Olivia Groenewald van Cloetesville op Stellenbosch het haar spesiale resep vir ons deurgestuur.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 minute
Gaarmaaktyd: 15 minute
HOENDERROLLETJIES
6 ontbeende en ontvelde hoenderborsies
15 ml (1 e) botter of olie
30 ml (2 e) dennepitte
100 g spinasie, ontstingel en fyn gekap
’n knippie neutmuskaat
sout en peper
125 ml (½ k) vars broodkrummels
1 wiel fetakaas, gekrummel
hoenderaftreksel om in te kook
olie om in te braai
SOUS
30 ml (2 e) olyfolie
1 ui, fyn gekap
3 knoffelhuisies, gekneus
100 ml witwyn of hoenderafteksel
100 ml natuurlike jogurt
15 ml (1 e) gekapte grasuie
5 ml (1 t) Dijon-mosterd
’n knippie suiker
sout en vars gemaalde swartpeper
ROLLETJIES
Plaas die hoenderborsies op ’n werkoppervlak, plaas ’n vel kleefplastiek bo-oor en kap platter met die onderkant van jou handpalm of ’n rolstok of houthamer.
Hou eenkant.
Verhit die botter en braai die dennepitte effens, voeg die spinasie by en verhit tot verwelk en alle vloeistof verdamp is.
Geur met neutmuskaat, sout en peper en voeg die broodkrummels en fetakaas by.
Verdeel die vulsel tussen die plat hoenderborsies. Rol op en draai stewig toe in kleefplastiek.
Plaas die bondels in verhitte hoenderaftreksel en laat sowat 7minute kook tot net gaar.
Verwyder uit die hoenderaftreksel, haal die kleefplastiek af en braai elke rolletjie vinnig in verhitte olie tot net effens bruin buite-om indien verkies.
Skep uit en plaas op ’n dienbord.
SOUS
Verhit intussen die olie en braai die ui en knoffel daarin tot sag. Voeg die wyn of hoenderaftreksel, jogurt, grasuie, mosterd en suiker by en kook af tot ’n geurige sous.
Geur met sout en peper en giet oor hoender.
Sit voor met kapokaartappels en slaai.
Volg Huisgenoot op Twitter.
Huisgenoot 4 Januarie 2010.