Oop huwelik – dis wat Joost van der Westhuizen en Amor Vittone glo het. Dus: ’n Huwelik waarin elkeen maar sy skelmpies mag hê.
Marilize van Emmenis, die vrou in die berugte Joost-seksvideo, beweer Joost het dit self vir haar vertel. Of dit so is, bly ’n ope vraag, hoewel Joost as getroude man volgens ’n gewese sportvrou wel seksuele verhoudings met haar en nog minstens drie ander vroue gehad het (Joost hét Amor verkul, 19 Maart 2009).
Die gedagte om met die seën van jou huweliksmaat buite-egtelike verhoudings te hê is vir baie skokkend. Maar dit begin in sekere kringe ál meer aanvaarbaar word.
Die Hollywood-ster Will Smith het verlede jaar gesê sy huwelik met Jada Pinkett-Smith is ná 11 jaar steeds gelukkig omdat hulle ’n oop verhouding het. ‘‘Ons aanvaar die onvermydelike, dat jy aangetrokke gaan wees tot ander. As dit gebeur, sê ons vir mekaar: ‘Kyk, ek het ’n behoefte om seks te hê met iemand anders, maar ek sal dit nie doen as jy dit nie goedkeur nie.’ ’’
Die Britse aktrise Tilda Swinton, in 2008 ’n Oscar-wenner as beste byspeler, het ook die oë laat rek toe sy met haar minnaar, Sandro Kopp, by glansgeleenthede opgedaag het. Sy is steeds betrokke by John Byrne, by wie sy twee kinders het, en John het op sy beurt ook ’n ander verhouding. ‘‘Ek is baie gelukkig,’’het sy onlangs gesê. ‘‘Dit verg buitengewone mans om so ’n situasie te laat werk.’’
Inderdaad – dis immers ’n situasie wat verreweg die meeste Suid-Afrikaners se hare in afgryse sal laat rys . . .