Dis dalk nie die mooiste Toyota op die pad nie, maar net omdat die nuwe Innova nie iets vir die oog is nie, beteken dit nie dit moet geïgnoreer word nie. Allermins!
Hierdie Toyota-nuweling met sy vreemde naam is ’n bekostigbare mensedraer met plek vir tot agt mense. Net soos sy kleinboet, die Avanza, is hy op die man af – dit is ’n voertuig met baie plek, ’n bekostigbare prys en (dalk) gebou om te hou.
Daar is twee weergawes, ’n goedkoper agtsitplekmodel en ’n luukser model met plek vir sewe passasiers.
Die sewesitplekmodel het individuele “kaptein”-sitplekke in die middelste ry wat onafhanklik vorentoe en agtertoe kan skuif en kantel, terwyl die agtsitplekmodel ’n banksitplek in die middelste ry het. Die middelste sitplekke kan platgevou en vorentoe gekantel word, terwyl die derde ry sitplekke op soortgelyke wyse as dié van die Fortuner na die kante toe weggevou kan word.
Die Innova-weergawes het albei al die gewone geriefsfoefies soos ’n aanboordrekenaar, kontroles vir die klankstelsel aan die stuurwiel en lugversorging. Die sewesitplekmodel het ook ’n truratkamera.
Albei weergawes het twee lugsakke en sitplekgordels vir al die insittendes. Die voertuig het ook sluitweerremme (ABS).
Onder die enjinkap is ’n 2,7 L-viersilinder-petrolenjin wat 118 kW en 241 Nm lewer.
Die Innova se sewe- en agtsitplek-weergawe is albei uitstekende waarde vir geld. Hoewel Toyota nie enige pryse vir ontwerp vir die Innova sal kry nie, moet ’n mens glad nie hierdie bussie op sy vaal baadjie takseer nie.
DIE INNOVA-REEKS
Sewesitplek: R249 700
Agtsitplek: R265 500
UITSPRAAK Nie net waarde vir geld nie, maar ook gesinsvriendelik
Volg Huisgenoot op Twitter.