Tyd vir kalmte en leierskap...

E-pos
Print

 

10 April 1993. Paasnaweek. My troudag op ‘n plaas in die Vrystaat.

‘n Vriendin wat eers laatmiddag opdaag bring die nuus: Chris Hani is vanoggend voor sy huis in Boksburg doodgeskiet. As politieke skrywer het ek die charismatiese ANC-leier heel goed leer ken, maar ‘n paar mense by ons troue was vriende en sit in verslae stilte voor die trane begin loop.

Ons wittebrood is by die afgeleë Dwesa aan die Wildekus – dit beteken ons moet die volgende dag deur die hele Transkei terwyl die massas sied van skok, woede, hartseer. Daar’s reeds berigte van ANC-ondersteuners in dié ANC-hartland wat op wit motoriste skiet. Bantu Holomisa, toe nog leier van Transkei, belowe hy stuur sy hoof van veiligheid om ons deur die padblokkades te kry tot by Dwesa.

En sowaar, by die grenspos wag die generaal. Graffiti het oornag op die geboue by die grenspos verskyn. “Kill the Boers. F*ck Eugene Terre’Blanche. Die you white pigs.”

In die dae wat volg speel Tokyo Sexwale, naas Nelson Mandela, ‘n reuse rol om gemoedere te kalmeer. Ware leierskap kom na vore in tye van krisis.

Twee dae voor ons moet terug Johannesburg toe kom waarsku Dwesa se personeel: Chris word more in Umtata begrawe. Julle beter ry. Jy wil nie oormore ‘n witmens in die Transkei wees nie.

Emosies loop hoog, maar die begrafnis verloop met die soort dissipline en waardigheid waarvoor die ANC destyds bekend was. (Stel jou voor daar was ‘n Malema . . .)

‘n Politieke moord wat so maklik ‘n bloedbad kon afgee en die land in chaos kon dompel, word met groot verantwoordelikheid gehanteer en Suid-Afrika stap voort op die pad na demokrasie.

2010

Paasnaweek 2010. Eugene Terre’Blanche word in sy bed met pangas vermoor.

Ek onthou die talle AWB-vergaderings waaroor ek destyds berig het, die charismatiese man met die vuur in sy oë en poësie op sy lippe wie se politiek vir alle regdenkende Afrikaanses niks behalwe ‘n verleentheid was nie.

‘n Hitleragtige figuur wat deur die geskiedenis gerelegeer is tot ‘n potsierlike oom wat meer bekend was vir die feit dat hy deur sy eie perd afgegooi is as sy bydrae tot die politiek in die land.

Maar ja, in dood word baie dinge vergewe. Niemand kan nie geskok wees oor die gebeure van Paasnaweek 2010 nie.

En jy wonder, van die oomblik dat die nuus van sy wrede dood soos ‘n veldbrand deur die land – en oor die wêreld – versprei hoe Suid-Afrikaners dit gaan hanteer.

Dis weer ‘n tyd vir kalmte, selfbeheersing en leierskap.

Gaan ons so gelukkig wees soos in 1993? Net die tyd sal leer.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (32)


  1. n
    2010/04/23 02:00:44 nm
    Esmare, ons was nie nie gelukkig nie, dit was Gods genade en agv baie gebed. Die meeste van ons wil in vrede bly en vorentoe beweeg. Die probleem is dat ET se dood gekom het in 'n tyd, waar selfs HG vir Malema gevra het om asseblief tog net te sharrap. Die spanning in die land was tasbaar aan die opbou veral omdat die regering oënskynlik genieë is met Malema.

    Die voordeel van ET se wrede dood lê hierin:

