Raak jy ook soms verveeld met die gewone oondge-roosterde groente saam met pasta? Hier is ’n nuwe idee: Maak die groente vir ’n slag fyn en gebruik dit as ’n pastasous. Dit is nie net baie geurig nie, jy kry boonop baie meer groen-te in!
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15-20 minute
Gaarmaaktyd: sowat 20 minute
1 groot rooi ui, in kwarte gesny
1 knoffelhuisie, gekneus en fyn gekap
1 rooi soetrissie, in kwarte ge-sny
250 g murgpampoentjies, in stukke gesny
250 g botterskorsie, geskil en in stukke gesny
250 g broccoli
80 ml (1/3 k) gemengde vars kruie (pietersiele, koljander, origanum, tiemie), grof gekap
sout en vars gemaalde swart-
peper
30 ml (2 e) olyfolie
60 ml (¼ k) parmesaankaas,
gerasper
80 ml (1/3 k) Bulgaarse jogurt of room, indien verkies
500 g pasta, gekook tot al dente
roket vir garnering
Voorverhit die oond tot 200 °C.
Plaas die ui, knoffelhuisie, rooi soetrissie, murgpampoentjies, botterskorsie, broccoli en kruie in ’n groot oondbak. Geur met sout en peper. Sprinkel olyfolie oor en bak 20 minute of tot gaar.
Skep die groente in ’n voedselverwerker en verwerk tot fyn. Giet die sous in ’n kastrol, roer die parmesaankaas en jogurt of room by en laat dit ’n paar minute prut. Geur met sout en peper indien nodig.
Roer die sous by die gaar pasta in en garneer met vars roket.