Groen, groener, groenste?

Die Toyota Prius
Die Toyota Prius

Die wêreld se gewildste TV-motorprogram, Top Gear, het in 2008 ’n episode uitgesaai waarin hulle ’n BMW M3, ’n hoëverrigting-sportsedan met ’n dorstige V8-enjin van 4 L, en die eko-vriendelike Toyota Prius met ’n 1,5 L-petrol-elektriese enjin terselfdertyd op dieselfde baan teen dieselfde snelheid laat ry het.

Die doel van die toets was om te bewys dat sogenaamde groen motors – juis soos die Prius – se bydrae tot brandstofbesparing ’n mite is.

Die uitslag, soos ’n mens van Jeremy Clarkson en sy mede-motormaltrappe kan verwag, was dat die BMW minder brandstof as die Toyota verbruik het. Ter viering van die ondenkbare het petrolkoppe wêreldwyd die vonkelwyn nader gesleep en die skokuitslag luidkeels en herhaaldelik op die internet verkondig.

Maar die groen-kamp het skaars ’n oog geknip. Al wat die belaglike toets bewys het, het hulle teruggekap, is dat hoe jy jou motor bestuur ’n aansienlike uitwerking op die brandstofverbruik het. En as jy die omgewing en jou beursie wil red, is die Prius steeds die aangewese motor.

Of is dit? Naas Lexus se GS-sedan en RX-sportnutsvoertuig (wat fokus op verrigting eerder as omgewingsvriendelikheid) is die Toyota Prius die enigste hibried-motor wat tans in Suid-Afrika verkoop word. Wanneer ’n motor hibried-aandrywing het, beteken dit hy word deur ’n kombinasie van twee kragbronne (’n petrol- sowel as ’n batteryaangedrewe elektriese
enjin in die Prius se geval) aan-gedryf.

Teen lae snelhede word slegs sy elektriese motor ingespan, en wanneer daar gerem word, word die battery deur die voertuig se bewegingsenergie gelaai. Dít alles dra by tot groter brandstofbesparing en minder uitlaatgasse wat skadelik vir die omgewing is.

Maar ’n motor se werklike groen-telling begin en eindig nie by sy uitlaatpyp nie. Daar moet gekyk word na hoe hy gebou word en die materiale wat ontgin moet word, die vervoer daarvan en hoeveel daarvan herwin kan word as die motor die einde van sy pad bereik. En dis hier waar die Prius baie van sy groen punte verloor.

Die myn van die nikkel in Kanada wat vir die Prius se battery gebruik word, het ’n verwoestende omgewingsimpak soos gronderosie, en die gepaardgaande lugbesoedeling en suurreën het die omliggende gebied in ’n maandlandskap om-skep.

Die res van die materiale waarvan die Toyota gebou word, kom van oor die hele wêreld en word vervoer met vervoermiddels wat afhanklik is van fossielbrandstowwe (tradisioneel ont-ginde brandstowwe soos olie en steenkool). En dis juis hierdie skadelike uitlaatgasse wat die Prius veronderstel is om te verminder.

Verder is batterye swaar en ’n motor soos die Prius weeg gemiddeld 10 persent meer as sy petrol-eweknieë. Sy elektriese
enjin dra by tot brandstofbesparing, maar die battery se gewig skakel in ’n groot mate die voordele daarvan uit, want die petrol-enjin moet harder werk om die ekstra gewig saam te sleep. ’n Kleiner en ligter motor kan net so suinig met die sous wees.

Jy hoef ook nie meer ’n Prius te koop om groen te wees nie.

Vir die volledige artikel, koop dit Huisgenoot van 18 Februarie.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (2)


  1. Philip
    2010/02/19 11:27:45
    Die werklike voordeel van iets soos 'n Prius kom in wanneer jy in die verkeer moet ry. Dan gebruik hy heelwat minder brandstof as enige ander motor.
  2. Brenice Mentz
    2010/02/14 08:16:54 nm
    Interessant!
Jou naam: Jou e-posadres:

Kopiereg © 2010 Media24. Alle regte voorbehou. Built by Blueworld Communities