    Vir lank is die plaasmoorde geignoreer binnelands en buiteland. En skielik is die fokus, hoe verdraaid ookal daarop. Die implikasie van die voorsetting van plaasmoorde, waarin die regering die boere blameer, kan verrykend wees as die al hoe minder boere boer om te voorsien in ons land se voedselproduksie. Ek dink nie die regeringsamptere wat so lekker kan paartie, besef wat kan gebeur as hier nie meer kos is die dag nie. Hierdie senario kan oornag onstaan, soos in Zimbabwe, of as daar oorlog uitbreek in die noordelike halfrond . Klink dit vir jou vergesog of dalk surrealisties. Hou die verloop van die volgende 2 jaar dop, dan praat ons weer
    Groete
  2. Anna Mart
    2010/04/19 02:57:37 nm
    Ja is dit nie maklik hoe mense ander veroordeel nie! Die arme man is nie daar om hom self te verdedig nie, ten minste was hy nie 'n lafaard nie hy het gestaan by wat hy glo! hoeveel van ons kan dieselfde se?? Dis mos makliker om net op 'n hoop te sit en dink dinge gaan vanself regkom! Almal veroordeel die man en wie van julle weet regtig wat in sy hart aangegaan het? Nie ek of een ander persoon kan iets kwytraak oor die man nie. Ek wens net die media wil ophou om 'n pot snot kwyt te raak wat nie gebaseer is op feite nie. As julle dan moet skryf, skryf oor dinge wat julle weet die waarheid is.
  3. c van jhb
    2010/04/17 02:46:19 nm
    Kyk dit is hartseer .. die manier wat ET dood is , die mense verantwoordelik moet boet .Maar nou gryp ons na enige strooi halem en praat ons van opstaan en om die nie-blankes te begin doodmaak. Dis nie 'n oog vir 'n oog nie. Wie gaan op die ou einde die prys betaal.... onskuldige baba's, kleuters en kinders gaan met hul lewens boet. Moenie weer die Geskiedenis herhaal nie. Die prys is te hoog. Dis nou tyd vir vrede en nie opstand nie, verdedig jou gesin maar moenie Malema gee wat hy soek nie.Hy lok ons uit en tart ons maar asn jy nie 'n vuur suurstof gee nie kan hy nie bly brand nie.
  4. Matilda Swart - Qatar
    2010/04/17 08:02:28
    Nou ja, so sit ek in 'n verre land en lees die on-line Huisgenoot. Die storie van ET het nou al hier ook so verspry dat die mense gewaarsku word om liewer nie SA te besoek nie! Ek kan nie glo dat wit of swart so kleinlik kan wees om nie te besef dat ons almal mense is nie. Almal wil tog 'n beter lewe vir hulself maak. Maar nou ja. As mense net besef dat net God die reg het om 'n lewe te neem, sal die kerke voller wees en die tronke leeg! Almal het die reg om 'n opinie te lewer, even Esmare! hou op kritiseer mense, lewe julle eie lewe!
  5. Vissie
    2010/04/16 02:39:33 nm
    @Irene Jacobs - Nou sê jy vir my...wat soek jy op Huisgenoot se webwerf as jy niks goed oor Huigenoot te sê het nie? Jy bly seker ook in 'n huis van glas! Passop as die klippe terugkom na jou kant :)
  6. PaulM
    2010/04/13 04:55:28 nm
    ET se dood en die manier waarop hy dood is, is in 'n groot mate simbolies. Sy laaste woorde(wat ek gehoor het) was profeties van aard. Mens het die indruk gekry dat hy spyt is oor sy verlede en dat hy as mens tot homself gekeer het. Op die manier het ek vir ET begin respek kry. Iemand wat op hierdie stadium iets slegs van ET se , se vir vir my ook dat hy nie die RSA van vandag kan ingaan sonder om vernynig te wees nie. Daar het immers aan wit en swart kant lelike dinge gebeut. Hou op om sout-pilaar te speel. Dit bring ons nerens. Pasop ,ET kan dalk 'n held word vir baie meer as wat julle ooit kan dink- tot ver in die buiteland onder ander nie SA-kaners.
  7. Eric
    2010/04/10 02:22:02 nm
    Goed gestel, ek het die artikel baie geniet, net jammer mense ken nie die betekenis van woorde in hulle eie "Boere"-taal nie. Jy bly 'n goeie joernalis.
  8. Nicolene
    2010/04/10 12:11:15 nm
    Ek verstom my oor hoe mense soms goed in 'n artikel kan inlees. Hierdie is nou net 'n doodgewone, feitelike artikel, sonder enige emosionele uitlatings. Ek het op 'n plaas grootgeword. Ek koop nie die Huisgenoot nie. Ek is nie 'n AWB-ondersteuner nie. Maar as ek na die kommentare hierbo kyk, skaam ek my regtig vir "my" mense wat sulke venynige persoonlike aanvalle maak en belaglikhede kan kwytraak. En ek kyk sommer met nuwe oe na "christene"... Om darem te wil voorgee dat die skryfster "tee kort" - klink vir my regtig Malema-agtig!
  9. henis
    2010/04/10 10:01:10
    ek was en is en sal nooit eens wees met eugene se politieke siening nie, maar glo tog dat geen mens dit verdien het om so wreedagtig vermoor te word nie... dit is doodeenvoudig barbaars!!!
    ek kan ook verstaan dat mense om hul eie behoud sy siening deel...
    ons is almal geregtig om van mekaar met respek te verskil...
    hy was nie net n politikus nie, maar ook eggenoot, pa, broer, vriend ens. gun diegene hul rouproses en hou op om sy dood te misbruik om mekaar by te kom...
  10. Petrus
    2010/04/09 03:57:18 nm
    Ek's jammer mense, maar iemand wat aan drank verslaaf was en sy vrou hoeveel keer verneuk het (sy was op die punt om van hom te skei) IS 'n potsierlike figuur en geen held nie. As wat werklik daardie dag gebeur het kort voor lank op die lappe kom, gaan julle mense wat hom so ophemel julle koppe in skaamte hang. Mark my words...
  11. nellie
    2010/04/09 12:56:21 nm
    tannie. kan jy perdry?
  12. Susan
    2010/04/09 07:16:42
    @Nico:
    Ag nee man, jou kommentaar is totaal onvanpas. Die "tee" insident met Steve is aanranding, plein en klaar, maar dis nie eers die onderwerp tans onder bespreking nie.

