Ek het myself belowe ek sou hierdie week ‘n paar sokkerreëls onder die knie kry.
Want buiten dat ‘n fluitjie blaas, een span die bal skop, die ander span probeer keer en jy uiteindelik ‘n punt aanteken wanneer die bal in die doelhok beland, ken ek geen reëls nie.
Maar, ongelukkig, het ek reeds my eie reël – om die sokkerreëls te bestudeer – gebreek. Ek wil egter die volgende verskonings aan die skeidsregter voorhou:
1. Ons is besig om te trek. Enigiemand wat al getrek het, weet twee weke voor die trek staan die hele huis vol bokse en bubble wrap. Dit help ook nie dat ek absoluut daarop aandring dat ons boeke in alfabetiese volgorde in die bokse gepak moet word nie. En dat elke dingetjie in die kombuis gewas moet word voor die versigtig toegedraai word en in ‘n boks gepak word nie. Dus sal julle verstaan as dit my baie lank vat om te pak.
2. Omdat my man se geduld met my om verstaanbare bogenoemde redes tans minder is as gewoonlik, is hy nie so gretig om vir my ‘n sokkerles te gee nie. En my man is die enigste persoon wat paralelle kan trek tussen sokker en E! Entertainment sodat ek dit kan verstaan.
3. Dan het ek ook die fout gemaak om my man se sokkerhemp aan te pas. Hy dra dit elke Vrydag as deel van Soccer Friday. Ek het gedink ek sal dit gaps soos ek gereeld geld uit sy beursie gaps. Maar ongelukkig was dit soos yswater op my sokkerlus. Ek lyk soos Lala in die neongeelgroen hemp. Al wat ek kort is so ‘n regop antenna op my kop om soos Lala die telytubby te lyk. Dit het my diep en innig ontstel. My ydelheid het my vir ‘n paar dae alle koerantberige oor sokker laat opfrommel.
Ek besef die Wêreldbeker gaan my bekruip soos die laaste 5 kilogram wat jy optel. Daardie laaste ek-gaan-volgende-week-begin-dieet-en-as-jy-weer-weeg-is-dit-5 kg-meer. Dus weet ek ek sal vinnig ‘n plan moet maak om my sokkergeesdrif weer aan te wakker.
Toe koop ek maar ‘n vuvuzela. Dit is nogal moeiliker as wat ek gedink het om die trompetgedoente te blaas. Jy moet “brrrrrrrrr” maak met jou lippe om ‘n geluid uit te kry. As daar bietjie spoeg spat, weet jy jy is op die regte pad – tot jou buurvrou uit haar woonstel skree dat jy moet stilbly en die sekuriteitwagte ‘n paar minute later aan jou deur kom klop om jou aan die kompleksreëls te herinner.
Maar daardie reël is een wat ek van nou af gereeld gaan breek (en gelukkig trek ons mos binnekort). En dalk gee dit my genoeg inpirasie dat ek by my eie reël kan hou om die sokkerreëls te leer.
- Lucia Swart-Walters
Lucia Swart-Walters en Alet van Zyl vertel weekliks hoe hulle begin geesdriftig raak oor die 2010 sokker wêreldbeker.