Blogger:

Huisgenoot

Wêreldbeker, hier kom ons!

My geveinsde liefde vir sport het ek einde matriek saam met my kleurbaadjie in my kas gehang.

So bly soos ek was dat my skooljare finaal verby was, so bly was ek dat ek nooit weer op ‘n paviljoen hoef te sit en te kyk hoe spanne agter ‘n bal aanhardloop nie. Dalk sou dit gehelp het as ek verlief was op een van die rugbymanne, maar ek kon werklik nog nooit verstaan waarom jy vrywillig in ‘n skrum kan sak of getekkel word nie.

Nie dat ek dit ooit erken het nie. Trouens, tot die dag wat ons voor die altaar gestaan het, was my man oortuig ek is net so groot rugby- en krieketondersteuner soos hy. My Stormer-man kon nog vrede maak dat ek vir die vyand skree en het ewe vir my ‘n Blou Bul-hemp gekoop (wat ek gedra het), maar hy was werklik diep teleurgesteld en seergemaak toe hy uitvind ek het “onder valse voorwendsels” met hom getrou.

Met my sport-apatie in ag genome, moet ek dus erken ek was nie in die wolke toe ek gehoor het die Sokker Wêreldbeker gaan hier gespeel word nie. Om die waarheid te sê het ek van die begin af heimlik gedink ek sal sorg dat ek nie van 11 Junie tot 11 Julie 2010 in Suid-Afrika is nie.

Maar selfs ek kan nie meer verby die opwinding en die buzz kyk wat die Wêreldbeker bring nie. Wanneer ek in Durban is, vergaap ek my aan die nuwe stadion en Groenkloof in Kaapstad het nog nooit vir my so mooi gelyk nie.
En toe ek nou die dag Fifa se advertensiebord sien waarop ‘n blonde vrou oopmond glimlag met die woorde “Make sure you can say I was there” het ek geweet: Ék wil ook kan sê ek was daar. Ek wil ook eendag kan sê ek het dit ten volle beleef en ek was in hart en gees by toe ‘n stuk geskiedenis hier in Afrika afgespeel het.

Daar bly nou presies vier maande oor waarin ek gaan probeer om myself in ‘n sokker-liefhebber te verander. Ek wil so opgewonde wees oor die Wêreldbeker as wat ek is wanneer ek toevallig ‘n Girls of the Playboy Mansion-episode sien wat ek misgeloop het.

Ek wil saam met kenners bekommerd wees hoe ver Bafana-Bafana dit in die stryd gaan maak en ook in ‘n koor kla as ‘n skeidsregter ‘n verkeerde besluit neem – wat natuurlik beteken dat ek die reëls sal moet verstaan. Ek wil saam my kop skud as ek ‘n berig in die koerant sien dat ‘n Britse maatskappy spesiale pantserbaadjies verkoop om sokkeraanhangers teen messteke te beveilig.

My kollega Alet van Zyl, wat selfs die sportblaaie in die koerante lees, het ingestem om my te help. Sy wil ook haar sokkerkennis opskerp en beskou dit as haar plig om te help met my sportopvoeding.

Of my transformasie suksesvol gaan wees, sal ons maar moet sien. Maar ek weet ek wil probeer. Dit is immers presies tien jaar sedert ek matriek geskryf het en tyd om weer die kas oop te maak. En net dalk is daar wel ‘n speler in een van die spanne wat my celebrity-crush kan word en my vasgenael tydens ‘n wedstryd gaan hou. ‘n Ekstra trekpleister kan nooit skade doen nie.

Kollega Alet het juis Cesc Fabregas van Spanje voorgestel. Hy is nou sommer die agtergrondfoto op my rekenaar.

Wêreldbeker, hier kom ons!

- Lucia Swart-Walters (Joernalis, Huisgenoot)

Lucia en Alet van Zyl (ook 'n joernalis by Huisgenoot) gaan weekliks vertel hoe hulle begin geesdriftig raak oor die 2010 sokker wêreldbeker.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (5)


  1. adrie
    2010/03/29 04:11:18 nm
    Sjoe ek weet niks van sokker, maar ek is moeg van almal wat negatief is ek het besluit ek gaan n sokker span kies al ken ek niemand en ek gaan vir eers baffana skree daarna gaan ek elke span dop hou van die tv natuurlik en niks mis nie, die jaar gaan ek leer van sokker. Wie weet eendag sal ons land nomer 1 in sokker wees mag ek nog leef om dit te sien want die is n groot begin vir hulle sterkte bafanna.....
  2. Ian
    2010/03/12 08:27:13
    Klink bekend: n Volk & Vaderland in ruil vir n wereld beker ( n Lee beker in elk geval)
    Voorspoed vir hulle wat dink n sokker beker gaan ons mense ooit help. Maar net nog n lee bekereker
  3. Louis
    2010/03/04 08:14:29
    Is maar skepties as 'n verslaggewer sulke dinge kwytraak in 'n blog. Ek is seker sy is opdrag gegee om bietjie entoesiasties te wees oor World Cup 2010 en die massa aan te spoor.
  4. Petro
    2010/02/09 09:18:22 nm
    Ek sien net groot problems kom maar dit is my opinie en die kaartjie ding is so ingewikkeld meeste mense kan dit nie in die hande kry nie. Hier kom groot malakas as jy my vra...
  5. dpd
    2010/02/09 05:03:44 nm
    ek dink dis reg dat mense positief oor die sokker moet wees. Kyk net hoe is van die paaie oorgedoen en al sulke goed.
Jou naam: Jou e-posadres:

Kopiereg © 2010 Media24. Alle regte voorbehou. Built by Blueworld Communities