    Die moorde op Mnr Hani en Terre'blanche onderskeidelik was albei erg skokkend ( wie kan die beelde van Mnr Hani wat dood en bebloed in die oprit van sy huis le vergeet?) en het gemoedere hoog laat loop. Soos Esmare hoop ek mense kan nou Mnr Terre'blanche se moord hanteer sonder enige verdere onnodige bloedverlies. Mense moet ook nie Mnr Terre'blanche se dood probeer politiseer as dit nie die ware rede vir sy dood was nie. Ek het natuurlik geen "inside info" nie, maar AS dit waar is dat hy vermoor is oor 'n geskil oor lone, wat het dit met sy velkleur en poltieke sieninge per se te doen? Niks!

  13. Carol
    2010/04/08 06:27:34 nm
    Ek het vergeet om te meld nie boek waarna en vroeer verwys het, is die hoog
    aangeskrewe boek PLAASMOORD deur KARIN BRYNARD.
  14. Charlie
    2010/04/08 05:31:50 nm
    Is julle almal mal?
  15. Nico
    2010/04/08 12:37:17 nm
    Die arme joernaliste darrem. Jy sal weer onthou word as die potsierlike tannie met die tee in haar gesig..........."Wee die mens as hy sy respek vir die dood verloor"
  16. Bennie
    2010/04/08 09:29:53
    Goed gestel Esmare. Dit is jammer dat mense soveel hartseer veroorsaak. Meskien kan Huisgenoot 'n bydrae lewer deur gemoedere te help demp. Indien al die beskudigings en dreigemente voortgaan, gaan hier 'n groot gemors onstaan.
  17. Carol
    2010/04/07 05:06:08 nm
    EK wil nou graag 'n ander punt aanraak. Ek het die boek van Karin Brynard gelees. Ek wou dit eerstens lees want dit word hoog aangeskryf, tweedens lees ek 'n boek klaar en deel dan my siening. Ek is uiters geskok en terleurgesteld oor haar ydel gebruik van die Here se naam. En dat sy nog kan skryf, " God met die ysterore" vind ek totaal walglik. Daar is beter uitdrukkings en woorde wat sy kan gebruik as sy wou weergee hoe frustreerd en magteloos Beeslaar was. Ek bly toevallig in die gebied waar hierdie storie afspeel. en ek kan vir julle verseker die Polisiemanne en boere praat nie so vieslik nie. Al is die verhaal fiktief, is die ydelike gebruik van die die Here se naam onaanvaarbaar. As sy dit in 'n noodkreet-konteks gebruik het, het sy Hom direk aangespreek, maar nie soos sy dit gebruik het in 'n vorm van "SKEL" NIE. sies>
  18. Carol
    2010/04/07 04:47:49 nm
    Om sulke uitsprake te maak as 'n mede Afrikaner is pateties. Ons het nie sulke Afrikaners nodig nie. Ook nie jou tydskrif nie. ET is / was/sal wees 'n diep diep mens. Daai "potsierlike omie" het nie van sy perd "afgeval" soos jy dit wil uitmaak nie. Sy perd het gegly. Moerawiese verskil.

