jy sien op TopTV
As jy mik na die volledige TopTV-ervaring van R249 met al vier boekette – Variety (basiese boeket), Kids & Music, Entertainment&Knowledge en Ultimate Movies – kry jy onder meer kykstof van internasionale name soos Fox, Warner, Discovery, MGM, CBS en Disney.

Dit sal ses fliekkanale insluit, en kanale soos:
- Fox Entertainment (drama-, wetenskapsfiksie-, komedie- en animasiereekse en werklikheids- TV)
- Discovery
- Travel&LivingNews
- Setanta Africa (ligaklub- en internasionale sokkerwedstryde, boks en sportnuus)
- Fuel TV (avontuursport vir veral jonger kykers)

Daarbenewens het TopTV self kanale met plaaslike en internasionale inhoud vir Suid-Afrika verpak, insluitend TopOne (gesinsvermaak vir almal), TopMovies, Top Gospel, Top Crime en Top Learn.

Hoewel sommige vandie flieks wat op TopTV uitgesaai sal word, dalk reeds op DStv was, het TopTV ook sy eie “sterk verspreiders” soos Showtime, Fox FX (adrenalienbelaaide aksie en komedie vir veral mans) en Silver (indie- en kunsflieks).

Perfect Stranger (met Bruce Willis en Halle Berry), Ghost Rider en 8MM (Nicolas Cage), Vacancy (Kate Beckinsale), Spiderman III, Die Hard IV en Jakob the Liar (Robin Williams) is byvoorbeeld op Top Movies se Mei-program.

En op die MGM-fliekkanaalen Discovery Science; Natura (natuur-dokkies); Zee Cinema (Bollywood uit die boonste rakke, met die warmste divas); BBC World (een van enkele kanale wat DStv ook het); Fox News (met, vir sommige, ’n dalk te Amerika-gesentreerde nuusbenadering); Al Jazeera (vir ’n ander nuusperspektief, ook reeds op DStv); Black EntertainmentTV (verskeie genres, insluitend geselsprogramme, en gemik op veral swart kykers); CurrentTV (Al Gore se veelbesproke “nuwe media”-kanaal met onder meer nuus- en informatiewe bydraes deur kykers self, wel geredigeer); en Fine Living Network (kookkuns, reis, binneversiering, gesondheid).

Musiek- en sportkanale

TopTV bied ook omtrent agt musiekvideokanale met van pop, hip-hop en R&B tot rock, klassieke uitvoerings en musiek uit Nigerië.

Met SuperSport wat koning kraai betreffende rugby- en krieketdekking en ook plaaslik PSLsokkerregte bekom het, is sport nie TopTV se sterk punt nie. Tog het hy kanale soos Eurosport.

Op die indie-fliekkanaal Silver sien ons nou die aand byvoorbeeld die Britse filmverwerking van die klassiekeThomas Hardyverhaal The Woodlanders. En American Rhapsody (Scarlett Johansson) en die skerp komedie I’m Reed Fish is glo Mei-hoogtepunte.

Die kanaal saai ook goeie dokumentêre prente uit.

Top Movies+2 en Top Movies+ 24 bied bloot heruitsendings van flieks wat mense op Top Movies misgeloop het. Die fliekkanale het dae ná die bekendstelling van die diens ook nog nie naastenby aaneen uitgesaai nie.

Tog behoort fliekliefhebbers genoeg ontvlugting op TopTV te vind. Fox FX (hoofsaaklik reekse, al is dit in die Ultimate Movies-boeket) moes nog begin uitsaai toe ons ingeskakel het, maar het flitse gewys uit ’n nuwe seisoen van The Office, die misdaad- dramareeks Underbelly en ’n nuwe Kojak met Ving Rhames (“Kojak is back and he’ black”).

En op Fox Entertainment kry jy trefferreekse soos Most Haunted, Fear Factor, Seinfeld, The Simpsons, Grey’s Anatomy en Stargate. Daar is ook Fox Retro vir diegene wat nostalgies raak oor die oorspronklike Kojak,
Starsky&Hutch, Hart to Hart, Fame, Magnum P. I . en M*A*S*H.

Investigation Discovery bied dokkies oor misdaad- en forensiese ondersoeke.

Natura is nou nie National Geographic nie, maar behoort diereliefhebbers te vermaak.

Kindervermaak


Betreffende kindervermaak, het TopTV wel nie die Disneykanaal nie, maar sal hulle tog soms Disney-programme uitsaai.

BabyTV, geskep saam met kundiges, is een van die eerste advertensievrye internasionale kanale vir babas en kleuters. Jim Jam is nog ’n kanaal vir voorskoolse kinders.

En Kids Co, hoewel nie met al die treffers van ’n Cartoon Network nie, het gewilde animasie soos Dennis the Menace, Inspector Gadget, The Wiggles, Sabrina: The Animated Series en Tales from the Cryptkeeper.

Top Junior bied ook skaflike animasie soos Flipper en Lopaka, oor ’n dolfyn en ’n seun, en tekenprente.Kykstof soos Maya the Bee word ook weer daar afgestof.

