Dit is nie waar dat Joost van der Westhuizen nog nooit ontrou was aan sy vrou, Amor, nie. Sy weet, want sy was die ander vrou – of dan een van hulle.
‘‘Joost praat nie die waarheid wanneer hy sê hy het Amor nog nooit verkul nie. Ons was twee keer intiem nadat hulle getroud is. Een keer toe Amor swanger was met hul seuntjie, en toe weer so twee jaar gelede.’’
En dit sou meer as twee keer gewees het as die gewese Bok-kaptein – nou midde-in ’n yslike herrie oor ’n seksvideo waarin hy volhou hy nié verskyn nie – sy sin gekry het. Maar Nina Mason*, ’n Suid-Afrikaanse sportlegende uit eie reg, het nie goed gevoel daaroor nie.
‘‘Hy was ’n stoute blikskottel. Hy het my ander kere ook per SMS gekontak en gevra: ‘Wat maak jy? Kan ek jou sien?’, maar ek het dan altyd nee gesê, omdat ek skuldig gevoel het omdat hy getroud was. Toe ons een aand toevallig by dieselfde geselligheid was, het hy my later die nag ’n hele paar keer ge-SMS en gevra: ‘Waar is jy?’, want hy wou my weer sien. Amor was daardie aand saam met hom by die geselligheid.’’
Nina ken Joost al sedert 2001. Die elegante enkellopende vrou, wat ’n paar jaar ouer as Joost is, vertel reguit hoe haar speelse verhouding met die Bok-held ontvou het.
Ja, hulle hét intiem verkeer: terwyl hy besig was om van sy eerste vrou, Marlene, te skei, en ook nadat hy in Januarie 2003 met die sanger Amor Vittone getrou het, vertel sy sonder skroom in die restaurant in Pretoria waar ons vanmiddag gesels. En ja, dit was hy wat haar elke keer genader het; daar was geen sprake dat sy hom verlei het nie.
‘‘Ek besef wat ek gedoen het, was verkeerd. Maar ek praat nou eindelik oor wat tussen ons gebeur het, omdat Joost eenvoudig jok wanneer hy sê hy het Amor nog nooit verkul nie.”