    Hein jy moet ook seker maak van jou feite. Daar bly nie 17 000 +"donk' facebook lede in Ventersdorp nie. Hy was 'n gerespekteerde figuur. Al het almal nie saam gestem met sy siening nie, was hy nie bang om sy standpunt te stel nie.

    Aan Eugene Terre’blanche

    Seun van die Afrikaner volk
    Met die stukkie hemel in jou oë
    Met die stem van ‘n bruisende golf
    Hoe wreed is jy nie vermoor

    God sal jou wonde aanraak
    Hy sal jou weer heelmaak
    Vir de Afrikasner volk het jy gesterf
    Mag jy God se genade erf.

    .’n Legacy het jy nagelaat
    Die Afrikaner volk is in rou
    Maar ons sal opstaan en aanhou bou
    Want by God is niks te laat

    Hier gaan dit nie nou oor wie en wat hy was nie. Hy is NOG 'n BLANKE AFRIKANER BOER wat vermoor is. Word wakker. Esmare Weideman en mense soos Hein.





  19. Ina Arena
    2010/04/07 03:13:33 nm

    Ek dink al is Eugene Terblanche dood gaan hy nog steeds nie rus totdat die hele wereld kan sien wat eintelik in Suid Afrika aan gaan. Kinders word vermoor, mense vlug van die land, groot mense en kinders is te bang om te slaap. Op die nuus in Europa,Australia, Amerika, wys hulle nie die waarheid nie. Hulle kollekteer geld vir Suid Afrika maar die geld is in die verkeerde hande en ons mense ly. Eugene was baie kwaai en ek stem nie altyd saam met sy idees nie maar dalk is sy dood die begin van verandering. Dalk kan ander lande nou sien hoeveel misdaad daar is. Hulle moet kriminele wat vermoor toesluit vir die res van hulle lewe. Dis tyd dat Suid Afrika ons land is, wit,swart maak nie saak nie maar die tsotsies en die fieslike moordenaars moet van die strate af.
  20. Nog nie eers koud nie..
    2010/04/07 12:19:08 nm
    Ek het geensins saamgestem met Eugene of die AWB se politieke sieninge nie.Maar ek dink tog om hom 'n potsierlikke omie te noem gaan jou die gramskap van baie right wingers op die hals haal.Die man se lyk is nog nie eers koud nie en jy lewer 'n BAIE politiek aangevuurde relaas.
    Moet die Huisgenoot wat ek gereeld aanlyn lees omdat ek oorsee woon,nou daal na die Son of die Keur se standaarde.Nee man.
  21. KDP
    2010/04/07 10:14:50
    Net omdat iemand afsterwe beteken nie, die persoon moet vergewe en vergeet word van al sy sondes nie - en mens moet skielik net mooi goed praat nie. Baie van julle wat so pro ET is, het waarskynlik lelike goed te se gehad toe Manto dood is? Elk geval - die manier waarop ET dood is, is erg verkeerd want geen mens verdien om vermoor te word nie... Maar hy verdien allermins al die "hype", publisiteit en emosies - nes Julius Malema nie al die aandag verdien nie. Beide is verteenwoordigers van radikale minderheidsgroepe wat eerder onstabiliteit wil bewerkstellig. In my opinie het ET nooit iets gedoen om oor trots te wees nie - mens kan sy manier om mense op te gesweep het bewonder, maar dis wat net "all talk".
  22. Firefairy
    2010/04/07 07:49:27
    Ek dink ook werklik die artikel is onsmaaklik en ongevraagd. Ek stem ook nie noodwendig saam met die AWB se sieninge nie. Was ook nooit 'n ondersteuner van die party nie. Ek verbaas my dat jy jou so uitspreek oor die politiek in 'n gesinstydskrif. Dis duidelik waar jou prioriteite lê. Praat van in dood word baie dinge vergewe. Watse dinge bedoel jy? Wat van hê net bietjie respek vir die dood. In plaas van om E.T. as 'n "potsierlike" omie uit te kryt kon jy maar liewer net stilgebly het en jou mening hier vir jouself gehou het. Of jy weet nie veel van politiek nie of jy soek nou skoor met duisende mense wat bitter kwaad is. Met hierdie artikel was jy nou werklik nie "verantwoordelik" soos jy dit self stel nie. Ek meen jy sê in duidelike afrikaans dat Hani se dood almal tot trane gehad het en net in die volgende paragraaf dryf jy openlik die spot met 'n blanke leier wat ook vir sy regte gestaan het en vir sy mense in die bres getree het. Pasop dat jy nie een van die mense is wat met hierdie artikel 'n bloedbad gaan ontketen nie. Demmit man, jy is die grootste verleentheid in hierdie verhaal. Ek kan nie glo dat ;n redaktrise van 'n "gesinstydskrif" so blatant 'n opstokery kan begin nie. Ek hoop jy vra jou duisende lesers onverskoning oor hierdie stupidity.
  23. Annabelle
    2010/04/06 10:04:18 nm
    Dis vir my opvallend hoeveel jy geskryf het oor Hani en dat dit so lyk of jy jammer voel dat hy gesterf het, maar baie minder te sê het oor Eugene Terre'Blanche en dat dit boonop lyk of dit jou nie werklik pla dat hy oorlede is op so 'n wreede manier nie! Ek het nie altyd saamgestem met wat hy kwyt geraak het nie, maar ek verafsku die manier waarop hy aan sy einde gekom het. Boonop gaan sy moordenaars WEEREENS skotvry kom, terwyl Hani se moordenaars steeds tronkstraf uitdien! Jammer, maar ek dink hierdie artikel was nou regtig ongevraagd!
  24. Danie
    2010/04/06 05:08:26 nm
    Ek dink die vrou kort nog 'n koppie tee. Het die link op die net gekry en kom kyk want ons koop in elk geval nie haar tydskrif nie.

