Bold se Hunter Tylo vat man

Hunter Tylo
Hunter Tylo


Haar lewe begin deesdae ál meer na ’n sepie klink – dit ry wipplank tussen euforiese hoogtepunte en verpletterende laagtepunte, met weinig rus en stilte tussenin.

Selfs wanneer Hunter Tylo saans op die stel van The Bold and the Beautiful dr. Taylor Forrester groet en huis toe gaan, wil die drama in haar lewe maar net nie end kry nie.

Haar TV-karakter het al ’n hele rits mislukte romanses agter die rug, en op 47 is Hunter se liefdeslewe nou ewe opspraakwekkend. Nes Taylor het sy haar hart op ’n jonger man verloor. En ’n skrale drie maande nadat sy ’n gewelddadige verhouding beëindig het, het sy onlangs die derde keer voor die kansel gestaan.

Die 38-jarige Gersson Archila is haar eerste “ware liefde”, sê sy. Maar vriende, kollegas en aanhangers se oë het gerek toe hulle op 29 November afhaak, want die meeste van hulle het nie eens geweet die man is deel van haar lewe nie.

En die troue was darem bitter vinnig nadat sy haar twee jaar lange verhouding met die musikant Corey Cofield beëindig het omdat hy haar aangerand en verkul het.

Mense na aan haar is bekommerd oor die oorhaastige huwelik, maar hoop sy sal tog dié keer gelukkig wees.

Weinig is bekend oor die man wat nou Hunter se hart gesteel het, maar sy maak geen geheim daarvan dat sy hom verafgod nie.

“Ware liefde is die wag werd,” het sy aan die hand vol gaste by die Cupid’s Wedding Chapel in Las Vegas gesê. “Vandag is die gelukkigste dag in my lewe.”

Hunter het pragtig gelyk in ’n wit sy-en-chiffonrok met ’n lae hals en ’n bolyfie vol pêrels. Daarby het sy diamantoorbelle en ’n haarband met blomme en pêrels gedra. Die bruidegom was in ’n swart aandpak uitgevat, opgekikker met ’n rooi sakdoek.

Lees die res van die artikel in Huisgenoot van 31 Desember.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (0)


Jou naam: Jou e-posadres:

Kopiereg © 2010 Media24. Alle regte voorbehou. Built by Blueworld Communities