Bure se gogga-gif eis byna mense

E-pos
Print
Cobus van Bosch en Madeleine Barnard en hul kat Millie.
Cobus van Bosch en Madeleine Barnard en hul kat Millie.

Van al die vrese wat Suid-Afrikaners daagliks koester, is om in jou slaap deur gifgas oorval te word, sekerlik die laaste.

Maar dis presies wat met ’n kunstenaarspaartjie van Kaapstad gebeur het – en was dit nie vir hul kat nie, het hulle dit dalk nie oorleef nie.

Madeleine Barnard en Cobus van Bosch is steeds oorbluf oor wat daardie nag in Januarie gebeur het. ’n Foto van Grietjie, ’n tenger bont katjie wat weens die giftige gas gesterf het, het nou ’n ereplek in hul slaapkamer.

So drie-uur die oggend het Madeleine en Cobus wakker geword van wat hulle gedink het simptome was van maaggriep.

Madeleine se maag was omgekrap, haar keel het gebrand en haar kakebeen was stokstyf. Cobus was baie naar en het onophoudelik opgegooi.

“Ons het gewonder of daar dalk fout was met die hoender wat ons die aand geëet het,” vertel Madeleine.

Maar toe sy vieruur wakker skrik van geluide onder haar bed en ontdek Grietjie is besig om stuiptrekkings te kry, het sy besef daar is fout.

Grietjie het op haar sy gelê en vlak asemgehaal, en hulle het met haar na ’n noodveearts gejaag. “Op pad na die kliniek het sy opgegooi, soos ’n besetene geworstel en geskree van die pyn.”

Daar aangekom, het haar lyfie slap geword in Madeleine se hande en is sy dood nog voor die veearts kon help. Eers toe het dit haar soos ’n weerligstraal getref: Dit moet iets te doen hê met die plaagbestrydingsmaatskappy wat die vorige dag die skakelhuis langs hulle berook het...

Tot daardie dag het hulle nog nooit van metielbromied, ’n reuklose, kleurlose gifgas wat algemeen gebruik word om houtkewers en termiete te beheer, gehoor nie.

In die dae ná die nagmerrie-ervaring het hulle agtergekom die plaagbestrydingsmaatskappy het etlike foute begaan.

Metielbromied is ’n dodelike gas wat net deur geregistreerde operateurs gebruik mag word en onder baie streng voorwaardes. So moet inwoners byvoorbeeld hul huis vir 72 uur ontruim nadat hul blyplek berook is.

Hulle is wel ingelig dat die huis die een of ander tyd berook sou word voor die nuwe mense daar intrek, maar die maatskappy moes hulle formeel in kennis stel wanneer dit sou gebeur en dat hulle hul perseel moes ontruim, en hulle het nie.

Hulle het ook nie, soos die wet vereis, waarskuwingsborde op die aangrensende persele aangebring nie. En hulle het nie vooraf ondersoek ingestel oor hoe die bure geraak sou word nie.

Nadat Grietjie dood is, het hulle teruggejaag huis toe om ook hul ander kat, Millie, na die veearts te neem. Sy het ook stuiptrekkings gekry, maar sy was groter as Grietjie en kon gered word.

Cobus vertel sy brein was so benewel van die gifstof dat hy aan die verkeerde kant van die pad gery het en by die kliniek nie sy bankkaart se geheime kode kon onthou nie.

Lees die volledige artikel in die 11 Maart-uitgawe van Huisgenoot



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (11)


  1. Liz Minnaar
    2010/03/15 09:53:04 nm
    Skokkend!
  2. Lesna Saayman
    2010/03/10 12:05:04 nm
    Toe ek die artikel lees, was dit of ek my eie nagmerrie van vooraf beleef. Laas jaar het hulle by ons probeer inbreek en het die sogenaamde "Two Step" gif in die buurman se erf gegooi. Ongelukkig het van die gif per ongeluk agtergebly en my kat het drie weke later van dit ingekry en dood gegaan. Is nie heeltemal dieselfde situasie as in die tydskrif is nie, maar ook moes 'n arme dier sterf oor mense se dade.
    Ek wens strenger maatreëls kan toegepas word by gifstowwe, want dit is 'n probleem. Hoeveel onskuldige diere en ook mense, soos in die artikel, moet nog iets oorkom voor iets drasties gedoen word omtrent gifstowwe?
  3. stella
    2010/03/10 11:52:44
    Mense moet wegbeweeg van gif vir bestryding van þeste. Daar is alternatiewe maniere.
  4. Michelle
    2010/03/10 09:22:05
    Dis verbysterend... Hoe kan mens so agterlosig wees. Hierdie is "professsionele" mense waarmee ons ons lewens en veiligheid moet vertrou. 'n Mens wil 'n veilige leefomgewing skep deur plae te bestry, maar mens wil nie so 'n risiko loop nie. My seuntjie is self maar baie klein en ons het ook 'n troeteldier vir wie ek baie lief is. Ek is altyd bang as daar gif in die omgewing gespuit word, dat dit ons dalk nadelig kan raak...
  5. Izalda
    2010/03/10 08:20:44
    Ek is vreeslik bekommerd. Ons het 2 weke gelede Saterdag en Sondag ons nuwe huis ge"fumigate" want daar is net kokkerotte. Verlede Donderdag het 'n Professionele Maatskappy weer kom "fumigate". Ons spuit gereeld Raid Doom om ontslae te raak van die kokkerotte en sedert verlede week hoes my 3 jarige en ek verskriklik en ek wil net slaap - by die werk, in die kar, maak nie saak waar ek is nie. Kan dit wees van die gif?
  6. brenda karsten
    2010/03/10 08:15:19
    dit is erg shoe daai maatskappy moet gesluit word dis onverantwoordelik van hulle om nie die bure in kennis te stel nie..... maar daar moet seker mense dood gaan voor daar ingetree word, wat as daai mense `n baba gehad het hoe kan `n baba dit veg........nee wat die mense moet ophou aan hul sak dink en meer aan hul medemens........
  7. San Stols
    2010/03/08 02:29:54 nm
    Dis skokkend. Op watter maniere kan 'n mens met hierdie gas vergif raak? Die simptome lyk soos normale 'gif' simptome.
  8. Georg Murray
    2010/03/08 12:05:25 nm
    Hierdie maatskappye behoort gesluit te word. Skandalig.
  9. bkuhn@telkomsa.net
    2010/03/07 07:22:28 nm
    dit was onverantwoordelik en nalatigheid van die maatskappy hulle moet beboet word en hulle deure sluit en aangekla word van strafbare manslag
  10. Anso
    2010/03/05 01:23:13 nm
    Kan dit nie glo nie. Laat weet asb die maatskappy se naam sodat ons hulle nooit gebruik nie!
  11. kryska
    2010/03/05 01:11:18 nm
    sjo dit is erg skoon vreesbevange