    Dis uiters swak van jou mevrou. Roep vir Steve sy klink dors. Ek skaam my vir jou soort.
  25. Englie Botha
    2010/04/06 03:21:17 nm
    Hoe lank hoor ons nie meer van Oom Eugene nie. Hy was rustig midde - in hierdie politieke chaos wat al die afgelope hoeveel jaar net vererger. Om net deur Johannesburg te ry, skud jou binneste jou tot onmenslike onrustigheid. Alles word geplunder, verniel en geminag. Ons Suid - Afrikaanse eens trots geboue, huisves 'n klomp mense wat nie eens in ons land behoort te wees nie en dan word hulle nog jammer gekry deur sekere stiksienige mense. Chris Hani se dood het gekom in 'n tydperk waar hy 'n bedreiging was. Ons hoef nie die onmenslike dade van hom hier op te noem nie. Waarom is Oom Eugene nie destyds vermoor toe hy nog sy stem dik gemaak het oor ons Suid - Afrikaanse velde nie? Ek glo hy is gedood as voorbeeld dat Malema en sy mense ons minag en dat ons moet weet dat dit net die begin is. Almal staan geskok oor al die moorde, verkragtings, onvoerdings en plunderwerk, maar die nasie word nie geskud nie. Nou word juis 'n figuur wat deur sekere bevolkingsgroepe geglo word die sogenaamde "Whities" se leier is, gedood om net vir ons te wys dat daar nie keer aan hulle is nie. Die pa van een van die aangeklaagtes reken dit was oor geld en nie rasisties nie, nou is my vraag: "As my werkgewer my nie aan die einde van hierdie maand betaal nie, weens watter rede ook - al, mag ek nou maar reg in eie hande neem en hom uit die samelewing op 'n brutale manier, verwyder?" Met 'n leier wat nie skroom om "Kill the Boer" te sing nie, omrede hy dit al van 9 jarige ouderdom af sing, kan ons net verwag dat sy volgelinge tot sulke dade sal oorgaan. Die dood oor Paasnaweek 2010 is 'n goed deurdenkte plan gewees. Al wat ons te doen staan is om te bid dat al hierdie mense wie se dade deur Satan beheer word, sal gebind word met die krag van ons Vader.
  26. Johanna Brown
    2010/04/06 03:15:50 nm
    Ek was baie geskok om te hoor Eugene is so wreedaardig vermoor, ek wonder net wanneer die regering se oë sal oopgaan en iets daadwerkliks doen aan al hierdie wreede plaasmoorde, dit is iets verskrikliks en kan nie goedgepraat word nie. Julius Malema moet gestraf word, hy is 'n gifangel en hits die mense aan om te moor. Ek hoop die skuldiges sal die staf kry wat hulle verdien. My innige simpatie aan Eugene se naasbestaandes, mag God julle in die palm van sy hand hou en vertroosting bring.
  27. Engela
    2010/04/06 03:08:39 nm
    Die nuus het ons getref met 'n groot skok. Ek wou dit eers nie glo nie. Dit is immers Eugene Terre'Blanche van wie ons praat. Maar toe die werklikheid eers begin insink kry ek 'n gevoel van 'n yskoue hand wat my hart omvou: wat nou? Gaan die AWB regtig wraak neem, en wanneer gaan dit gebeur? Die wereldbeker is om die draai en die hele wereld se oe is op Suid Afrika gerig. Gaan die ondersteuners en toeriste nog kom? Mens kan hul nie kwalik neem as hulle nie opdaag nie, Suid Afrika is immers bekend as 'n redelike geweldadige land en hierdie is 'n plofbare situasie. Wat gaan gebeur as die wereldbeker weggeneem word van Suid Afrika af? Wie gaan vir die stadions betaal? So baie vrae!

