Die jaar het skaars begin en so baie het al gebeur. Togo se sokkerspan is voor die begin van die Afrika-nasiesbeker-toernooi aangeval (lees ons storie op bladsy 22), ’n haai het ’n man in die see by Vishoek doodgebyt, ’n kragtige aardbewing het die eiland Haïti getref, snerpende winterweer het Europa lamgelê . . . en net voor ons ter perse gaan, het die gerugte sterker begin word dat Tiger Woods by ’n kliniek in Kaapstad vir sy seksverslawing behandel word. Ons het geweet 2010 gaan ’n dol jaar wees, maar as dit so aangaan, sal julle moet vasklou – dit gaan ’n rowwe rit wees!
Terwyl ons ’n ogie op al dié verwikkelinge gehou het, het ons soos altyd ’n uitgawe klaargemaak wat ons hoop iets vir almal bied. Die romanskrywer Marian Keyes se verhaal van depressie (bladsy 114) sal haar aanhangers boei – sy skryf dalk goeie chick-lit, maar daar is nie op die oomblik veel ligte stof in haar lewe nie.
Op bladsy 20 praat Sandra Laing, nou ’n ouma in haar 50’s, oor die rolprent wat onlangs oor haar lewe gemaak is. Sandra het oor die jare in Huisgenoot verskyn nadat sy in die apartheid-era met ’n donker vel uit wit ouers gebore is, en sy is die Suid-Afrikaner oor wie daar die onlangsste ’n rolprent gemaak is. Dit lyk asof ons deesdae heel boaan Hollywood se lys is!
Dan het ons ’n storie wat seker elke ouer se nagmerrie is: ’n Skrander, talentvolle 17-jarige meisie het uit die gesinswoning getrek nadat sy by ’n man van 41 betrokke geraak het. Haar rasende gesin is desperaat om haar terug te kry voor sy 18 word en kan doen wat sy wil. Lees op bladsy 12 van al die drama.