Okkert draf loslit deur Survivor

Party mense noem dit fokus. Hy noem dit ritme. Noem dit wat jy wil – dit is daardie ou ding wat al 20 jaar lank by Okkert Brits (36) ingedril is en reeds in die eerste minute op die Survivor-eiland iets in sy kop laat kliek het.

Hy het oor en oor stil begin tel: een-twee-drie, een-twee-drie, en siedaar! Voor jy kon sê Santa Carolina, was dié oud Olimpiese paalspringer met krat en al oor die duine. ‘‘Ek was nog besig om so te tel toe sien ek ek is los voor en eerste op die strand. En toe is daai ou sportding terug.’’

Sy blou oë is toegeknyp terwyl hy vertel van die eerste dag op die Mosambiekse eiland, en wat toe in die krat was. Sy oë skiet oop. ‘‘En dit was toe alles net vir ’n damn portret van ’n tier!’’

Maar die drie uur se sweet met die portret tot by hul bestemming was darem nie heeltemal verniet nie, erken die man wat op Survivor South Africa: Santa Carolina kop en skouers bo die res uitstaan. ‘‘Ons kon dit vir ’n snybord gebruik.’’

Terug tuis in Port Elizabeth lyk dit asof hy enige dag nog met ’n paal in die hand oor ’n lat kan seil. Vyf jaar gelede het hy sy spykerskoene opgehang, maar op die eiland sien ons weer Okkert die kampioen. Elke uitdaging word soos ’n wêreldklasbyeenkoms aangepak.

Ná vier agtereenvolgende oorwinnings is die Timbila-span in sak en as omdat hulle net nie raad met Okkert se krag het nie.

Fisiek en geestelik is hy die ander ook net altyd een treetjie voor.

Sy vrou, Jane, ’n Survivor-slaaf, het hom omgepraat om deel te neem. As die verlange na Jane (30) en hul kinders, Sarah (4) en David (3), gedreig het om hom onder te kry, het die ritme weer ingeskop.

Sy strategie was eenvoudig: om hard te werk, nie eerste uitgeskop te word nie en die samesmelting van die spanne te haal. En tot dusver lyk dit asof sy strategie werk...

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 4 Maart.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (2)


  1. Ella
    2010/03/03 09:30:27
    Mooi so Ockert - ek hoop regtig jy WEN!!!!
  2. Christine
    2010/03/01 01:19:32 nm
    Verlede week se Survivor- die beste ooit! Mooi so Gys en sy span , so moet mens dink vir oorleweing - steek weg alles wat kosbaar is. 10 uit 10
Jou naam: Jou e-posadres:

Kopiereg © 2010 Media24. Alle regte voorbehou. Built by Blueworld Communities