“MOENIE krap waar dit nie jeuk nie,” is ’n goeie benadering. Moeder Natuur het dit nougeset gevolg met die evolusie van die krokodil en sy nefie, die kaaiman, wat nouliks verwant is aan die alligator, maar wat ratser is en skerper tande het, sê Wikipedia.com. Dié reptiele se ontwerp is so suksesvol dat dit oor miljoene jare net effens verander het.
Porsche het wel veranderinge aan die Cayman aangebring, maar die basiese wenresep is behou. Die belangrikste van die veranderings wat wel aangebring is, is aan die enjins wat nou kragtiger maar ook suiniger as tevore is.
Porsche het ook begin om die "persoonlikhede" van die lapdak-Boxster en hardedak-Cayman verder van mekaar te onderskei. Dié twee se enjins is byna identies, maar die Boxster se 2,9 L-kragbron ontwikkel 188 kW terwyl die Cayman s’n 195 kW ontwikkel. As ons na die warmer S-modelle kyk, sien ons dat die Boxster S se 3,4 L-enjin ’n maksimum van 228 kW uitstoot teenoor die Cayman S se 235 kW.
Nie dat ons veel tussen die twee kon onderskei by die bekendstelling in KwaZulu-Natal nie. Die klein verskil is waarskynlik net ’n geleentheid vir Porsche om die Cayman se hoër prys te regverdig en om Boxster-bestuurders so effens jaloers te laat voel. Nog ’n ding wat ons agtergekom het, is hoe lig die Cayman op petrol was, veral die S-model van 3,4 L. Selfs ná ’n genadelose rysessie het sy ritrekenaar ’n verbruiksyfer van slegs 13,8 L/100 km gewys.
Dalk is die grootste nuus egter dat kopers voortaan ’n Cayman (of Boxster) met Porsche se dubbelkoppelaar-ratkas (PDK) kan bestel. Dis allesbehalwe ’n splinternuwe konsep, maar dit bly slim. Dit beteken dat die ratkas reeds die volgende rat gekies het terwyl dit nog in die vorige rat is – dus wag tweede klaar vir jou as jy in eerste is, derde as jy in tweede is – heelpad tot by sewende rat. En omdat die volgende rat klaar deur ’n tweede koppelaar gehaak is, vind ratskakelings seepglad en blitsvinnig plaas. Trouens, volgens Porsche sal dié ratkas ’n gemiddelde bestuurder toelaat om omtrent 0,1 sekonde vinniger te versnel as wat ’n professionele renjaer tydens ’n 0-100 km/h-versnellopie in ’n handrat-Cayman sou doen.
Daar is ook nou ekstra geriefskenmerke soos die sogenaamde Start-off Assistant. Nee, dis nie ’n ingeboude afsitpistool of Minki in ’n sjoebroekie met ’n wapperende sakdoek nie – dit voorkom eenvoudig dat die motor nie agteruit rol wanneer jy bult-op wegtrek nie.
Dan is daar ook nuut ontwerpte bande wat ’n sagter rit verseker, maar dieselfde sportiewe hantering as tevore bied. Onder die opsionele ekstras is waaiers wat by die sitplekke ingebou is “met die sitplekbasis wat op presies die regte plekke geventileer word waar dit met die passasier kontak maak”, sê Porsche.
Jy sal waarskynlik teleurgesteld wees as jy verwag het die nuwe Porsche Cayman is ’n reuse verbetering op sy voorganger. Want in die geval van die Cayman sou dit bloot onnodig gewees het.