Lang stewels: Die oor-die-knie-stewel is ’n moet vir die winter. Dit skep ’n lang, lenige silhoeët. Versterk die voorkoms deur dieselfde kleur kouse as dié van jou stewels te dra, of ’n noupyp-langbroek in ’n soortgelyke skakering daarby in te steek. “Swart is die beste kleur vir dié voorkoms,” sê Sanet Niehaus, aankoopdirekteur van Queue Shoes. Kies versigtig, want dit sal een van jou duurder kopies wees. Plat stewels is waarskynlik die verstandigste keuse.
Manhaftig: Laat die rabbedoe in jou na vore kom! Al is dit ’n androgene voorkoms met manlike stilering, is dit belangrik dat die snit ook jou vroulike kurwes beklemtoon. Sleutel-elemente is hoë krae, valle, strikke, onderbaadjies en getailleerde frokkies, geaksentueerde middels en borsspelde.
Kamma-pels:Laat die komende winter die koppe draai met kunspels. As lang of kort baadjie verleen dit aan enige uitrusting glans – effekleurig of met diervelmotief. Dra dit saam met ’n jeans-spanbroek, noupyplangbroek of stywe leerbroek en versierde hoëhakskoene wat ’n stelling maak.
Lees meer in die Huisgenoot van 7 Januarie 2010.
Stem jy saam? Of wat dink jy moet mens aantrek in 2010. Deel jou opinie in die kommentaarveld hieronder.