Ons vra by voorbaat om verskoning vir die menige verwysings na die Mini Cooper.
En dis nie net omdat die Citroën DS3 twee Mini-enjins gebruik nie – die normaal geaspireerde 1,6 liter 88 kW-kragbron wat in die basismodel gebruik word sowel as die turboaangejaagde eenheid wat 13 kW minder as die Cooper S se 128 kW lewer. Hy het ook twee deure, bied ’n rits verpersoonlikingsopsies én spreek tot snipperige, stylbewuste stadsluipers.
Die nuwe C3-gebaseerde DS3 bepaal ’n nuwe rigting vir dié Franse motorvervaardiger. Citroëns vantevore ten beste as vreemde keuses beskryf word en sou jy na ’n skroewedraaier gryp as jy gehoor het hulle wil die magtige Mini aanvat.
En tog bied die DS3 meer as die Mini op papier en in die praktyk. Hier en daar ’n bietjie minder ook.
Om mee te begin, laat die DS3 die Mini stokoud lyk. Citroën dring aan dat die DS3 “anti-retro” is. Dit werk. Mini (en die Porsche 911) se ontwerpers is vir ewig belas met die probleem van om watter flikkerlens of kurf te verander en dit dan elke drie jaar as ’n splinternuwe motor bekendstel.
Die DS3 lyk fantasties futuristies en sy haaivinagtige pseudo b-pilaar is die hoogtepunt van die syprofiel. Van voor beskou is hy aggressief sonder om oordadig te wees maar agter… dalk wou die ontwerpers net nie hulle etensuur mis toe hulle hom begin teken het nie. Citroën 1-Mini 0.
Die binneruim steun swaar op die nuwe C3 s’n, maar die Citroën se effens generiese voorkoms betower nie so baie soos die Mini se premium-ene nie.
DS3-kopers het darem die keuse om hulle motors net soos die Mini te verpersoonlik en kan kies uit sewe verskillende kleure vir die instrumentpaneel, verskeie kleurskakerings van die rathefboom- en sierwiele en selfs tatoëermerke wat op die dak aangebring word.
Waar die Citroën se binnekant die bal effens misslaan, moker hy hom reg met ruimte. Anders as die Mini is die agterbank bruikbaar vir meer as net wegneemete-pakkies en volwassenes sou dit selfs kon vir kort ritte kon oorweeg. Sy kattebak is buitendien ook groter: mooi so, Citroën.
Op die oop pad beïndruk die DS3 jou steeds meer. Tot by ’n punt, in elk geval. Die Franse is veringsfundi’s en danksy sy lang(er) veerslag ry die DS3 gemakliker as die stamperige Mini. Maar hierdie gemak kom met ’n voorwaarde: Jy boet dinamiese skerpheid in en daar’s meer bakrol om die draaie wanneer jy aanstoot.
’n Mens is ervaar ook dinamiese tekortkoming op ander plekke. Die DS3 versnel nie so lekker en is die afstand wat die rathefboom moet beweeg tussen die hekke nie so lekker kort soos die Mini s’n nie. As jy ’n vlymskerp stuurgevoel en ’n intuitiewe ry-ervaring soek, is die Mini vir jou. As jy gerief bo verrigting verkies, is die DS3 jou keuse. Maar wat dinamika betref, klop die Mini die DS3. Die Citroën wen weer die prysstryd. Hy kos R255 000 teenoor die verouderende Mini se R280 000.
Hoe jy ookal daarna kyk, word die Mini deur ’n formidabele teenstander in die oë gestaar. Veral as DS3-kopers nie noodwendig die Mini se skalpelagtige hantering soek nie. Maar so goeie motor soos wat die Mini is, is hy nie die beste blitsbuks beskikbaar nie. Daardie eer behoort aan sommige van Renault se motors. Jy kan dus die Mini aanskaf, maar weet net dat dit nie die warmste of gemaklikste of ruimste in sy segment is nie.
Of jy kan net ’n koop.
Model: Citroën DS3 1.6 THP Sport, handrat
PRYS: R255 000
ENJIN: 1,6 liter turboaangejaagde viersilinder petrol; 115 kW, 240 Nm
VERRIGTING: 0-100 km/h in 7,3 sekondes; topsnelheid 214 km/h; 6,7 liter/100 km
UITSPRAAK: Pasop, Mini