Hierdie sjokoladekoek van Jill Orton van La Lucia in KwaZulu-Natal is ’n regte wenner: Dit is maklik om te maak, flatervry en die stroop maak dit heerlik en klam.
Genoeg vir 1 koek
Bereiding: sowat 20 minute
Baktyd: 40-45 minute
STROOP
265 ml suiker
275 ml water
KOEKBESLAG
250 ml (1 k) koekmeel
30 ml (2 e) bakpoeier
’n knippie sout
250 g (1 k) botter
125 ml (½ k) strooisuiker
200 g donkersjokolade soos Albany
5 ekstra groot eiers
30 ml (2 e) brandewyn of Frangelicalikeur
VERSIERSEL
200 g sjokolade met haselneute
30 ml (2 e) melk
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Smeer en voer ’n diep koekpan
(24 cm in deursnee) uit met bakpapier.
STROOP
Verhit die suiker en water in ’n kastrol, bring tot kookpunt en laat prut sowat 10 minute.
BESLAG
Sif die meel, bakpoeier en sout saam in ’n groot mengbak.Smelt die botter, suiker en donkersjokolade in ’n dubbelkoker of in ’n glasbak oor kookwater of in die mikrogolfoond.Verwyder van die hitte en klits een eier op ’n slag by. Klits goed ná elke byvoeging. Giet die brandewyn of likeur by en roer tot gemeng.Vou die gesifte meelmengsel
by die eiermengsel in en meng alles goed. Giet die beslag in die voorbereide pan en bak 40-45 minute of tot gaar. Verwyder die koek uit die oond, prik dit ’n paar keer met ’n toetspen en giet die stroop oor. Maak die kante los sodra die koek afgekoel is en keer dit op ’n koekbord uit.
VERSIERSEL
Smelt die sjokolade oor ’n lae hitte of gebruik ’n dubbelkoker. Roer die melk by en roer tot ’n gladde sous vorm.
Giet die sjokoladesous bo-oor die koek en versier met gekleurde eetbare koekversiersels.