Die Kaap weergalm!

E-pos
Print

Toe die kitaarman Mauritz Lotz op ’n stoeltjie daar op die verhoog lostrek met ’n weergawe van Gian Groen se Vier Seisoene Kind, begelei deur die Kaapse Filharmoniese Orkes, was dit so duidelik soos daglig: Vanjaar se SkouspelPlus gaan sonder twyfel al die lekkerste dinge in ons binneste losmaak.

Die musiekfees by die GrandWest-casino in Kaapstad het met ’n knal begin en daar sit ek toe ook, een van amper 5 000 toeskouers, oopmond verbaas oor die talentvolle musiekmense hier reg onder ons neus.

Jip, al die topsangers soos kaptein Kurt Darren, Emo Adams, Bobby van Jaarsveld, Juanita du Plessis, Nianell, Nicholis Louw en die mooie Jay was weer daar om te kom bekoor, maar dié keer is ons ook bederf met fluweelstemme soos dié van Kevin Leo en Elvis Blue.

“Ek het al SkouspelMinusse gedoen,” het Kevin agter die verhoog geskerts. “Maar dié is my eerste SkouspelPlus.”

Elvis Blue het toe gewys hoekom hy die Idols-kroon dra met sy hartroerende Seëngebed, ’n vertaalde weergawe van Nkosi Sikelel’ iAfrika. Hy het dit saam met Bobby, Heinz Winckler en Juanita gesing as deel van ’n spesiale huldeblyk aan Nelson Mandela.

En die Suid-Afrikaanse Jeugkoor se weergawe van die liedjie Briefie vir Madiba hierna was nog ’n sjoe-oomblik. So ook Nianell se Jou Stem saam met Romanz.

Ewe treffend was die deernisvolle huldeblyk aan ’n sanger wat diep spore in die musiekbedryf getrap het – ek glo wyle Lucas Maree sou gebars het van trots as hy Bobby en Brandon October se weergawe van sy  liedjie Droomvrou kon hoor.

En as jy nog wonder hoe Corlea Botha die mas sonder Rudi Claase sal opkom, bedaar tog net, asseblief. Dié donkerkop, wat intussen 15 kg verloor het, gaan nog groot hoogtes as solokunstenaar bereik.

In die pouse het mense hardop gewonder oor Theuns Jordaan se rietskraal lyf. “Ek het my geheimpies,” het hy gesê.

En ’n groot pluimpie aan wie ook al besluit het om Wicus van der Merwe vanjaar seremoniemeester te maak saam met Margit Meyer-Rödenbeck – hulle was ’n trefferkombinasie.

Maar daar was ook die eina-oomblikke agter die skerms. Die arme Kurt het homself byna disnis teen kabels vasgeloop en toe neergeslaan, maar steeds met bebloede bolip en al die verhoog betree.

En moenie dink dat twee gebreekte elmboë SkouspelPlus se regisseur en vervaardiger, Jannie Pretorius, kon onderkry nie.

Dié het tydens ’n repetisie agteruitgeloop en oor ’n stoel gestruikel, maar ’n paar kortisooninspuitings later was die man steeds sy ou streng self: “Sorteer dit uit; doen dat oor.” Soos die Engelse mos sê: The show must go on.

In die Huisgenoot van 31 Maart 2011 verskyn daar pragtige foto's van ons sprankel-aand. Moenie dit misloop nie!



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (2)


  1. Stephani
    2011/03/30 03:49:07 nm
    Rudi en Corlea is albei ewe wonderlik as individue. As jy nie van Corlea hou nie, is dit ook fine, maar moet haar asb nie oordeel nie Lika. Jy het sekerlik van haar gehou toe hulle tweetjies n duo was, hoekom haar nou so slegse?
  2. Lika
    2011/03/26 09:25:24
    Rudi was nou nie by skouspel nie maar hy gaan baie goed op sy eie aan het sopas min shaw se cd gekoop waarmee hy gehelp het en jy kan sommer sien dis n meerters hand wat daar teenwoordig was rudi het seker ook nie nodig om op elke tydskrif se vóorblad te verskyn sodat mense hom moet raak sien nie en vir n meisie van haar ouderdom om 15 kg te verloor en maar nog altyd vet lyk is vreeslik rudi gebruik die gawe wat jy van God ontvang het ons wag nog vir baie van jou en daar kom dalk weer iemand op jou pad wat dit nog beter kan doen sy dink sy is die enigste mens wat kan sing sterkte vir jou toekoms

Kopiereg © 2010 Media24. Alle regte voorbehou.