Hoe kry jy dit, en wat kos dit?

- Jy koop ’n dekodeerder, afstandbeheerder en slimkaart by een van die aangewese winkelsvir R499.

- Bel dan die TopTV-oproepsentrum om ’n installeerder na jou te stuur.
- Hy daag met skottel en dies meer op en kry jou diens aan die gang.
- Jy betaal niks meer nie, en TopTV belowe dit sal binne 48 uur gedoen word.
- Jy betaal dan maandelikse intekengeld van R99 tot R249 na gelang van jou boeket.
- Jy kan jou diens enige tyd kanselleer of vir ’n maand of twee opskort as die geld knyp, en dan hervat.

Lees ook meer in die Huisgenoot van 13 Mei 2010, waar ons ook vertel van DSTV se nuwe boekette.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (27)


  1. Annemarie
    2011/04/26 03:22:46 nm
    Ek het tans DStV maar die paaiemente is al weer op en sal ek eersdaags moet afgradeer. Die goedkoper pakette se kyk-waarde is Zero. Maar op hierdie opsie kyk ek omtrent nie na die helfte kanale nie. As julle 'n kanaal kan skep met Kyknet, goeie sport, rugby, krieket en iets soos "crime" sal ek gryp daarna.
  2. Retha Maree
    2010/09/18 09:13:11 nm
    Ek stem heelhartig saam met Toitjie. Gooi weg die TV, geniet die lewe en alles wat dit gratis bied. Dit is die TV monster in ons huise wat ons nie meer met mekaar laat praat, kuier, en vir mekaar laat omgee nie. Dit maak ons dik in die lyf en dik in die kop, besoedel ons denke, ontneem ons van menswees, selfwees en steel ons tyd hier op aarde. My simpatie aan al die TV aanhangers.
  3. Turham
    2010/06/15 12:47:14 nm
    X mal oor my sport.Sodra Top TV na so opsie kyk dink ek sal hulle meer as genoeg kliente kry.
  4. Mariette
    2010/05/24 11:19:18
    Gee asseblief meer inligting omtrent die kanale en 'n kontak nommer.
  5. Jackie Brown
    2010/05/20 12:27:40 nm
    Heste Dannhauser
    2010/05/11 10:55:55 Wow!! Klink GOOD!! Waar is so 'n kantoor of kontak nommer en wat van 'n afrikaanse kanaal soos KYKnet??

    Baie opgewonde, want dit pas my sak!!

    Geagte Heste, Om jou te antwoord gaan na hulle web tuiste die nommer is daar. My man is 'n credited installer vir Top Tv Jy sal hulle naam en nommer op gumtree kry. Gaan net by search bussness other tik in Top Tv (Precision Installations) en dan kan jy hulle kontak. Hoop dit help. Groete Jackie Brown
  6. Toitjie
    2010/05/14 04:13:20 nm
    Ek mors nie my tyd voor die TV om snert soos sepies en flieks te kyk nie, kyk dan liewer vir Bugs Bunny en sy maters uit vervloee dae toe n 'comic' nog n 'comic, was en nie deesdae se skop, skiet en d@@@@r nie. Ek dink dit is waar baie van die geweld wat vandag in S.A. plaasvind, beslag gevind het.Van sepies praat ek nie eens nie want dit is nou n vermorsing van jou tyd hier op aarde.
  7. Mariette
    2010/05/14 03:46:33 nm
    TOP TV klink baie goed maar sal graag 'n kanaal ook wil hê om rugby te kan kyk.
  8. darold
    2010/05/13 01:46:34 nm
    dit klink baie goed maar die sportkanaal is nie na wense hoekom nie ook die kanaal inbring waar rugby en ander soorte sport en nie net sokker alhoe wel ek mal is vir sokker , as jy goedkoper wil wees maak voorsiening vir hierdie kanale ook dan is dit besighied.
  9. simon
    2010/05/13 12:09:11 nm
    ek bly maar by my dstv wat al is ek nou 20 jaar oud ek kyk nog my cartoons, al het toptv vir fox en jy hele famiele dit kom nie naby aan dstv se syfer nie
  10. jana
    2010/05/12 11:33:21
    jirre maar julle is vervlaks DOM!! die artikel SPEL DIT DAN UIT wat daar op die kanale is, het hulle ENIGIETS van kyknet gesê? NEEEE.

    en hulle het ook mooi gesê die hele spul kos R499 en dan is dit jou DEKODEERDER EN die installering daarvan, dan is dit joune - VIR ALTYD. en jy betaal net elke maand. of R99 (vir 'n klein variety) of R249 (vir 'n groot variety).

