Blogger:

Haidee Muller

'n Oop brief aan Kuli en Jimmy

E-pos
Print

Kuli en Jimmy,

Julle sal seker verstaan as ek nie bodder met die ‘‘liewe’’ of ‘‘beste’’ voor jul name nie. Ek is seker julle albei se ore tuit nou vir ’n vale met dié dat jul name in al wat koerant is, verskyn het.

Jy, kabinetswoordvoerder Jimmy Manyi, oor jou wilde uitlatings dat daar ’n oorkonsentrasie bruines in die Wes-Kaap is en hulle liefs oor die hele land “versprei’’ moet word en dan natuurlik Nomakula (Kuli) Roberts, skrywer van ’n koerantrubriek wat heel gepas Bitch’s Brew heet. 

Ek begin sommer by laasgenoemde. 

Ná daai geskribbel oor hoe jy van satynhare droom en wil sing wanneer jy praat soos die bruin girls van die Kaap, het jy seker nie in jou wildste drome kon dink jy sou soveel ope briewe kry nie, nè? Seker ook nie geweet bruines kan so kwaad raak nie. 

Voeg sommer daai een ook op jou lysie oor hoekom jy bruin meisies so bewonder, want sjoe, kan hulle nou kwaad raak vir simpel rubriekskrywers . . . 

Maar gou op ’n ernstiger noot. 

Eers wou ek vir jou in die bresse tree toe die mense jou links en regs met harde woorde begin takel . . . en ons praat nou van grof-kliphard.

Die ding het al op Facebook begin stoom vang. Toevallig was nie net bruin girls vir jou dikbek nie, ook ’n paar wittes en ’n hele paar ouens. 

Hulle wens toe sommer hulle kan jou met ’n kamma-handsakuitverkoping na die N1 lok, het hulle daar op Facebook geskryf.

Nogal op die N1 waar 10 krokodille nog op vrye voet rondsluip nadat hulle nou die dag van ’n trok afgedinges het. Nee kyk, toe weet ek, die mense is boos-kwaad!

Maar ek is nie kwaad nie, dalk net liggies geïrriteerd.

Ek en jy het mekaar mos verstaan toe ons desjare kollegas was. Jy het as Drum se moderedakteur in die Kaapse hoofkantoor gewerk en was altyd prettig, al was jy toe al kwaai uitgesproke. 

My jinne, Nomakula, nooit het ek geweet jy wou eintlik bruin, of nee wag, “geel’’ wees nie – dis mos hoe jy na ons verwys. Geel.

Maar onthou, ek voel regtig nie gekwets oor jou skrywe nie en sukkel ook nie skielik met ’n Sannie Sorriegat-houding nie – met alle respek aan my ma, heel toevallig ook Sannie.

Inteendeel . . .

Ek is mos net liggies geïrriteerd.

Maar ek moet erken, ek wou-wou my vererg oor die stukkie waar jy skryf van bruin vroue wat aanteel asof Allan Boesak hulle op ’n sending gestuur het om die bruin volk te vergroot. Op my rype 38 is ek nog kinderloos, hoor. En ek ken ook ’n hele paar ander tydgenote wat darem nog nie met ’n kleuterskool vol kleintjies sit nie. 

En as ek reg onthou, het jy twee kinders? Maar kom ons los dit liewer daar . . .

Ja, ek stem, bruin vroue laaiks hul entjies. Daar het jy ’n punt beet. Maar sjoe, ons eet darem nie die oseaan se visse op nie, selfs al wou ons. 

Maar weet jy hoekom ek liggies geïrriteerd is?

Omdat jy veralgemeen. Of stel dit so: Die pel wat jy aanhaal – julle veralgemeen oor bruines. Ons bruise maklik en ’n mens sal gou kan sien as ons geslaan word, sê jy daar. Nou vra ek jou met trane in my bruin oë (en hier is die woordspeling aspris): Moet alle bruin vroue dan altyd opgedons word? 

Jou pel sê ons bruines weet presies wat tik is. Aaag tog, hier dog ek almal weet wat tik is, of hulle nou pienk, blou of pers is. Almal weet. Sien jy wat ek bedoel met veralgemening? Sê dan liewer almal. Dis dalk veiliger.

