Skouspelagtige Skouspel Plus!

E-pos
Print

Hope glans en stemme wat skrik vir niks, ‘n eina-my-maag-snaakse Emo Adams en ‘n paar maak-my-knieë-lam mooi manne – dis mos waaroor ons gesogte jaarlikse konsert in die Kaap, Skouspel Plus, gaan of hoe?

Vanjaar was die Grand Arena by Grand West Casino in Goodwood tjok en blok vol vurige aanhangers. Almal het kom kyk hoe Kurt Darren, Juanita du Plessis en Snotkop saam met ‘n paar ander van ons land se top-kunstenaars die dak kom lig.

Hierdie keer was die Suid-Afrikaanse Jeugkoor ook daar en die Kaapse Filharmoniese Orkes het weer onder leiding van maestro Graham Scott die plek behoorlik laat lewe kry.

Mense, mense, mense... Ons konsert het net weer bewys wat almal eintlik al lankal weet: Ons land spog met ‘n hele spul talentvolle mense.

Hoe Chris Chameleon sulke hoë note kan bereik, en dit vir ‘n ou, weet ek nou nog nie. Probeer maar gerus daai ooo- aaaa-ooo-geluide van sy baie gepaste liedjie OO-AA by die huis voor die spieël naboots – en jy gaan lááááánk sukkel.
Dozi en Nianell se weergawe van Making Whoopee was so sexy, om nie eens te praat van daardie welgeskape sonbruin been van haar wat so nou en dan onder die wit aandrok uitgeloer het nie.

En natuurlik het die meisies  - en hope ouer vroue – omtrent gegil die oomblik toe die nimlike Bobby van Jaarsveld sy voete op die verhoog sit om Spieëltjie Spieëltjie te sing.

"Ek weet darem nie," het hy verleë gegrinnik toe ons hom pols oor model word. Hy was op daardie oomblik gans te besig om sy blink, grys hemp reg te trek – dié was glo ‘n bietjie te blink en te styf na sy smaak. Asof klere te styf aan sulke mooi arms kan sit!

En toe Wynand Strydom by Theuns Jordaan en Bobby aansluit om Sprokie vir ‘n Stadskind se sing het ‘n hele paar vroue in die gehoor begin gil.

"Ek het soos Bon Jovi gevoel jong," het Wynand daarna gespot.

Corlea Botha en Rudi Claase se As ek Sing het ‘n hele paar mense na die snesies laat gryp. En kán hierdie twee jongmense sing! Boonop het Corlea met die derde en laaste konsert van die naweek met bronchitis gesukkel, maar g’n mens sou dit agtergekom het nie. Nie met daardie hoë note wat sy bereik het nie, foutloos en sonder enige sweempie van ‘n padda in die keel.

Toe Mathys Roets in sy rolstoel op die verhoog verskyn om Laurika Rauch se aangrypende Stille Waters saam met haar te sing is hy staande toegejuig. Dit was een van daardie oomblikke wat die trane vlak gesit het.

Soos gewoonlik het Eden se manne Johan, Jay en Paulo  die knieë lamgemaak. Raak dié manne dan nooit ouer nie? Al drie was met hul gesinne daar en ons was gelukkig genoeg om Paulo se oulike kleinman, Kai, in die kleedkamer te sien.

"Hy maak sulke babbelgeluide as hy musiek hoor," sê sy ma Marlene oor dié sewe maande oue knapie wat uitgeknip sy pa is.

Die stomme Julius Malema se ore het seker heelaand getieng – die seremoniemeester Margit Meyer-Rödenbeck het die mense omtrent laat kraai met haar Julius-grappies.

Daar ontdek ek toe met ‘n skok Nianell kan opera sing. Haar weergawe van die Spaanse operasanger Montserrat Caballe en oorlede Freddy Mercury se Barcelona saam met Kurt, Romanz en Brandon October was ‘n hoogtepunt.

Mango Groove se lewenslustige Claire Johnston het vir nog een gesorg. Dié het die hele Skouspel Plus in styl afgesluit met ‘n keurspel van ou treffers soos Hellfire en natuurlik Special Star wat almal op hul voete gehad het.

Dit was inderdaad skouspelagtig en dit alles in een mengelmoeskardoes!

Maak seker jy koop die volgende uitgawe van Huisgenoot waarin al die foto's van die naweek se konserte gaan verskyn!



