Plaas ’n oop, vol bierblikkie halfpad in die holte van die hoender, wat regop gehou word deur die blikkie, en braai oor die kole.
Suurlemoen en knoffel gee die vleis ekstra geur. Verkieslik sal jy die hoender in ’n ketelbraai (met ’n deksel) gaarmaak, maar dit werk ook as jy dit met ’n tinfoeliedeksel toemaak op ’n oop vuur. (Anders kan jy dit in die
bakoond druk.)
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 5 minute
Gaarmaaktyd: 1½ uur
Hittegraad: medium
SUURLEMOENKNOFFELOLIE
500 ml (2 k) kanola-olie
4-6 knoffelhuisies
1 suurlemoen, in skywe gesny
KNOFFELPASTA
1 bol knoffel, skoongemaak en huisies gekneus
5 takkies (10 ml) pietersielie
10 ml (2 t) growwe sout
10 ml (2 t) olyfolie
HOENDER
1 heel hoender
1 blikkie (340 ml) bier
sout en peper
SUURLEMOENKNOFFELOLIE
Meng al die bestanddele saam en laat staan dit vir minstens ’n dag sodat die geur kan ontwikkel.
KNOFFELPASTA
Meng al die bestanddele vir die knoffelpasta saam en vryf oor die hoender. Laat staan vir sowat ’n uur.
HOENDER
Maak die hoender op ’n oopgemaakte blikkie bier staan en plaas op ’n rooster hoog bo matige kole. Bedruip van tyd tot tyd met die suurlemoenknoffelolie. Bedek ná 30 minute met ’n deksel gemaak van ’n dubbele laag tinfoelie as jy oor ’n oop vuur braai. Geur met sout en peper en sit voor met suurlemoenpiekel.