Onlangs skryf ’n leser in ons susterstydskrif YOU: ‘‘I wonder how many other readers are still making the Romany Creams from the recipe that appeared in YOU dated 4 March 1999. I’ve made them many times and they are the best homemade biscuits ever . . .
Die tydskrif is skaars op straat of die e-posse en versoeke begin instroom. Almal wil daardie resep hê. Ek gaan trek die resep. En ai, die soet herinneringe . . . ek onthou dit nog soos gister. Dit was die begin van sagte lig, ons eerste daglig-fotosessie in die ateljee, geen ligte, net natuurlike lig wat saggies by die venster ingeval het. Ons moes rats wees, want die son skuif vinnig en waar hy gaan, daar toer ons met kamera en koekies al agterna.
Ek beloer die resepte weer – saam met daardie Romany Creams was daar nog gemmerkoekies, speserykoekies, hawermoutkoekies, koffiekoekies en vanieljekoekies. En was hulle nie lekker nie.
Ek vra sommer dadelik op Facebook vir ons lesers van watter koekies hulle die meeste hou. Die kommentaar stroom in, Romany Creams uiteraard, soetkoekies, koeksisters en hawermoutkoekies; brosbrood, bruintjies en sandkoekies (ek wil my verstout om te sê dis ook brosbrood, nè?), so hou die lys aan en aan. Sommige ouens hou van gekoopte koekies, soos Johan van Wyk wat Zoo-koekies boaan die lys sit. ‘‘Kyk, ek is glad nie ’n suikertandmens nie, maar vir daai koekies sal ek ’n chimp rol,’’ skryf hy.
Daar het julle dit, huiskoekies laat jou terugverlang na die onthoue van jou kinderdae, van onvergeetlike seevakansies en verbode middernagfeeste op ’n laaste-dag-van-die jaar-aand in die skoolkoshuis. En vir my maak dit heerlike boustof aan my volgende kosartikel, en ek kan nou self nie meer my lus beteuel nie.
Van Facebook gepraat, so laat ek my toe ook mos uiteindelik aanteken op Facebook. In my e-pos-posbus kry ek darem dadelik versoeke van mense wat my as ’n vriend wil aanneem. Ek’s verlig; dink nou maar net hoe aaklig sou dit wees as niemand my wou uitnooi nie.
Dit vat ’n hele tydjie voor ek tog sover kom om weer aan te teken; vir eers vergeet ek my kodewoord en om sommer net die minste te sê, die hele besigheid het my half so effe op my naarte. Voel alte veel vir my asof jy darem daar baie uitverkoop is; dink net wat kan die mense dan nie alles van jou sien en kwytraak nie. My assistente (en my kinders) wys my mooi, moenie sommer enigiets op jou ‘‘wall’’ gaan skryf nie, maan hulle, dan kan almal dit lees, stuur dan eerder ’n spesiale boodskap vir die persoon – ek sê mos – ‘‘scary stuff’’, so asof ek dan nie al katvoet genoeg is nie.
Terwyl ek juis so aan die rondtoer is oral in die digitale duisternis, sien ek skielik my foto pop op met ’n duimwystekentjie by: ‘‘Carmen Niehaus likes this’’. Ek skrik my buite weste; ek kan nie eens onthou dat ek daardie onderwerp êrens raakgelees het nie, wat nog te sê dat ek daarvan sal hou! Sal versigtiger moet wees en ligvoets moet loop, maan ek myself en raak net nog meer agterdogtig oor hierdie hele speletjie.
Terselfdertyd begin ons elke dag ’n resep op Huisgenoot se webbladsy plaas. En as jy nou ’n gepraat aan die gang wil sit, dan moet daar kos in die omte wees. So gaan kyk ek getrou op die web wat die kommentaar daar is oor die resepte, ’n mens wil immers weet of jy op die regte pad is. Ons is in die kol, lyk dit my; die kommentaar is positief en ons word sommer baie gekomplimenteer oor die lekker resepte.
Borsuitstoottyd, sou ’mens dink, maar hier laat een middag, ná ’n dag se geswoeg in die ateljee (verkeerd, stilering voel nooit vir my na werk nie, eerder na speel, maar dit put jou uit, gehoor), kom my assistent, Bernice, grootoog by die ateljee in. ‘‘Kom kyk wat skryf hulle oor ons vinnige hoenderkerrie op Facebook.’’ Ek’s verbaas, het immers op die web gekyk en daar was die kommentaar baie positief. ‘‘Dis nou ’n resep so reg na my smaak! Vinnig, smaaklik en nie doodgewoon nie. Gaan dit die naweek vir ons maak,’’ skryf ene Anita.
Ek bel ons webredakteur: ‘‘Sien ’n mens nie dieselfde kommentaar op die web as op Facebook nie?’’ wil ek geskrik weet. Uiteraard toe nie en mense is op Facebook baie meer uitgesproke as op die web, vind ek toe ook mos uit. Daar’s ’n bietjie te veel luxuries, dis te duur, klink na te veel werk, en ure se shopping vir daai snaakse-naam-sampioene en vissous en tandooripasta, word daar uitgewei; pastoriehoender klink baie makliker.
Ek besef nou (wat ek toe nog nie lekker gekop het nie) dat ’n mens die web baie lekker vir jou kan laat werk. Anders as in die tydskrif, waar plek altyd ’n probleem is, is ruimte op die web so groot soos die Heer se genade, ’n mens kan maar vertel en uitbrei en verduidelik so veel as wat jy wil.
So probeer ek mos nou al jare om ‘‘met pakkies kook’’ uit ons resepte te ban. Maar eintlik is dit nou weer net mooi terug met ons, maar net in ’n heel ander gedaante. Pleks van soppoeiers soos van ouds is daar nou kerriepastas (groenkerrie, rooikerrie, geelkerrie, tandoori-en-tikkakerrie), pesto’s en allerhande ander geurgoedjies op ons winkelrakke waarmee ’n mens tog te lekker kan eksperimenteer om binne minute kos op tafel te hê. En jy spoor dit nie net in Woolies op nie; dit staan ook Checkers en Pick n Pay se rakke vol.
As jy dit egter nie kan kry nie, gebruik sommer doodgewone kerriepoeier en maak die sousie daarmee aan. Net so kan doodgewone sampioene en enige ander groente, al is dit tot bevrore, in die plek van die sjitake-sampioene gebruik word. Moes dit van die begin af so by die resep verduidelik het. Ai!
Moet tog nie die beskeie pakkie mielieblom in jou koskas miskyk nie – daarmee gee jy ’n brosserigheid aan kos wat jou sal laat dink jy eet Kentucky Fried Chicken reg uit die diepvetbraaier se maag – ’n ou truuk van my wat ek sommer maar so terloops uitgevind het, net sonder al daai sondigheid. Pleks van oudag se room, sit ek jogurt by, net so lekker romerig, maar sonder al die skuldigvoel . . .en ons eet net ál lekkerder.
So wat ek eintlik wil sê, is ek wil net almal wat so getrou kommentaar lewer hartlik bedank, want as dit nie was vir byvoorbeeld al die bogenoemde kommentaar nie, het ons nie geweet ons gee julle nie heeltemal waarna julle soek nie.
Ek het vinnig geleer: Gebruik die luukse van baie ruimte op die web en verduidelik breedvoerig, dan hoef niemand skrikkerig te wees vir ’n ietwat ongewone resep nie. Want is dit dan nie juis die ding van ’n resep nie – niemand wil tog aldag rys, vleis en aartappels eet nie.
En ek sal van nou af ekstra ligvoets moet loop!
Resep vir Romany Creams - KLIEK HIER