Nou goed dan, hy’s nie regtig so aanskoulik dat hy die verkeer tot stilstand gebring het nie, maar het tog ’n klomp bewonderende kyke gekry toe hy in ons besit was. Ja, die XC60 is so skerp en kordaat gestileer dat hy Audi se Q5 skoon plomp laat lyk. En sy vermoë om homself te stop? Dit verwys na Volvo se ongelooflike City Safe-tegnologie wat die pad voor die motor in stadsverkeer monitor en vir jou rem as jy te stadig of glad nie rem trap nie. By die bekendstelling in Durbanville het Volvo se mense ons aangemoedig om in ’n stilstaande (opblaas-)Golf vas te ry. Dit was óf baie moeilik óf onmoontlik. Wanneer ons dit wél reggekry het, was dit met aansienlik minder impak as wat dit sonder dié stelsel sou gewees het. ‘‘Navorsing wys dat 75 persent van alle aangemelde ongelukke teen snelhede laer as 30 km/h plaasvind,’’ sê Volvo. ‘‘In 50 persent van gevalle waarin ’n motor ’n ander een voor hom tref, het die bestuurder glad nie gerem nie, hoofsaaklik omdat sy aandag verdeel was.”
City Safe kan die XC60 se spoed ook teen hoofwegsnelhede verminder – ’n groot voordeel in SA waar baie voertuie snags ry met stukkende agterligte.
Volvo “besit” die konsep van veiligheid in verbruikers se koppe, dikwels ten koste van ander handelsmerke wat net so veilig is. Maar in die XC60 het Volvo dalk net die veiligste ryding van alle tye geskep. En ’n vrek mooi een ook.