Twee van my grootste doelwitte vir my langverlof van drie maande is om te kook - ek is dol daaroor, maar het selde tyd vir meer as die basiese - en om die Wêreldbekertoernooi gate uit te geniet, jy weet, met vlae, karspieëlsokkies, gesigsverf, die hele waka waka.
Toe dink ek: Hoekom nie die twee kombineer nie? Kom ons kook geregte van elke sokkerspan op die dag dat hulle speel. Party dae kan dit resepte van agt verskillende lande beteken, maar haai, hoekom nie? Dis ‘n ervaring van ‘n leeftyd - die langverlof én die Wêreldbeker.
In die weke voor die afskop laat ek my verlei om elke tydskrif met sokkerverwante resepte te koop. Dan is daar natuurlik nog die internet waar jy ure lank die “nasionale kos van …” enige land kan navors wat jy op ‘n aardbol kan kry of nie kry nie.
Vir my is Slowenië, Slowakye en Serwië nogal ‘n uitdaging, eers om dit op die kaart op te spoor (aardrykskunde was nog nooit my voorkeur-kategorie in Trivial Pursuit nie) en dan om die name van hul gunsteling-geregte uit te spreek. Maar Afrika is mos nie vir sissies nie, en ons laat waai. Ke Nako. Dis tyd.
Dag 1
Suid-Afrika, Mexiko, Frankryk en Uruguay is op die sokkerspyskaart.
Vir die tafel beplan ons ‘n Mexikaanse tamatiesop met tortillas en ‘n geurige Mexikaanse feesslaai, basies ‘n mengelslaai met ‘n bietjie gekapte rissies daarby. Baguettes met brie verteenwoordig die Franse; vir Suid-Afrika hoef ons niks verder as boerewors, tjops, pap en tamatiesmoor te soek nie en vir Uruguay is daar ‘n smaaklike Dulce De Leche-tert. O ja, groenmielies kry ‘n Mexikaanse kinkel deur hulle op ‘n sosatiepen voor te sit.
Niks bied ‘n te groot uitdaging nie. Dis net ál ander keer dat ek jare gelede probeer pap kook het - ‘n senior politikus het kom aandete eet, maar dis ‘n lang storie – het dit aangebrand, maar was steeds rou. Watter verleentheid! Soos jy weet word ons Kaapse meisies met braaibroodjies by ons braaivleis groot, nie pap nie. Dis dié dat ek nie veel selfvertroue daarmee het nie. Dit blyk toe dis glad nie so moeilik nie – jy volg bloot die aanwysings op die pakkie. En dit help as jy die hitte laag hou; moenie op hoog probeer pap kook nie!
My tamatiesop is ‘n wenner. Deels Jamie Oliver, deels die goeie ou Boere-manier. Braai uie, voeg baie vars gekapte knoffel by, dan een of twee blikke heel geskilde tamaties van goeie gehalte (Woollies s’n is wonderlik). Jamie sê jy moet die tamaties ‘n ruk lank heel kook – die pitte laat die sous bitter smaak as jy dit te vroeg opkap. Voeg dan baie gekapte basielkruid en ‘n teelepel suiker by (my ma het my geleer jy gooi altyd ‘n bietjie suiker by ‘n gereg met ‘n tamatiebasis). En Jamie se laaste wenk: ‘n lepel vol rooiwynasyn om dit af te rond. Heerlik!
Ek het nog nooit in my lewe van Dulce De Leche gehoor nie, maar die resep vir hierdie geliefkoosde tert in Uruguay uit Pick 'n Pay se skitterende Wêreldbeker-kookboekie – dit verskyn vandeesmaand saam met hul fantastiese kostydskrif - laat dit heel eenvoudig klink. Veral die feit dat jy die karamelsmeer in ‘n blik in die Kosse van die Wêreld-gang by Pick ‘n Pay kan kry pleks daarvan om suiker en goed ure lank te roer om tuisgemaakte Dulce De Leche te probeer maak.
Maar niemand by ons plaaslike Pick ‘n Pay het al ooit daarvan gehoor nie en dié winkel het ook nie ‘n Kosse van die Wêreld-gang nie. Maar ek haal my hoed af vir die winkelbestuurder wat selfs Pick ‘n Pay se span kostegnoloë gebel het om uit te vind wat ek as substituut kan gebruik. Goeie ou Nestlé Caramel Treat!
My 15-jarige dogter is in beheer van die slaai en nagereg. (Sy is ‘n vegetariër en ‘n uitstekende jong sjef, en ook baie kalmer in die kombuis as haar ma!) Sy kyk tevrede toe hoe haar karameltert in die oond begin vorm aanneem. Dit is immers die eerste keer in haar lewe dat sy meringue maak.
Met ‘n oorvloed kos van regoor die wêreld (en biltong daarby) sit en kyk ons na die openingseremonie (bekoorlik!), Bafana se openingswedstryd (Watter naelbytstryd! Ek is soooo trots op ons manne) voordat ons koers kry stadion toe vir die die wedstryd tussen Frankryk en Uruguay (die tert was veel opwindender as die wedstryd).
En toe is ons bed toe om môre se spyskaart te beplan . . . ek vertel later meer hieroor!
NS: Laat weet my as julle besonderhede oor enige van hierdie resepte wil hê. Ek is op pad gim toe om ‘n paar kilojoules te gaan verbrand voordat ek aan vandag se geregte van regoor die wêreld begin weglê!