    HOE STUPID KAN 'N MENS WEES??? bou nou 'n nasie. BOU NOU 'N NASIE met mense soos hierdie. goeie genade.
  11. Louise
    2010/05/11 06:51:57 nm
    Ek dink die sleutelwoord le in die frase "vir almal wat voorheen nie betaalkanale kon bekostig nie" - ek dink hulle moet 'n "launch" maand he waarin mens kan kyk wat TOPTV jou bied en dan besluit jy self. DSTV is wel duur, maar die reekste op MNet, Action ens. is die moeite werd om dit te betaal - eet maar net minder vleis ... eet jou broodjie terwyl jy MNet kyk!!!:-)
  12. Fred Carney
    2010/05/11 04:52:57 nm
    Jy weet as daar net een kanaal kan wees met die nuutste Afrikaanse musiek videos, dan sal ek dit sterk oorweeg.
  13. lani
    2010/05/11 04:48:01 nm
    ek het die mnet dekoder .moet ek nog n dekoder kry. EK STEL BELANG OM EEN AAN TE SKAF.
  14. Vanessa
    2010/05/11 04:41:25 nm
    Ek is van Namibie en wil graag weet of die produk ook hier beskikbaar sal wees?
  15. Heste Dannhauser
    2010/05/11 10:55:55
    Wow!! Klink GOOD!! Waar is so 'n kantoor of kontak nommer en wat van 'n afrikaanse kanaal soos KYKnet??

    Baie opgewonde, want dit pas my sak!!
  16. Rudi
    2010/05/11 07:14:28
    Kan nie wag vir "pay-per-view" nie. Kies die kanale / programme wat jy wil kyk, en betaal dienooreenkomstig slegs vir dit waarin jy werklik belangstel, en nie vir 40 ekstra kanale waarna jy nooit kyk nie. As ek net SuperSport wil kyk, moet ek die keuse hê om net daarvoor te betaal. Viva vryheid van keuse!
  17. suz
    2010/05/10 02:36:02 nm
    Ja definitief klink dit goed, IS KYK-NET dan ingesluit????
    Buitendien herhaal DSTV alles oor en oor en oor!!! en ons betaal ten duurste.


  18. engela
    2010/05/10 02:04:52 nm
    die belangrikse sport, ek kan nie optel of daar sportkanale is nie, sal defnitief belangstel as sport

    beskikb aar is.
  19. Ann
    2010/05/10 01:37:04 nm
    Ek is baie opgewonde oor Toptv, want ek is een van die arm SA burgers wat galdnie meer DSTV kan bekostig nie, en graag ander kanale as SABC 1 en 2 wil kyk. Ons ontvangs van die ander SABC kanale is nie baie goed nie, daarom het ek net die 2 om na te kyk. Ek wil graag weet wat die Toptv dekodeerder kos, wat die maandelike bedrag betaalbaar is - R99?, en wat presies al die kanale behels wat ons sal kan kyk. Is die SABC kanale ook daarby ingesluit, en is Kyknet ook van die kanale wat ons sal sien. Baie van die programme word ook maar op DSTV herhaal. Kan dan maar net sowel die goedkoper betaalkanaal aanskaf.
  20. Louisa
    2010/05/10 12:59:22 nm
    Gee meer inligting. Hoeveel kanale? Wat is op kanale? Tale op kanale?
  21. sharee
    2010/05/10 09:15:14
    Ek wil graag ook weet wat maak ons nou met DSTV dekodeerder? Sal definitief na TopTVwil kyk as 'n goedkoper opsie. Betaal nou R548 en as ek ek net met die helfte daarvan TopTV kan betaal is dit weer 'n ander gatjie wat ek kan toe stop.

    Huisgenoot plaas asb so veel moontlik inligting as wat jul kan.
    Jul is tops.

    Dankie!

  22. tienie
    2010/05/10 06:22:46
    mense kan se wat hulle wil oor toptv. dstv betaal ek nou al baie jare lank. ek kan elke liewe kanaal kyk waarvoor ek is selfs al die sport kanale. die goedkoper kanale van toptv en dstv weet ek nie of hulle al die sport kanale wys nie
  23. Antoinette de Wet
    2010/05/09 10:24:32
    Dis absolute fantastiese nuus. Hoog tyd dat DSTV bietjie kompetise kry. Hulle het die 'monopoly' gehad en kon vra wat hulle wil. Ek sal defnitief dit sterk oorweeg om oor te gaan na TOP TV.
  24. gerry
    2010/05/07 01:28:32 nm
    AS JY DIE DSTV AAN HET HOE MAAK JY DAN NOU WANT JY KAN MOS NIE DIE DING WEGGOOI NIE DIT WAS GELD
  25. Petro
    2010/05/07 11:56:01
    Ons het nog nooit MNet of DSTV gehad nie - ek sal definitief ook TOP TV koop! Waar??
  26. Martie
    2010/05/07 11:08:21
    klink baie goed die vraag is net wat gaan jy sien vir die prys van R99
  27. Antie Koekie
    2010/05/07 09:06:47
    Voorwaar fantastiese nuus! Die GROOT VRAAG is nou dít: Is Kyknet ingesluit is die R99 pakket? Want dit is wat baie (ouer) mense voorheen afgesit het van die koedkoper DSTV pakkette.