Kyk hier, Kuli, ek hou van my rooiwyn en as jy weer Kaap toe kom, bring ’n lekker rooie saam. Vir my is Black Label darem te bitter en ek sweer dit laat my tanne pyn. Hoop nie jy is verbaas om te hoor dat ek nog al my tanne het nie. Jaaaa, vrou, binne-in my mond. Alles my eie. 

O ja, en ek wil jou sommer ook vertel hoe lekker ek nou die aand in ’n Griekse restaurant gedans het.

Dis eers daar dat ek die eerste keer ’n bord stukkend gegooi het. Dit was regtig lekker en jy moet dit gerus probeer; jou pel sê mos in jou rubriek ons mense is so lief vir borde rondgooi. En ek sal dit weer doen, maar net vir die pret, want netnou sê jou pel weer ons bruines is “gewelddadig’’.

’n Vriendin sê nou die dag op Facebook ons moet ophou onsself so jammer kry as iemand van ’n ander rasgroep met ons die spot dryf.

Kyk, sy het sommer lekker gelag vir jou rubriek. Sy en haar twee sussies. So, Nomakula, mense het darem gelag, al was dit net drie van hulle. Moenie sleg voel nie.

In jou artikel is jy ewe “liries’’ oor hoe ons girls sing wanneer ons praat. 

Toe ek dit lees, moes ek myself hardop afvra (soos die Ingelsman sou sê): “Now how would that go?’’ Klink ons dan dus soos die mense in flieks soos Dreamgirls, Grease, Mamma Mia of Liefling, dalk selfs Annie? Daar sing almal mos as hulle praat . . . maar ten minste dans hulle ook, so dit maak darem sin.

Ek sê weer, ek is nie kwaad nie, Nomakula . . .

En hopelik raak jy ook nie kwaad oor ek ook vandag mond uitspoel nie. Mos vryheid van spraak, dan nie?

Ek is regtig nie fyngevoelig nie en kan ’n grap vat. Ek maak self baie bruin-grappies, vra maar vir my kollegas.

Ek is die Franz Marx van bruin-grappies maak en ek glo stellig jy het nie bedoel om ons by te kom met jou ek-wens-ek-was-bruin-storietjies nie; jy wou bloot snaaks wees. Ha-ha-ha-ha-snaaks.

Toe nou nie. 

Sien, ouens soos Koos Kombuis, Emo Adams, Marc Lottering en Wicus van der Merwe is vir my ha-ha-ha-snaaks, eintlik ek-lag-my-in-my-tjops-snaaks.

Nou laat dié bruin vrou van die Wes-Kaap gou kitsraad uitdeel.

Eerstens, nie almal kan rasgrappies maak nie; dis eintlik ’n kuns wat jy liefs maar moet los vir bogenoemde ha-ha-ha-snaakse mense. 

Sê my, hoe is jou skryfstuk verby ’n redakteur se arendsoë? Ek sweer my redakteur sou iets oorkom as ek dit sou waag om sulke tjol te skryf.

En ek sou inderdaad nogal skaam wees as ek jy is. 

Nou is jy jou joppie kwyt? 

Hoewel ek daaroor jammer is, mos nie eintlik kwaad vir jou nie, kan ek ongelukkig nie namens die land se ander bruines praat nie. 

Ek was liewer my hande in onskuld en sê maar voorspoed as jy weer dié kant toe kom.

Noudat jou pen ’n swaard geword het, sal jy dalk iewers iemand hoor sê: “Dè, hou gou my stuk snoek en Castle-langbier vas, laat ek hierdie Kuli-vrou se tjank aftrap,’’ en dan moet jy nie verbaas wees as dit ’n bruin girl is nie.

Jy weet mos hier is ’n “oorkonsentrasie’’ van ons in die Wes-Kaap, vra maar vir Jimmy Manyi. 

Ai, Jimmy, Jimmy, Jimmy. 