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (13)


  1. David Meiring
    2010/07/22 02:40:44 nm
    As julle Skouspel 'n suskses wil laat bly soos huidglik, moet net asb NOOIT weer vir Helene Bester op Skouspel sit nie. Sy sal die hoe gehalte en klas wat Skouspel nou het afbring. So ASB... geen Helene Bester naby Skouspel nie ASB!!!
  2. Charmaine Durand
    2010/06/23 03:26:27 nm
    Die jaar se Skouspel Plus was vir my mooier as Skouspel. Eish toe Theuns Jordaan Forever in Blue Jeans sing - dit was die beste van die hele show gewees.
  3. Marie
    2010/06/07 03:50:37 nm
    Verlede jaar se skouspel was fantasties. Ou Kurt is net te veel in die prentjie gewees en die afsluiting met hom was 'n fiasko. Halleluja was die beste keuse vir 'n afsluiting. Wanneer laat jul jul vete met Steve los, want hy is die heel beste en het die skouspel regtig gemaak. Daar is sommer baie wat soos ek voel en ons sal dit regtig waardeer indien julle hom weer terugbring.
  4. Dot
    2010/05/14 01:10:29 nm
    ek was verlede jaar by skouspel 10 ongelooflik. Wanneer kom die DVD van Skouspel Plus? Het dit op TV gesien maar sal graag dit in my besit wil hê. Ons kunstenaars is fantasties maar bring groot seblief vir Steve terug.
  5. Ferdie
    2010/05/10 04:58:47 nm
    ek het my verkyk aan die uitsending op mnet - maar baie hartseer omdat ek nie als kon sien nie. ek bly in Durban en die konserte is altyd so ver. hoop en bid regtig dat ons 'n volledige dvd van 2010 se skouspel plus gaan kan koop. sal ook graag vorige jare s'n wil he. maar puik.
  6. Fred Carney
    2010/05/10 04:51:47 nm
    Ek was die jaar (2010) weereens by Skouspel plus. Altyd fantasties. Ek het ook die hele reeks van Skouspel op DVD, maar ek mis die Skouspel plus op DVD. Jy mis altyd 'n paar dinge op die "live show". Ek sal môre vir my die DVD koop as dit beskikbaar is. Hoekom kry ons dit nie op DVD nie?
  7. Arnie
    2010/03/17 03:58:33 nm
    Absoluut fantasties gewees!!!!! Beste ooit!
  8. Ilse Engelbrecht
    2010/03/17 07:52:34
    Skouspel plus was weer eens 'n belewenis! Baie dankie vir al julle harde werk met hierdie produksie. Barcelona en Halleluja was beslis die hoogtepunte!! ek sing nou net heeldag Barcelona. Net een ou vragie: waarom het Nicholis so min gesing? Nie eers 1 volle liedjie gesing nie. Maar verder was dit puik.....ek is beslis volgende jaar weer daar!
  9. Pierre Rossouw
    2010/03/16 09:58:06
    My eerste, half teesinnig, saam gesleep en wat 'n verrassing. Briljand en goed aangebied. Net jammer dat, sommige kunstenaars se stemme deur te harde musiek verdrink het. Verlede jaar is dieselfde klagte, uit verskeie oorde gehoor en dit was onder die aandag, van die organiseerders gebring maar, nie op ag geslaan nie. Harder musiek, maak dit nie noodwendig, mooier nie. Daar moet 'n gesonde balans wees. Dankie Huisgenoot, doen so voort. Mis nie volgende jaar nie.
  10. Lindie Zeeman
    2010/03/15 06:09:13 nm
    Skouspel Plus was STUNNING!!!!!!!!!! Ons kon nie help om te wil opspring en dans nie. Hoe kan mens stilsit met sulke ongelooflike kunstenaars en hul musiek, hul Rock!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!
  11. Anel
    2010/03/15 02:58:16 nm
    DIT WAS ONGELOOFLIK ONGELOOFLIK ONGELOOFLIK!!!!! Dit was regtig goed gewees en baie lekker, ek het dit vreeslik geniet en is beslis volgende jaar terug. Dankie Huisgenoot dat julle dit Kaap toe gebring het.
  12. Nenna van Rensburg
    2010/03/15 02:24:59 nm
    ja, ja,..... alhoewel ek baie, baie lief is vir musiek, veral Afrikaanse musiek, het ek nog nooit enige skouspel bygewoon nie. Is altyd te ver of as ek wel kans kry was die kaartjies uitverkoop. Maar meskien eendag.... In my jonger dae het vriende my altyd gespot met my afrikaanse musiek, en kyk vandag waar staan dit? Afrikaanse kunstenaars julle ROCK!! Hoop om so spoedig moontlik die DVD te kan koop. Huisgenoot, julle bring dit op DVD -style tog na ons sitkamer! Baie dankie.
  13. Christa van der Linde
    2010/03/15 02:22:22 nm
    Wow wat 'n skouspel was dit nie. My eerste, maar beslis nie my laaste nie. My asem was weg geslaan. Baie dankie vir hierdie onvergeetlike ervaring.