Ek kan my geluk nie glo nie. Huisgenoot besluit toe mos om die naweek van 15 Oktober die Hart van Windhoek-fees in Windhoek aan te bied. En dit met groot name soos Kurt, Nicholis en Juanita wat almal die naweek gaan optree.
En ek moet bietjie kosstories gaan gesels met die groot kosmakers van Namibië, oor hoe almal eet van bo uit die noorde tot onder in die suide.
Om dit te kan doen moet jy darem ’n bietjie voetwerk gaan doen en eerstehands uitvind waarvan hou die mense daar, en sommer op die koop toe ook met ’n kosstorie terugkom. En dis toe dat ek die eerste gelukkie kry – ek kan vir ’n week daar gaan kuier, net om oor ’n paar weke weer daarheen te gaan.
Ek verklaar sommer prontuit en sonder skaamte dat ek mal is oor Namibië. Daarom gaan ek en my gesin al om die ander jaar soontoe vir ’n lekker wegbreekvakansie – die uitgestrekte vlaktes, barre veld en pragtige sonsondergange maak my hart week.
En dan is daar natuurlik nog die kos en die mense, so gasvry en vriendelik en altyd behulpsaam. Juis toe ek bel om met een van Windhoek se groot kosmakers, Antoinette de Chavonnes Vrugt, te gesels, nooi sy my dadelik. “En julle kom bly sommer by my. Ek en Chris is nou alleen tuis met die kinders nou almal uit die huis.” Ek sê nie nee nie.
Skemeraand kom ons pootuit by hul huis aan, nogal trots op onsself dat ons net gewapen met ’n adres en sonder aanwysings of ’n GPS die plek gekry het.
In die vuurherd knetter die vuur al (Namibiërs, kom ek agter, maak sommer vinnig ’n vuurtjie, selfs op ’n weekaand) en gou-gou lê ons weg aan Chris se spesialiteit, Kamanjab-steaks (wild natuurlik) in ’n romerige sampioensous, gemaak met Namibië se eie truffels wat slegs ná ’n reënbui kop uitsteek. Daarby spinasie uit hul tuin op die plaas buite Gobabis. Ons smul. By ons voete slaap Koerie, die mak meerkatjie wat hulle wees langs die plaaspad gekry het.
Ná die oggend se koffie en beskuit is dit tyd om die res van ons paneel koskenners te ontmoet – die een so bekwaam soos die ander: Buiten Antoinette is daar Sanet Prinsloo, Annette de Waal, Sanna Vries, Tina Isaacks en Rebekka Hidulika. Ek leer gou daar is ’n wye verskeidenheid invloede wat aan Namibiese kos sy unieke geure en smake gee.
Deels dieselfde as in Suid-Afrika, maar tog ook net so verskillend, veral met die Duitse en Angolees-Portugese tot die inheemse koskulture wat so sterk deurkom. En met dié dat wild so volop daar is, is hulle natuurlik jagters en wildsvleiseters by uitstek.
Die paneel moet besluit wie sy sê sal sê oor elke kultuurinvloed en watter resepte ons gaan berei vir die artikel.
Rebekka, wat pas haar Fusion-restaurant in Windhoek oopgemaak het, vertel ons meer oor die Ovambo-eetkultuur, ek leer van ukundu (blarebredie) en oshingali (swartbekboontjiebredie), asook marathonhoenders, daardie vrylopende werfhoenders wat heel in ’n swartpot met water gekook word tot hulle uiteindelik sag is.
Tina en Sanna kan ’n mens ure vermaak met mooi staaltjies uit hul Damara-Nama-eetkultuur – soos doodgooi (beentjiesvleis met broodkluitjies bo-op) en “cowboys & crooks” (stampmielies en bone) wat hulle gereeld as kinders gekry het om te eet terwyl die grootmense aan ’n vars slagding smul.
Annette is ’n plaaskind uit Omaruru se wêreld en sy onthou goed die slagdae op die plaas – van die heel gedroogde springbokribbetjies wat hulle soos biltong geëet het tot Ma se lekkerste droëwors waarvan hulle die puntjies altyd skelmpies afgeknibbel het terwyl dit besig was om te droog. En dan is sy by uitstek ’n maker van pampoenkoekies met ’n kortpad-karamelsous daarby.
Hoewel sy nou nie self Duits is nie, besluit Sanet dat sy die Duitse invloede op die Namibiese kookkultuur baie interessant vind en bied aan om vir ons Koningbergse klopse (frikkadelletjies in kappertjiesous) te maak. Antoinette, skrywer van die eerste Namibiese kookboek, My Hungry Heart: Notes from a Namibian Kitchen, en reisiger en kookboekversamelaar, eet graag by O’Portuga, ’n Portugese restaurant, en haar bod val op die Angolees-Portugese invloede op Nambiese kos. Sommer gou-gou is almal se resepte uitgesorteer en elkeen weet wat om te maak en wanneer.
