Dekades lank het alles reg geloop, altyd reg, soos die gewilde slagspreuk van Toyota gelui het.
Sommer klopdisselboom, want die destydse Japannese wintie wat eers lank ná Ford en GM begin het om die wiele te laat rol was in 2008 ná 73 jaar uiteindelik die wêreld se grootste motorvervaardiger.
Maar die afgelope ruk het dinge begin skeefloop vir Akio Toyoda, kleinseun van die Toyota-stigter, en sy uitgebreide motorfamilie. Veral in Amerika, die hartland van die Detroit-drie, Ford, GM en Chrysler.. ook ’n land waar prokureurs pal op die loer lê vir multinasionale reuse wat kan doen sonder ’n miljoen – of 50.
Berigte oor petrolpedale wat sou vassteek en motors laat versnel, het vir die eerste keer krakies in die motorreus se super-betroubare beeld laat verskyn. So ook klagtes oor die remme in die nuutste model van die Prius.
Toyota het miljoene motors in veral Amerika herroep om die saak uit te pluis. En nou het Toyota Suid-Afrika besluit om liewer versigtig te wees...
Al die ongunstige publisiteit van die afgelope ruk het mnr. Toyoda-hulle so diep gekwets dat hy vandeesmaand, met ootmoedige buiging en al, verskoning gevra het vir enige onsekerheid wat klante dalk ervaar.
Maar skort daar regtig iets met die motorreus wat so lank al die standaard stel vir betroubaarheid en gehalte? Wat is aan die gang, en hoe raak dit ons?
Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 25 Februarie 2010.