Jy is dan ’n geleerde mens, soos my ma sou sê. Maar nou weet ons jy is ook ’n woordvoerder sonder ’n wag voor sy mond. Toe maak jy ’n baie groot oeps en nou is selfs Trevor Manuel, normaalweg eintlik ’n rustige ou, die herrie in.

En nou het dié nasionale beplanningsminister jou in ’n ope brief ’n rassis genoem; jy is selfs met Hendrik Verwoerd vergelyk. Erg, nè?

Maar uitlatings soos joune maak my kwater as Kuli s’n, Jimmy. 

Want sien, enige regdenkende mens wat sulke onsin uitdink, soek sommer plein en simpel skoor. 

“Dit is totaal onaanvaarbaar om nie bruin mense in elke sentimeter van die land te hê nie.’’ Wat? Bedoel? Jy?

Na my mening is jou uitlatings “totaal onaanvaarbaar’’. 

Noudat die pôpô fên toe skiet, sê jy net heeltyd “geen kommentaar’’. Moes jy nie maar liewer net tjoepstil gebly het nie? Het jy niks geleer uit ou Julius Malema se foute nie? 

Glo my, stilbly is ook ’n antwoord. As jy niks konstruktiefs kan bydra tot ons samelewing nie, hou jou plat soos ’n Minora-lem en bly tjoep-tjoepstil.

“Ek gaan nie ’n woord sê nie, nie ’n woord nie,’’ slaat jy nou die vure dood. 

Pleks jy uit die staanspoor presies dit gedoen het, want dan, Jimmy Manyi, sou jou ore nie nou nog getuit het nie . . . Dieselfde geld vir jou, Kuli Roberts. 

 



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (56)


