Toe hy twee jaar gelede verskyn het, het dit vir die tweedeur-S3 net so lank gevat om die kantoor se gunsteling te word soos wat hierdie vuurpyl tot by 100 km/h versnel. Die Audi bied ’n duiselingwekkende kombinasie van spoed, styl en onderskatte sofistikasie. En ons kan getuig van sy supersoniese spoed, want die skrywer van hierdie artikel moes juis in die hof verskyn danksy ’n oortredinkie in ’n 60 km/h-sone.
En nou het Audi duisende huwelike wêreldwyd gered deur die S3 nog twee deure in sy Sportback-vorm te gee. Twee deure is moeilik om te regverdig as jy inkopiesakke en ’n paar spruite moet inlaai, maar voortaan het Ma ook ’n geloofwaardige rede om vir die Audi se sleutels te vra.
Nie dat Pa dit sommerso gaan gee nie – die S3 is soos ’n minnares in ’n snyerspakkie. Hy bied kougomagtige kloukrag en sy spoed kielie die klankgrens. Hy is nie goedkoop nie, maar die Audi bly een van die beste motors wat jy kan koop. Wees net versigtig vir daardie lys ekstra opsies, want jy kan maklik R50 000 ekstra by die prys voeg. Aan die ander kant is dit nog steeds goedkoper as ’n egskeiding nadat julle een keer te veel gestry het oor wie die S3 oor die naweek moet ry.
ENJIN 2 L, turboaangejaagde viersilinder-petrol, 188 kW, 350 Nm
VERRIGTING 0-100 km/h in 5,8 sek., topsnelheid 250 km/h
BRANDSTOFVERBRUIK (GEMIDDELD) 8,5 L/100 km (11,76 km/L)
PRYS R388 000
NAVERKOPE eenjaar-/onbeperkte-kilometer-waarborg en vyfjaar-onderhoudsplan
UITSPRAAK Hy behoort saam met ’n huweliksberader verkoop te word
OORWEEG OOK Subaru Impreza WRX, om ontrou te wees maar nie uitgevang te word nie