Limokewer vir 2010

  •  
  • 1
     Hou van
  •  
  • 4
     Hou nie van nie

 

Dit het dalk nie blitsige spoed, ongeëwenaarde werkverrigting, ’n enjin so groot soos ’n olifant of die spoggerige goeters wat party motors laat uitstaan nie. Maar dié ryding lok bewonderende blikke uit – en dis maklik om te sien waarom.

Die ou VW Kewer wat voorheen op ’n skrootwerf lê en roes het, is verbeter, gerek, herbou en tot die Bafana Bafana Limousine herdoop. En die drie vriende wat vir dié merkwaardige transformasie gesorg het, is so trots op hul handewerk soos ’n ou wat pas pa geword het.

Die motor is iets om te aanskou. Dit het ’n groot veselglas-sokkerbal vir ’n dak, die vensters is in die vorm van die oorgroot donkerbrille wat sokkeraanhangers by hul makarapas – daardie oordadig versierde helms – dra, en die sitplekke van ’n swart leermengsel is vrolik met vuvuzela- en sokkerbalpatrone versier. Dit het ’n alarm, elektriese vensters, ’n sentrale sluitstelsel, ’n musiekstelsel en gemaklike sitplek vir ses mense.

Die base van die Kewer sê dis dié reis-opsie vir sokkeraanhangers en mense sal dit gedurende die Wêreldbeker-sokkertoernooi kan huur om gees te vang. Nou is die drie by New Electrical and Panelbeating se werkwinkel in East Lynne, Pretoria – die paneelkloppers Tinashe Zovono (25) en Wellington Mugocha (24) en motorelektrisiën Wynand Viljoen (48) – besig om hul limo met ’n LCD TV-skerm en mini-kroeg toe te rus.

“Ek en my vriende is dol oor sokker en stoere ondersteuners van Bafana. Toe vra ons onsself af: ‘Hoe kan ons wys hoe gek ons oor ons span is?’ ” vertel Wellington. Hulle het idees begin uitruil en op die ou end begin praat oor wat hulle kan doen met die ou Kewer wat buite die werkwinkel staan en vergaan het. Wynand het die skedonk vir R1 200 gekoop om dit vir onderdele uitmekaar te haal, en teen daardie tyd was dit nie veel meer as ’n dop sonder enjin, vensters of deure nie.

As hulle met die binneruim klaar is, sal dit soos ’n nagklub lyk, sê hulle. Die drietal het al op nasionale TV verskyn en hulle doen fluks sake danksy die Bafana Limo.

Lees meer hieroor in Huisgenoot van 4 Februarie.


Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (2)


  1. PG

    henisharley17 days ago

    wys bietjie n foto sonder dat die ouens dat mens meer kan sien
  2. PG

    Leo1 month ago

    Hulle moet op pimp your ride verskyn!
Bladsy 1 van 1


Jou naam: Jou e-posadres:
  1. PG

Kopiereg © 2010 Media24. Alle regte voorbehou. Built by Blueworld Communities