  1. Carmen Feris(Nam)
    2011/03/18 11:31:57
    Uitstekend!!!!! Beter kon jy dit nie gestel nie.....WOW
  2. Cheryl en Ammie en alle vrinne
    2011/03/15 10:42:52 nm
    Antie Sannie se meisiekind. Ons is trots op jou. Miskien 'n bietjie mild gestel....ma nou ja.. nes ons jou ken girl
  3. Sharon Florence
    2011/03/15 01:07:19 nm
    Pragtig Haidee, oh Kuhli,oh Jimmy dit brand skapies,dit brand n di vlamme brand hoog, en julle makkers moet net jo n Jimmy se vure doodslaan om jule te red,ma hule is ni versigtig gnoeg ni wnt kyk julle skade wt julle nou in di ANC aangerig het is groot ne, wel dit ga meer kos as jo frika pryk n ou jimmy se designer suit om di vertroue van ons Bruinmense t herwin,lol dit wasi jul werk ni 8-)
  4. Sue
    2011/03/14 03:39:50 nm
    Goed gesê Haidee, sê vir haar sy moet Hoorn toe kom daar is baie mooi & geleerde dames. En dit geld vir al die bruin dames. Jou ouers kan trots wees op jou jy het ons goed verteenwoordig. Dankie Haidee
  5. Jerome
    2011/03/13 11:31:39 nm
    Kykiehoorie my siza... naai djy herrit ho!!! Naai ver praat,,,, kap djy net al aan... djy's net daai girl!!!
  6. maxie
    2011/03/13 09:47:02 nm
    You GO girl. Mooi gestel.
  7. Aletta
    2011/03/12 11:01:42
    Jy het my dag gemaak en ek sit in die verre Sudan! Lees elke dag die nonsens wat uit die ANC en geledere se dik monde kom. Selfs hierdie erge belediging teenoor my bruin vriende was so swaar om aan te sluk. Jy het gedoen wat ons almal jeuk om te doen - pen op te tel en te skryf oor dit wat ons dwars in die bors steek. "Well done" - ons almal moet een of ander tyd gehoor word.... Groete van n verlore (wit) stem.
  8. Margot Ladouce
    2011/03/11 03:34:06 nm
    So 'n bek kort lekker vye jam! Nee Haids, jy kan ma skryf in enige taal of ras!
  9. nadia
    2011/03/11 12:56:13 nm
    Dus vir my altyd opvallend hoe ras behep die ANC is! Eers was die blankes dit en dat nou is dit sommer die bruines en indians...Nou kom die ware kleure seker uit hoe die anc van al die ander nasies dink? Anyway cool brief
  10. Goolam Muller
    2011/03/11 11:33:26
    Hoor Hoor .kan sien MULLER bloed vloei in jou are. goed gestel !!!!!!!!!!!
  11. Elynn
    2011/03/11 10:38:49
    Girlfriend dis mos nou gesê. Luv u stukkend en jou pen
  12. elna van der merwe
    2011/03/11 10:13:57
    jy het nou al so baie jam gekry, ek sal eerder vir jou 'n snoekie braai om geluk te s^e!
  13. Clarice
    2011/03/11 09:57:08
    Bravo! Stylvol!
  14. Ruby Le Roux
    2011/03/11 09:53:58
    Mooi geskryf, Haids! En ek het dit gelees sonder 'n tweetaligewoordeboek! Beautiful:)
  15. Letitia McNab
    2011/03/11 09:15:27
    So mond moet jam kry, sou dit nie beter kon gesê het nie.
  16. trotse bruin vrou
    2011/03/11 08:33:40
    So 'n bek kort jem!!! Leka gesê!! Jy mag maar skryf!
  17. Cindy S.
    2011/03/11 07:55:00
    WEL GEDAAN!!! Baie mooi gestel..wens hulle altwee lees dit (kan hulle ooit reg lees?) wat my kwaad gemaak het,soos vir jou, is die veralgemening van Kuli se uitlatings. Ek is 'n trotse kleurling vrou, hel dit was net gister bietjie bewolk in die Kaap toe sit ek sop op hahaha, maar ek is amper 32 en het geen kinders, al my tande (tot op my wys tande), drink nie enige bier nie en kannie baklei om my lewe te red nie. wat Jimmy aanbetref, die feit dat hy dink hy het die reg om sulke uitlatings te maak en net nie bekommerd te wees oor die gevolge nie, gaan my verstand te bowe.
    Arme Madiba huil seker krokodiltrane, na 27 jaar in die tronk, juis omdat hy die rasse-ding wou elimineer, kom 2 swape en gooi "n hele spul rooikrantz braaihout op die vuur...(ek skud maar net my kop)
  18. Marie
    2011/03/10 10:14:01 nm
