Twilight: Nog 'n boek oppad!

E-pos
Print

Ly jy aan ’n ernstige graad van Twilight-onttrekkingsiekte? Is daar dae dat jy heimlik wonder of Jacob Black en Edward Cullen-hulle nie maar net spookfigure in jou drome was nie? Hou moed, daar is hoop.

Stephenie Meyer, skrywer van die supergewilde Twilight-reeks, het onlangs aangekondig daar kom ’n nuwe vampierboek! Dit sou eers as kortverhaal op haar webtuiste gepubliseer word, maar toe hardloop die boek skoon onder haar uit en word ’n nuwe, eie storie.

Vir die Twilight-onttrekkingsimptome is daar boonop die derde fliek in die reeks, Eclipse, wat op 2 Julie hier begin draai.

Dan sal die skrywer wie se eerste twee flieks, Twilight en New Moon, wêreldwyd al sowat R7,5 biljoen verdien het, natuurlik nog ’n entjie ryker wees – en dan praat ons nie eens van die sowat 90 miljoen eksemplare van haar Twilight-boeke wat al verkoop is nie.

Intussen kan aanhangers solank ’n sirkeltjie om 5 Junie op hul kalenders trek, want dis wanneer The Short Second Life of Bree Tanner in die boekwinkels sal wees. Dis Stephenie se eerste boek in twee jaar en duisende aanhangers, aangetrek soos karakters uit die boeke, sal na verwagting oornag in toue wag om dit op te raap. Die uitgewers beplan om 1,5 miljoen eksemplare te druk – vir ’n begin . . .

Maar wie is Bree Tanner nou eintlik? Twilight-slawe het haar reeds ontmoet – enige ware aanhanger sal weet sy verskyn net vlugtig in Eclipse, maar dis in die sleuteltoneel waar Bella en die Cullens ’n klompie van Victoria se wilde vampiere in die woud raakloop.

Victoria, die rooikopvampier wat wraak soek op Bella en die Cullens nadat haar geliefde, James, vermoor is, het van Bree Tanner ’n vampier gemaak. Sy skaar haar by die Cullens en probeer hul vegetariese leefstyl navolg.

Bree sterf dan in Victoria se oorlog teen die Cullens en die Quileute-weerwolf-stam.

“Ek het The Short Second Life of Bree Tanner nog altyd as iets vir die aanhangers beskou. Hulle was nog altyd baie ondersteunend met alles wat met Twilight te make het,” sê Stephenie.

“Ek is net so verras soos al die ander mense oor die novelle,” bely Stephenie. “Toe ek in 2005 daaraan begin werk het, was dit net ’n oefening om my te help om Eclipse se ander kant te ondersoek. Ek het gedink dit gaan ’n kortverhaal word wat ek op my webtuiste sou kon plaas, maar toe raak die storie langer as wat ek verwag het.”

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 20 Mei 2010.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (10)


  1. Dálene
    2010/07/28 11:53:08
    The short second life of Bree Tanner was nou nie eintlik 'n "nuwe" Twilight boek nie maar dit was beslis goeie lees stof. Ek is nie een van die "Twi-hards" nie maar het die boek beslis geniet. Almal wat altyd so moan en groan oor "wie wil nou van vegetarier vampires lees" wel hier is 'n boek uit die slegte vampiere se oog punt. Stephenie Meyer het beslis nog haar slag met die vampiere.
  2. Lid
    2010/05/21 03:25:04 nm
    Wel nonsens ek is 52 my kinders en kelinkinders geniet dit net soveel.
  3. bontkattie
    2010/05/21 08:25:16
    ek wil net vir "Nonsens" sê: different strokes for different folks... my boetie en sy vrou dink ook twilight is 'n swak verskoning vir vampiere en hulle lees net regte vampier-boeke soos die interview with a vampire-reeks... but guess what? daar's miljoene ander van ons wat al mooi groot is (34 is darem effens ouer as 13-19...) en totaal gaande is oor die twilight-reeks! as jy nie iets positiefs te sê het nie, moet liewer nie jou sê sê nie
  4. Alison
    2010/05/20 09:52:21
    @Nonsens. Soos hulle sê: elke diertjie het sy plesiertjie. Jy kyk hoe verf droogword, en sien uit na die volgende boek. En dankie vir jou kompliment van tussen 13-19 jaar! Sjoe! Nou voel ek sommer veel jonger!
  5. Diana
    2010/05/20 08:37:37
    Noem my dan maar 'n 'Twilight - fanatic' - en 'n skaamtelose een daarby ook! Ek het die boeke verskriklik geniet en sal een van die 'crazies' wees wat in die ry staan vir die volgende een...... en hopelik nog 'n paar daarna.

    Ek het die reeks boeke vir my dogter gekoop as een van haar kersgeskenke in 2008. Maar die boekwurm in my kon net nie van die nuuskierigheid ontslae raak nie. Net die lees van die eerste paar blaaie was nodig om my te 'hook'.... Ek het toe maar my eie reeks gaan koop....
  6. Esmé
    2010/05/20 08:33:58
    My dogter van 12 wou niks weet van lees.Ons gaan sien die Twilight rolprente en in New moon eindig die rolprent met : Edward Cullan vra : Bella will you marry me? Wat daarna volg oortref my grootste wens . My kind vra haar pa om boek nr3 te koop. Sy lees die boek binne twee dae klaar ( Moet byvoeg - dit was Skoolvakansie) Daarna word boek 4 gekoop - binne twee dae klaar gelees. Vandag lees my kind enige boek wat sy interesant vind! Ek luister hoe kla ander ouers oor kinders wat nie lees en ek sê : dankie vir Stephenie Meyer!
  7. Retha
    2010/05/19 02:22:50 nm
    Kan nie wag vir die nuwe boek nie. Wil net vir "Nonsens" sê, Ek is 50 jaar oud en geniet die reeks geweldig baie. Ou nonsens, kan jy lees? Miskien nie, dis waarom jy so optree. As jy niks het om te sê nie, bly liewer stil. Stephanie Meyer mag maar skryf. Sy is die beste!
  8. Nonsens
    2010/05/19 12:19:05 nm
    Wat `n klomp Bollie is dit nou nie. as jy 13 tot 19 jaar oud is en `n meisie, dan is dit seker goed. kyk eerder na verf wat droog word.
  9. Amelia
    2010/05/19 09:45:10
    Twilight .....

    Wat meer is nodig om te se?

    Vir my is dit een van die beste reekse - boeke en filims wat nog in n lang tyd uitgekom het....

    Ek glo ten volle die nuwe boek sal nie afsteek by die res nie!!! Kan nie wag nie!!