Waaroor gaan dit?
Niek besef dat Joe op breekpunt is nadat alles in sy lewe skeefloop. Dan onthou Niek van ʼn gruwelike insident gedurende sy diens op die Grens.
Wie sal hiervan hou?
Die rolprentweergawe van die M-Net-sepie probeer twee gehore bevredig: diegene wat die sepie gevolg het en lesers wat dit nie ken nie. In die proses val dit tussen twee stoele deur, want die sepie-elemente en die spanningsverhaal aan die Grens wil nie behoorlik meng nie. Tog sal sepieverslaafdes steeds hul geliefkoosde karakters teëkom, al dra die meeste van hulle nie juis by tot die verloop van die verhaal nie. Die spel is knap en die rolprent lyk tegnies goed, maar die storie word kort-kort deur die sepie-elemente gekniehalter.
Wag vir DVD?
Ja, jy kan, want eintlik pas die rolprentweergawe beter op die klein skermpie as op die wyedoek. Leandie du Randt as Joe se meisie, wat ook ʼn ontkleedanseres is, is ʼn vonds en sy kikker die rolprent aansienlik op. David Rees bewys ook dat hy ʼn knap speler is, terwyl Darren Kelkens oortuig as die gevaarlike Joe. As jy egter nie die sepie gekyk het nie, mag jy nie altyd ten volle in die prentjie wees nie.
Soortgelyke flieks
Weerskant die Nag, Nag van die Negentiende.
Springmielie-Feite
* Leandie du Randt is besig met honneurs in bedryfsielkunde aan die Universiteit van Johannesburg.
* Sy werk tans aan nóg ʼn Franz Marx-rolprent, Susanna van Biljon se storie.
* Egoli is 18 jaar lank op M-Net uitgesaai.
Met David Rees, Darren Kelkens en Leandie du Randt. Regisseur: Bromley Cawood (13)
Begin op 16 Junie draai.
Ons dink: 2/5