Fliek van die week: The Hurt Locker

E-pos
Print

Waaroor gaan dit?
Die bomseksie in die Amerikaanse weermag is in Irak waar hulle bomme onskadelik moet stel. Die manne raak egter verslaaf aan die adrenalien van die gevaar. Hoe ontlont hulle hul senuwees?

Wie sal hiervan hou?
Mense wat oorlogsflieks voor brekfis verorber. Hierdie naelbyt-op-die-punt-van-jou-stoel-sit-fliek is die beste oorlogsprent sedert Platoon. Dit neem nié stelling in vir of teen oorlog nie, maar praat kaalvuis oor hardebaarde wat bomme on-skadelik stel en dol is oor hul werk. Hulle fluister vir die bom, vroetel in sy derms rond en besweer hul senuwees deur mekaar voos te slaan wanneer hulle niks het om te doen nie en wil ontspan. Jy het in g’n jare so ’n rateltaai uitbeelding van manne onder druk gesien wat verslaaf is aan testosteroon en die opwinding van die dood wat in hul spoor trap nie. Briljant. Dit verdien elke Oscar-benoeming. Dit voel of jy self in die oorlog is.

Wag vir DVD?
Nee. Jy moet dit op die groot skerm sien om die moorddadige hitte te vóél, die sweet te ruik en onder die indruk van die moorddadige aggressie te kom. Hier is geen gesellige onpaar paar koel ouens wat kwinkslae kwytraak as hulle bomme onskadelik stel nie, net tawwe tienies wat oor bomme se binnegoed streel soos oor vroue se
liggame. Hulle bewonder en haat tegelykertyd die breins agter die bomme en speel ’n dodelike skaakspel van senuwees met die ontwerpers daarvan. Spannend, komkommerkoel en beheers. Die jaar se beste rolprent – maar dis nie vir sissies nie.

Soortgelyke flieks
Platoon, Apocalypse Now, Blown Away.

Springmielie-feit
Dit was so warm in Jordanië waar die rolprent geskiet is dat verskeie lede van die span hitte-uitputting en sonstraal opgedoen het.

Wat ons dink: 5/5

Oorlogsprent. Met JEREMY RENNER,
ANTHONY MACKIE en GUY PEARCE. Regisseur: Kathryn Bigelow. 16TG. Begin op
19 Maart.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (4)


  1. Bul
    2010/03/20 04:52:17 nm
    So ver verwyderd van hoe dit regtig is. Klomp snert.
  2. Chris Nortje
    2010/03/20 11:54:56
    Kon glad nie sien waaroor die bohaai is nie. Die kamerawerk is rukkerig en die fotografie is amateuragtig. Die regiseer wou dit seker meer realisties laat lyk maar het oorboord gegaan. Die storie is ook maar bra vervelig en soms onrealisties. Die hoofkarakter het geen disipline nie, doen wat hy wil en niks gebeur met hom nie. In 'n regte militere kamp sou hy lankal op sy hel gekry het by bevelvoerders. Met taktiese bewegings loop die karakters sommer ook regop verby vensters. Nee wat. Die fliek was 'n vervelige grap. Kom nie naby Saving Private Ryan nie en verdien glad nie 'n Oscar nie.
  3. Vervelig
    2010/03/20 05:18:52
    Ook reeds gesien. Wonder net of ons dieselfde fliek gesien het? Dit was uiters vervelig
  4. Blues Boy
    2010/03/19 08:37:34
    Reeds gesien. Uiters vervelige film met min om enige adrenalien junkie te
    bevredig. Goedkoop Yankee poging om simpatie vir hul pogings in Irak te
    bekom. Propoganda waarde = 5 Oscars.