Ons eerste Helde Teen Misdaad-wedstryd, waartydens ons gewone Suid-Afrikaners vereer het wat iets doen om misdaad te bekamp, bly steeds ’n hoogtepunt by Huisgenoot.
Dalk onthou jy dit – die inspirerende stories van mense wat hul mede-burgers vreesloos in geweldsituasies te hulp gesnel het, of bende-oorloë in hul gemeenskappe beëindig het, of die groep kinders wat moontlik ’n plaasaanval gekeer het toe hulle weerlose oumense gewaarsku het daar’s misdadigers op pad. Daar was ook die man wat elke aand ’n berugte straat met net sy flits en hond gepatrolleer en minstens een vrou van verkragting gered het . . .
Helde Teen Misdaad was een van ons eerste inisiatiewe nadat ons in 2006 ons Saam Teen Misdaad-veldtog geloods het. Van die begin af was dit ons plan om die veldtog teen 2010 af te sluit, net voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi wanneer die wêreld se oë op ons gerig gaan wees.
Ons het ook geglo ons sou iets daadwerkliks kon doen om Suid-Afrika teen 2010 misdaadvry te maak. Misdaadvry is ons inderdaad nie, maar ons veldtog het wonderlike suksesse behaal.
Ons is verheug dat die kleinhandelgroep Checkers, wat destyds ons eerste wedstryd geborg het, weer ingestem het om 2010 se soektog na ons land se misdaadvegters saam met ons aan te pak.
Daarmee kan ons ons veldtog op ’n positiewe manier afsluit. Die wenners wen groot geld, maar daar is ook pryse vir lesers wat hulle benoem. Blaai sommer dadelik na bl. 20 en benoem iemand wat vir hul onselfsugtigheid en dapperheid vereer behoort te word. Ons sien uit om ’n hele klomp nuwe helde aan julle voor te stel!