Speelgoed is terug op die doek

E-pos
Print

“ONS is, soort van, meer opgewonde as klein kindertjies,” het ’n eerstejaar-student met ’n Toy Story-T-hemp vandeesmaand op ’n Amerikaanse kampus laat hoor by ’n spesiale vooraf-vertoning van ’n lekkerte waarvoor veral die jonger brigade nie meer kan wag nie: Toy Story 3, en nogal in 3D.

Dié vooraf-kyk was toe nie na die hele fliek nie, maar tog ’n moewiese lekker koekeloer na die 3D-prent wat op 18 Junie gelyktydig oral oor die wêreld heen uitgereik word. Die studente kon byna ’n uur van die fliek sien waarin ons eie Jeremy Mansfield, radio-omproeper, se stem ook gehoor word – darem net in die plaaslike weergawe.

Net voor die spannende laaste deel is die ligte toe aangeskakel. Dit was net voor cowboy Woody en ruimteman Buzz Lightyear en kie se ontsnapping uit ’n dagsorgsentrum vol klein terroriste, waar die speelgoed kort voor hul eienaar, Andy, se vertrek kollege toe beland. En die reaksie van die studentegehore dwarsoor Amerika was glo in die trant van “Ag nee! Ons wil nog sien!”.

Hulle was so meegevoer deur die jongste avonture van die karakters waarmee hulle grootgeword het dat hulle skoon vergeet het hoe oud hulle is.

Dis vyftien jaar ná die uitreiking van die oorspronklike animasie-mylpaal wat aan die wêreld gewys het wat speelgoed aanvang wanneer hul eienaars nie kyk nie, en watter animasie-wonderwêrelde met bloot rekenaars opgetower kan word.
Dis ook meer as ’n dekade ná Toy Story 2, wat aanvanklik net vir video-uitreiking bestem was, maar toe ’n groter treffer was as nommer een.

Maar dit lyk asof Toy Story 3 voorwaar die wag werd gaan wees. Kenners meen trouens dit kan die grootste treffer van 2010 word:
Tom Hanks (Woody), Tim Allen (Buzz Lightyear) en die meeste ander stemkunstenaars wat die Toy Story-fenomeen help skep het, is weer met ons. Boonop sluit die sterbesaaide rolverdeling interessante nuwe karakters en ster-stemme in.

En Disney se Pixar-span, wat meer as vier jaar aaneen aan Toy Story 3 gewerk het, het met splinternuwe 3D-deurbrake vorendag gekom om die rekenaar-animasie waarin hulle die weg gebaan het, behoorlik te vervolmaak.

Lees meer oor Toy Story 3 in die Huisgenoot van 17 Junie 2010

Op die internet:
http://disney.go.com/toystory/
http://www.youtube.com/watch?v=v_FfHA5whXc



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (5)


  1. Benita
    2010/08/06 11:44:26
    Dit was oulik ek het skoon gehuil en toe sommer my speelgoed begin mis!! lol hoe dom kan mens wees!!
  2. Mariette
    2010/07/29 03:52:31 nm
    Dit was vir my persoonlik die beste van al die Toy Story flieks
  3. Dálene
    2010/07/28 11:46:12
    Baie baie goed. Ek het selfs 'n traan of twee gestort hier op die einde. Disney weet nou maar net hoe om nie teleur te stel nie. Defnitief nie net vir kinders nie.
  4. Rene Seidel
    2010/07/08 07:15:49 nm
    Uitstekende prent! Ek het die fliek net soveel geniet as die kinders.
  5. Tertia Smit
    2010/06/28 06:48:03 nm
    Nou DIT was 'n goeie fliek!