Lewer 1 middelslagkoek
Bereiding: 7 minute
Baktyd: 6-7 minute
Dié maklike mikrogolfoondkoek word met mayonnaise gemaak en nie met olie of margarien nie. Mev. M.M. Lean van Ifafa in Kwa-Zulu-Natal het die resep vir ons gestuur.
KOEK
2 ekstragroot eiers
250 ml (1 k) suiker
15 ml (1 e) mayonnaise
500 ml (2 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
knippie sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
250 ml (1 k) kookwater
1 blikkie (115 g) grenadellamoes
VERSIERSEL
100 g (1 plak) wit sjokolade, in
blokkies gebreek
25 ml (5 t) grenadellamoes
Voer die boom van ’n mikrogolfringpan uit met kombuispapier.
KOEK
Klits die eiers, suiker en mayonnaise goed saam. Sif die droë bestanddele saam en roer dit en die vanieljegeursel by die eiermengsel in. Voeg die kookwater en grenadellamoes by en meng goed. Giet die mengsel in die voorbereide pan en mikrogolf 6-7 minute by hoog of tot die koek net-net begin wegtrek van die kante en terugwip as jy liggies met jou vinger daarop druk. Laat die koek in die pan afkoel en keer uit op ’n koekbord.
VERSIERSEL
Smelt die sjokolade in die mikrogolfoond en roer die grenadellamoes by. Skep oor die koek.
WEN!
Tien gelukkige lesers kan Huisgenoot se splinternuwe Bakboek wen. Dit is omvattend, prakties en bruikbaar, net reg vir Suid-Afrikaners, met meer as 230 flatervrye resepte, van tradisioneel tot nuut en innoverend met ’n hele afsonderlike hoofstuk oor versiersels en vulsels, wenke en variasies, asook ’n professionele gids tot die bestanddele en toerusting wat nodig is vir suksesvol bak. Dis beskikbaar by vooraanstaande boekwinkels teen R250.
SMS die woord RESEP voor 29 Julie om 17:00 na 34922 om in aanmerking te kom. Hou ook Huisgenoot dop vir ’n spesiale aanbod op hierdie boek.