Mense wat die bekendes se wel en wee volg – en kom ons erken nou maar dis die meeste van ons – is in twee groepe verdeel: dié wat mal is oor Brad en Angie en dié wat na die goeie ou dae van Brad en Jen verlang.
En noudat die Brangelina-skeiding feitlik al amptelik is, woed die katgeveg tussen die Angie- en die Jennifer-kamp selfs nog hewiger as tussen die twee sterre self sedert die nuus destyds bekend geword het dat die Hollywood-hartebreker Brad Pitt sy voorbeeldige vroutjie met ’n vrou verkul wat lyk of sy enige man vir brekfis kan opeet.
Helaas, jy hou nou ’n stukkie glansmens-geskiedenis in jou hande, ’n voorblad met die aankondiging wat baie gereken het onvermydelik is: Brangelina se paaie skei. Die afgelope vyf jaar het ons oor die hoogte- en laagtepunte van die verhouding tussen twee van die aantreklikste en invloedrykste mense ter wêreld geskryf. Hul glansryke lewe, fabelagtige rykdom, mag en sukses het ons geboei. En natuurlik hul oulike kroos van aangenome én biologiese kinders wat hul ál groter huishouding in skynbare sorgelose chaos gedompel het.
Noudat dit alles blykbaar verby is, sal Brad teruggaan na Jen toe? En saam met wie sal Angelina volgende in die bed spring? En hoe sal die kinders dit alles verwerk? Een ding is seker: Ons sal julle nog jare lank op die hoogte hou.
Gaan koop hierdie uitgawe van Huisgenoot, want daarmee saam kry jy ʼn spesiale Stork-resepteboek wat jy moet bewaar. In die loop van die jaar sal ons al die heerlike resepte publiseer wat daarin moet kom. Wees ook op die uitkyk vir die wonderlike wedstryde in hierdie uitgawe – sorg dat jy geen bladsy oorslaan nie!
- Esmare