    Maar midde in al die chaos vergeet ons amper dat Eugene die laaste ruk maar net 'n gewone man was met 'n familie. Ons innige simpatie gaan aan al sy familielede en vriende. 'n Groot man het gesterf, maar vir baie Suid Afrikaners sal hy vir ewig lewe! Rus in vrede, Eugene Terre'Blanche!

  28. Chris
    2010/04/06 02:43:50 nm
    Esmaré Weideman het jy nie respek vir die dood nie.

    Jy is 'n helse verleentheid om 'n hou te swaai na iemand wat oorlede is.

    Dit maak nie saak wie hy was nie, Hani of Eugene, 'n mens uiter nie sulke swak kommenteer nie.
    Hy het geliefdes net soos jy.

    Sies man, ek is skaam om 'n Suid Afrikaner te wees.
  29. Hein
    2010/04/06 02:40:21 nm
    Goeie opsomming Esmare. Enige dood is tragies en verkeerd. Die verskil tussen Hani en Tere'Blanch is dat Tere'Blanche slegs 'n hantjievol dronkies in Ventersdorp verteenwoordig, terwyl Hani 'n gerespekteerde en populere leiersfiguur was.
  30. Irene Jacobs
    2010/04/06 02:17:05 nm
    Haai soek jy sensasie want dit is mos maar wat die Huisgenoot is net n sensasie tydskrif
  31. Raymond Lans
    2010/04/06 02:07:31 nm
    Hoeveel tyd - Hoeveel kalmte - Hoeveel selfbeheersing is nodig met die LEIERSKAP van die ANC en ANCYL. Wat is hulle agenda? en waar wil hulle ons heen vat?
  32. Kotie Bouwer
    2010/04/06 01:59:34 nm
    Ongeag of dit Eugene is wat dood is of nie. Dit bly ontsaglik hartseer dat enige mens se lewe so brutaal kort geknip word. Of dit 'n kind is of nog 'n boer dit bly dieselfde. Eugene was baie kontroversieel maar hy het met passie geglo in dit wat hy gedoen het. Of ons daarmee saamstem of nie, is 'n persoonlike keuse. Ek bid net vir vertroosting vir daardie gesin en familie en dat reg en geregtigheid sal geskied. Verder kan mens net bid vir Goddelike ingryping in hierdie moeilike situasie waarin ons land se mense hulle bevind.