Afrika-nasiesbeker: terreur by sokker

E-pos
Print

As gashere van Afrika se grootste sokkerfees, die Afrika-nasiesbeker, was Angola gretig om te wys hy is lank nie meer die oorloggeteisterde land van weleer nie. Maar dit het net enkele minute se masjiengeweervuur gekos om dié droom te vernietig – en opnuut twyfel te wek oor Suid-Afrika as gasheerland van die Wêreldbeker-sokkertoernooi.

Tot op daardie afgryslike oomblik het al die reëlings vir die toernooi pragtig gevlot. Die stadions was gereed, die spanne het veilig aangekom, die openingswedstryd was op hande en oral het ’n gees van opwinding geheers.

“Angola is ’n lekker land, die oorlog is verby en ons is verenig. Die toernooi is ’n kans om ons trots te herwin,” het Antonio Mangueira, voorsitter van die plaaslike reëlingskomitee, vroeër die week nog gesê. Maar toe die luukse bus met Togo se sokkerspan so teen halfdrie die middag by die provinsie Cabinda inry, het die geknetter van masjiengewere die feestelike atmosfeer wreed aan skerwe geruk.

Die bus en twee ander minibusse met onder andere Angolese polisielede het in ’n goed beplande hinderlaag ingery. Rebelle in kamoefleerdrag het uit die bosse gespring en met masjiengewere begin losbrand. Die koeëls het deur die lug gevlieg en die bus het tot stilstand gekom.

“Die bus het in die middel van die pad gaan staan toe die bestuurder getref en op slag dood is,” vertel Moustapha Salifou, middelveldspeler en lid van die Aston Villa-span. “Ek kon die koeëls by my hoor verbyfluit. Dit was soos ’n fliek.” “Ons is soos honde met masjiengewere geskiet,” sê die doelskieter Thomas Dossevi.

Ander lede van die span is ook gewond en almal het vloer toe geduik om agter sitplekke te skuil terwyl daar ’n mini-oorloggie met masjiengewere tussen die rebelle en die polisie uitgebreek het. “Ek was agter in die bus,” vertel Moustapha verder. “Een van my beste vriende, Kodjovi Obilale Dodo (die doelskieter), is in die rug geskiet. Dit was verskriklik.

Almal het gehuil.” Die verskrikte spelers het geglo hul laaste oomblikke het aangebreek en hulle het hul selfone uitgehaal om hul geliefdes te bel.

Meer hieroor in Huisgenoot van 21 Januarie.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (1)


  1. anneke greenwood
    2010/04/13 04:58:04 nm
    nou meer as ooit - dit kan net chaos beteken - sokker in afrika en in die land waar korrupsie en misdaad hoogty vier. al die plaasmoorde gaan nie ongesiens verby nie - die buiteland is deeglik bewus van die 'beheer ' wat die jeugliga se bendes oor die leierskap van die land het. wie gaan 'n land - so ver - en teen so 'n prys besoek?