Dis belangrik om dié gereg oor baie hoë hitte gaar te maak. Gebruik ’n wok en ’n gasplaat vir die beste resultate.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 minute
Gaarmaaktyd: 15-20 minute
20 ml (4 t) sojasous
20 ml (4 t) rysasyn
60 ml (1/4 k) soet brandrissiesous
5 ml (1 t) sagte bruinsuiker
30 ml (2 e) olie
2 knoffelhuisies, fyn gekap
10 ml (2 t) vars gemmer, gerasper
1 brandrissie, fyn gekap
2 sprietuie, fyn gekap
1 rooi soetrissies, in dun skywe gesny
2 wortels, skoongeskraap en in dun skywe gesny
2 murgpampoentjies, in dun skywe gesny
1 kg varkfilette, in repies gesny
ekstra sprietuie, in lang, dun repe gesny (laat lê in yswater)
Meng die sojasous, rysasyn, brandrissiesous en suiker in ’n klein kastrol en verhit tot die suiker opgelos is. Verhit van die olie in ’n wok of pan en braai die knoffel, gemmer, brandrissie en sprietuie oor baie hoë hitte. Skep uit. Verhit nog ’n bietjie olie en braai die groente ’n paar minute oor hoë hitte (die groente moet nog bros wees). Skep uit. Verhit die res van die olie en braai die varkvleisrepies oor hoë hitte. Skep die groente terug by die vleis en giet die sous oor. Roerbraai nog sowat 3-5 minute. Geur indien nodig en sit voor saam met noedels en vars sprietuie.
Wenk: Indien jy nie hou van sterk kos nie, laat die brandrissie uit die resep.