    Daai 'bek' kort mos jam. Goed gesê. Hulle begin baie baie bekommerd raak oor die 'oorkonsentrasie' in die Kaap want hulle sien hulle begin al hoe meer veld verloor in die Kaap daarom wil hulle die bruin mense versprei sodat hulle kan begin 'oorkonsentreer ' in die Kaap om dit weer anc 'gekonsentreerd' te kry. Nuus vir hulle, hulle het high hopes en dis waar dit gaan bly, high hopes.
  19. Roux-ché Locke
    2011/03/10 10:05:06 nm
    Jislaaik!!!! Is ek nie trots op díe bruin-myt nie?! En dan is ek nog meer trots want sy's my eie bloedniggie!!! Haids, jy mag maar skryf ou nig - dêm proud of you!!! Jou tante Sybil sê ewe trots hier uit uit die hartjie van Windhoek: "Dai's net my neef Pietie Muller se tjint!!" Proudly Coloured...!!!
  20. Roberto
    2011/03/10 09:32:49 nm
    Kry glad hoendervleis! :) Mooi gese Haidee
  21. Norma
    2011/03/10 05:45:05 nm
    Haids, hoop nie die miere vreet om jou bekkie van al die jam nie, want beslis: JY HET DIT EN KLAAR!!!!!!! U GO GIRL!!!!!
  22. emo adams
    2011/03/10 04:51:30 nm
    Jy inspire my.....
  23. Lisa
    2011/03/10 04:43:05 nm
    Trots op jou!!
  24. Terry
    2011/03/10 04:40:21 nm
    Pragtig! Ek, wit vrou, salueer jou! Niemand anders sou dit met soveel klas kon sê nie. Ek haal my hoed af vir jou en elke liewe bruin vrou daar buite! Go girl, go!
  25. Petro
    2011/03/10 04:34:32 nm
    Vlymskerp Haidee!
  26. CHRISNA
    2011/03/10 03:57:02 nm
    Bushie, tot my toonnaels het nou omgekrul van lekkerte. Dis net jammer ek kon dit nie sit en lees met 'n glas rooies in my WIT hand, op die gras, terwyl jy jou verlekker in ons WIT mense se grassnoek nie. You go girlFRIEND. Jy verdien nie 'n prys nie, nee, eerder 'n OSCAR !! Ek gaan vannaand die Riel-dans doen - NET VIR JOU !!!
  27. Riana
    2011/03/10 03:15:06 nm
    You go tjanga!! Goed gedoen, baie trots op jou!!!!
  28. G-Girl
    2011/03/10 03:14:57 nm
    Sy kry nog skaam ook om haar regte naam te gebruik..... Nomakula...... hiehiehiehiehiehie!
  29. Stephanie
    2011/03/10 02:20:12 nm
    Uitstekend!! Fantasties!!!!! Ek werk saam bruin girls, en ek flippen love dit!! Geniet elke oomblik saam met hulle, en die sêgoed! Wens ek kon jou in lewende lywe ontmoet jong!
  30. Mariette
    2011/03/10 12:37:11 nm
    Uitstekend geskryf en ek "wit" of is dit "pienk" vrou salueer jou. Well done!!!!
  31. Pieter
    2011/03/10 12:31:35 nm
    Ek sien dit so.... ons twee vriende probeer eintlik sê dat die ANC die Kaap wil terug vat van die DA af & al manier hoe hul dit gaan regkry is om mos van ons ontslae te raak of na 'n ander provinsie toe te stuur.... Dom poepolle, dink hulle ons is regtig so stupid net omdat ons sodanig bruin / geel is.
  32. Maritza
    2011/03/10 12:26:42 nm
    Sjoe was dit nou lekker leesstof. ek het dit 2 keer gelees EN GEPOST OP MY PROFILE dit kan nie verlore gaan nie. Eks 'n trotse kleurling vrou met net 1 kind bwhahahahaa en "geleerd" hehehehehe.
  33. Archie
    2011/03/10 12:12:51 nm
    Onse star yttie hoorn... 10 uit 10 girl!
  34. Betina
    2011/03/10 12:06:27 nm
    Ditsem Haidee!
  35. Luna
    2011/03/10 11:41:12
    Goed gedoen. Hoop dit is die begin van vele. Ons moet almal praat as dinge ons pla - maar ons is te bang nê? Ek haal my (wit) hoed vir jou af.
  36. Anne-Marie
    2011/03/10 11:21:20
    Ek sou dit nie beter kon stel nie. Welgedaan!
  37. Charmaine
    2011/03/10 11:07:59
    100 Bedonerd, laat dit vir hulle 'n les wees! Ons is almal dieselfde kleur as die lig afgaan...
  38. Glori
    2011/03/10 11:07:28
    you go girl!!! Skerp, baie skerp.
  39. Susan
    2011/03/10 10:51:34