Ons gaan saam met Sanet op ’n verkenningstog deur die dorp. By die Katakura-hospitaalmark, die wegneemeteplek vir die hospitaalmense, sien ons vinnig waarvan die mense alles hier hou. Daar is mopaniewurms en ukuku (vetkoek), omohaka (’n soort chorizo-worsie) met slaptjips, beespote wat in water opgekook is, milt en kerriestokvis.
Alles word behendig in groot potte op klein gasstofies gaargemaak, elk met ’n kartonomhulsel om te keer dat die vet nie te veel spat nie. Die aanloop is groot, dis die einde van die maand en die mense kan geld afknyp vir ’n smuldingetjie.
Duitse invloed
Namibië was lank ’n Duitse kolonie en Duitse winkels is oral. Woerman Brock en Superspar met sy Raith-delikatesse is bekend in Windhoek vir hul Duitse produkte soos kouevleise, brode, gebak en speserye.
Ons roep halt vir ’n vinnige broodjie in Spar se deli, veral die Brötchen met rou vleis waarvoor die Namibiers so lief is, moet ons probeer. Vir soetigheid by die koffie koop ons Schweine Ohren (varkore), nog iets waarvoor Namibiërs hul siel sal verkoop.
Die volgende dag se afneem van die geregte verloop voor die wind. Ons neem mooi foto’s met rekwisiete wat ek oral uit Antoinette se kaste uitgrawe – en daar’s baie: pragtige silwer- en imposante bakke wat enige kos mooi sal laat lyk. Uitgeput ná ’n vol dag van fotografie kies ons O’Portuga om te gaan eet en daarna sluk ons ’n paar Jägermeisters in Joe’s Beerhouse af. Jy kan tog nie Windhoek toe gaan en nie by hierdie gewilde kuierplek inloer nie.
Maar hier teen Woensdag se kant begin Antoinette te kriewel. Sy wil graag plaas toe, sowat ’n uur en ’n half se ry van Windhoek af.
Ek, self ’n plaaskind, is ook nie links nie en net daar pas ons die fotografieprogram aan. Tina se Doodgooi en Sanna se potbrood met kaiings gaan mos veel mooier in ’n plaasomgewing vertoon as in ’n dorpstuin, is ons verweer.
Skemeraand vertrek ons, met vele vermanings om tog op die uitkyk te wees vir al die wild wat saans pad se kant toe beur – veral die vlakvarke hou daarvan om stert orent oor die pad te skarrel nes jy aankom.
Vroegoggend is dit die haan wat ons wakker kraai en ons maak vinnig tyd om gou bietjie veld toe te ry terwyl Tina en Sanna sorg dat die potbrood en Doodgooi gaarkom. Ons sien koedoes en gemsbokke asook ’n likkewaan wat lui voetjie vir voetjie oor die pad stap. Laatmiddag klim ons die klipkoppie uit om die skeloranje sonsondergang af te neem, onder in die vlak dwaal ’n bees, en jy verbeel jou dis ’n buffel.
Daardie aand eet ons Nasi Goreng (’n Hollandse rysgereg waarmee ek ook grootgeword het) wat Antoinette se Hollandse skoonma met groot sorg vir ons berei het. Daarby die oorskiet van die Swakopmund-seekospot wat ons afgeneem het en slaai gemaak met vars slaaigoed uit die tuin. Die skemeraand word donkerstil en Koerie slaap knus onder my trui. Waar kan jy nou beter?
Vroeg die volgende oggend, nog voor die haan kon kraai, is ons vort vir ons vlug terug Kaap toe.
My geluk is dat ek binnekort weer terug is daar, al is die lekker dan ook net ’n naweek lank. Sorg dat jy daar is, as jy kan.
“Die kultuur van Namibië se kos lê nie in ’n spesifieke styl, tegniek of bestanddele nie. Namibiese kos, soos die lewe hier in die algemeen, draai om die beste te maak van dit wat jy het. Jy het altyd baie vleis en vars kos uit die see as jy naby die kus woon. Die res is altyd ’n wonderlike mandjie moontlikhede en verrassings. As dit reën, kry jy wilde sampioene en dan maak jy ’n heerlike omajova-pasta. As jy duisende kilometers van die beskawing in die oopte uitkamp en jou kind vra brood, grawe jy ’n gat in die grond, maak vuur daarin en bak een.” - Uit My Hungry Heart, Notes from a Namibian Kitchen deur Antoinette de Chavonnes Vrugt.