10 April 1993. Paasnaweek. My troudag op ‘n plaas in die Vrystaat.
‘n Vriendin wat eers laatmiddag opdaag bring die nuus: Chris Hani is vanoggend voor sy huis in Boksburg doodgeskiet. As politieke skrywer het ek die charismatiese ANC-leier heel goed leer ken, maar ‘n paar mense by ons troue was vriende en sit in verslae stilte voor die trane begin loop.
Ons wittebrood is by die afgeleë Dwesa aan die Wildekus – dit beteken ons moet die volgende dag deur die hele Transkei terwyl die massas sied van skok, woede, hartseer. Daar’s reeds berigte van ANC-ondersteuners in dié ANC-hartland wat op wit motoriste skiet. Bantu Holomisa, toe nog leier van Transkei, belowe hy stuur sy hoof van veiligheid om ons deur die padblokkades te kry tot by Dwesa.
En sowaar, by die grenspos wag die generaal. Graffiti het oornag op die geboue by die grenspos verskyn. “Kill the Boers. F*ck Eugene Terre’Blanche. Die you white pigs.”
In die dae wat volg speel Tokyo Sexwale, naas Nelson Mandela, ‘n reuse rol om gemoedere te kalmeer. Ware leierskap kom na vore in tye van krisis.
Twee dae voor ons moet terug Johannesburg toe kom waarsku Dwesa se personeel: Chris word more in Umtata begrawe. Julle beter ry. Jy wil nie oormore ‘n witmens in die Transkei wees nie.
Emosies loop hoog, maar die begrafnis verloop met die soort dissipline en waardigheid waarvoor die ANC destyds bekend was. (Stel jou voor daar was ‘n Malema . . .)
‘n Politieke moord wat so maklik ‘n bloedbad kon afgee en die land in chaos kon dompel, word met groot verantwoordelikheid gehanteer en Suid-Afrika stap voort op die pad na demokrasie.
2010
Paasnaweek 2010. Eugene Terre’Blanche word in sy bed met pangas vermoor.
Ek onthou die talle AWB-vergaderings waaroor ek destyds berig het, die charismatiese man met die vuur in sy oë en poësie op sy lippe wie se politiek vir alle regdenkende Afrikaanses niks behalwe ‘n verleentheid was nie.
‘n Hitleragtige figuur wat deur die geskiedenis gerelegeer is tot ‘n potsierlike oom wat meer bekend was vir die feit dat hy deur sy eie perd afgegooi is as sy bydrae tot die politiek in die land.
Maar ja, in dood word baie dinge vergewe. Niemand kan nie geskok wees oor die gebeure van Paasnaweek 2010 nie.
En jy wonder, van die oomblik dat die nuus van sy wrede dood soos ‘n veldbrand deur die land – en oor die wêreld – versprei hoe Suid-Afrikaners dit gaan hanteer.
Dis weer ‘n tyd vir kalmte, selfbeheersing en leierskap.
Gaan ons so gelukkig wees soos in 1993? Net die tyd sal leer.