    Hi Haidee, baie goed gese... Ek is wit, maar ek wil opkom vir die bruines. Die kleurlinge is vir my deel van die Kaap. Ek het lank daar gebly. Wat is die Kaap/Wes-Kaap dan nou sonder 'n kleurling. Ek voel elkeen van ons, ongeag, watter kleur, het die reg om te bly en werk in watter deel van SA. Ek het in die Kaap al swart kollegas gehad van die Oos-Kaap. Sommige van hul is sielsongelukkig in die Kaap, omdat hul "roots" in die Oos-Kaap is. Hul familie is daar. Dit kos hul so baie om net af te reis Oos-Kaap toe, hul moet vir verblyf betaal in die Kaap. Waar hul in die Oos-Kaap by familie gebly het en hul finansieel beter af was. Hul kla oor die mense te veel Afrikaans praat in die Kaap, maar dis ons reg om Afrikaans te praat. Jy kan jou taal in jou private lewe praat soveel soos jy wil. Ek gun die Kaap vir die kleurlinge... En niemand kan mens dwing om te trek nie. En ja, ek het bruin vriende ook.
  40. Martjie Roos
    2011/03/10 10:18:28
    Touche, Haidee! As Kuli so uitgesproke is, moet sy bereid wees om die klappe,houe of watookal na haar toe terug kom, te vat!
  41. Ina du Toit
    2011/03/10 10:10:45
    Ek het nou so lekker toon omkrul lekker gekry toe ek jou brief lees. You go, girl!! Ek wens een van ons wittes het so goeie skryftaal gehad om te antwoord op al die kritiek en menings oor ons. Miskien kan jy dit vir ons doen. . . dan sal dit perfek geantwoord word
  42. Heidemarie
    2011/03/10 10:07:45
    “Dit is totaal onaanvaarbaar om nie bruin mense in elke sentimeter van die land te hê nie.’’
    Dit is heel duidelik dat hy self nie meer plek in ons land soek nie - Hy bemaak dan ewe vrygewiglik elke sentimeter aan die bruin mense.
  43. Fred
    2011/03/10 09:59:02
    So bek moet jam kry.
  44. theresa
    2011/03/10 09:58:04
    hehe j gevarrrrlik girlfriend!! U go girl!!!
  45. Yinny
    2011/03/10 09:52:46
    Stunning, jy het wragtig nou vir my paart ook dit gese...Well done!
  46. Rina
    2011/03/10 09:46:35
    Bravo Heidee, staan jou man of is dit vrou en "doe so voort" soos my ouma altyd gese het. Drink jou rooiwyn en eet jou snoek sonder om skaam te wees daarvoor,( proe beter as bier en pap)
  47. Ena
    2011/03/09 11:44:40 nm
    Haidee, daai bek van jou moet jêm kry. En sommer baie jêm ook. Ek sit en verkneukel my Hier Onder in Auckland oor daai meisiekind se bekkigheid. Ek kan haar hoor
  48. Renette Vosloo
    2011/03/09 10:01:51 nm
    Vestaaan djy! Sowat van Afrikaans darem uit 'n (bruin)girl se pen. Oi! jy verdien 'n prys.
  49. regan
    2011/03/09 10:00:01 nm
    Dit kan nie beter geskryf gewees het nie. Wel gedaan Haidee
  50. Carel Alberts
    2011/03/09 06:47:49 nm
    Stylvol, ordentlik, giftig. Class!
  51. Debbie
    2011/03/09 06:10:20 nm
    lekke djy bruin vrou! Dis goed dat ons bietjie opstaan vir ONS mense! Ons word te maklik aangevat en dan vat ons dit maar op die ken. Basta!
    Kuli en Manyi - not the brightest crayons. Omdat almal ok deesdae 'n platform het. Ai!
  52. elme
    2011/03/09 05:12:44 nm
    Ek is nog so 'n klora in haar dertigs sonder pienkvoetjies... Kuli en haar tjommie praat mos 'n klompie, hardlywige bollie. "We's been improvings ourselfs mos!"
  53. Terwin de Vos
    2011/03/09 04:04:42 nm
    Dit pla n mens nogal wanneer mense sulke nonsense kan kwyt raak, maar miskien maak dit ons ook bewus dat ons moet meer tyd spandeer om mekaar se kulture te waardeur voor ons praat.
  54. Audra
    2011/03/09 03:42:37 nm
    Amen! Ek stem saam jou Haidee. enuf said! sjoe jou pen is glad nie bang nie neh!
  55. Ricardo
    2011/03/09 03:25:57 nm
    Vriendin hoe lekker het ek nou hie in die stoel gesit en die besigheid van jou gelees. Dis nou amper of ek in jou mond(met al sy tande in) kyk en elke woord hoor ietkom. Slaat nog so n bloggie(Odn-bruin aksent) aanmekaar want jy mog(Ouma-Lenie het altyd so gese)blogg!
  56. Rochelle
    2011/03/09 02:53:42 nm
    LOL. Leggar. Looooove it. Jy mag maar skryf, hoor.

Kopiereg © 2010 Media24. Alle regte voorbehou.