Topmotors van 2011: Vyf van die bestes!

E-pos
Print

Sjoe, die motorvervaardigers was vanjaar op hul stukke! En dit lyk asof hulle net ál meer mededingend raak, want die meeste van die nuwe modelle raak net ál beter.

Deesdae is dit amper moeilik om ’n slegte voertuig te vind omdat die kompetisie net strawwer raak. ’n Vervaardiger se reputasie word deesdae dus eintlik meer op naverkoopdiens en betroubaarheid beoordeel.


Buiten die feit dat motorpryse altyd ’n tameletjie is, is verbruikers ten opsigte van verskeidenheid aan die wenkant. Boonop lyk dit darem asof handelaarsnetwerke ook hul sokkies optrek met diens, want die Verbruikerswet bied nou meer beskerming aan motorkopers.

Hoewel ons beïndruk is met soveel nuwe modelle, is daar vyf motors wat vanjaar veral uitgestaan het: die Hyundai Elantra, Kia Picanto, Volkswagen Jetta, Ford Focus en Chevrolet Orlando.

Hyundai Elantra
Minder as ’n dekade gelede was die voorkeur-sedanmotor vir Suid-Afrikaners die Toyota Corolla. Vandag is dit nie meer so nie, want daar is talle waardige mededingers wat ook ’n “veilige” kopie is.

Die nuwe geslag Elantra is so ’n ryding. Wat veral in sy guns tel, is sy elegante voorkoms – daar is immers nie ’n mooier motor in sy klas nie. Dan is daar natuurlik sy prys. Dit beïndruk verder met ’n rits geriefskenmerke wat standaard is. Boonop het dit Hyundai se toonaangewende vyfjaar-fabriekswaarborg.
Prys van R192 900

Kia Picanto
Die vorige Kia Picanto is dikwels deur kopers in die intreevlaksegment geïgnoreer, want dit was eintlik ’n baie bevoegde brood-en-botter-motortjie. Maar met die nuwe geslag Picanto maak die Koreaanse vervaardiger seker die model word nie misgekyk nie.

Die Picanto spog met ’n parmantige voorkoms en is boonop goed toegerus. As jy minder as R120 000 aan ’n motor wil bestee, moet jy die Picanto oorweeg.
Prys van R99 995


Volkswagen Jetta
Volkswagen se sesde geslag Jetta is ruimer, luukser en tegnologies meer gevorderd as sy voorganger, maar ook amper beter in alle aspekte as sy mededingers. Verder spog die Jetta met moderne enjins en puik ratkaste. Die Jetta se voorkoms is wel konserwatief, maar dit pas die motor se beeld as ’n sinvolle ryding.

Binnelangs is die Jetta netjies afgewerk en alles baie doeltreffend en minimalisties. Nie meer net ’n Golf met ’n kattebak nie.
Prys van R222 000

Ford Focus
Die C-motorsegment waarin die Ford Focus meeding, is die strafste in die bedryf. Dis immers die segment waarin baie vervaardigers hul geld maak – wat beteken as jy in dié veld speel, moet jy uithaal en wys. En dit is presies wat die nuwe Focus doen. Nie dat die vorige modelreeks sleg was nie; sy plaasvervanger is net soveel beter en het die regte gene om sy aartsvyand, die VW Golf, aan te vat.

Met sy opwindende maar stylvolle voorkoms trek die Focus aandag en sy ritgehalte is indrukwekkend. Met sy unieke identiteit het die Focus die kenmerke van ’n klasleier.
Prys van R211 530


Chevrolet Orlando
Gesinsbussies het meestal maar ’n sagte voorkoms, maar Chevrolet het besluit om sy veeldoelvoertuig, die Orlando, ’n aggressiewer ontwerp te gee. Hierdie sewesitplek-ryding is ’n belangrike model vir General Motors, want saam met ander hedendaagse Chevs soos die Cruze en Sonic moet dit ’n volumeverkoper word.

Die Orlando se passasierskajuit is baie ruim en gemaklik, en daar is meer as genoeg geriefsfoefies. Wat ook beïndruk, is dat dit voel asof die motor gebou is om te hou. Dit voel asof jy hom jare lank met ’n geruste hart kan bestuur.
Prys van R258 220

Volg Huisgenoot op Twitter.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (2)


Kopiereg © 2010 Media24. Alle regte voorbehou.