Dis so maklik vir die publiek om te dink joernaliste zoom in op mense in hul tyd van nood en onttrek dan net weer so vinnig soos wat jy ‘n pleister sal afruk nadat dit die doel gedien het.
Ek sou ook seker so gedink het. Ongelukkig is dit so ver van die waarheid af as wat dit is om te sê ek sal ‘n aktuaris kan word (ek kan hoegenaamd geen berekeninge doen nie).
Dit is so dat ons gewoonlik met mense te doen het in hul intiemste, pynvolste en soms vernederendste oomblikke. Maar dit is onwaar dat dit ons nie raak nie.
Soos Laurika Rauch se hoendervleismooi liedjie, Moskombersie, is elke storie wat jy doen soos ‘n stukkie mos wat ‘n laslappiemoskombers vorm. En die kombers hang altyd oor jou skouers. Selfs wanneer jy slaap, droom jy dikwels van die mense in stories.
Sommige stories raak jou wel soms meer, want ons is ook maar mens met ons eie belangstellings en geskiedenis. Maar al moet ek ‘n artikel doen oor aardbewings in China terwyl ek meer belangstel in selluliet, druk elke storie sy eie, unieke stempel op jou af. So raak jou kombersie dikker en groter.
Sommige stukkies ‘mos’ is lig en inspireer jou, ander kere breek jou hart vir die mense oor wie jy ‘n storie doen in ‘n duisend stukkies en voel dit of die kombers so swaar op jou druk dat jy sukkel om asem te haal van pure hartseer.
Maar vir my – en ek glo vir meeste joernaliste – is elke stukkie mos kosbaar. Vandag wil ek juis dankie sê vir die mense wat my moskombersie help vorm het.
Vir elke kenner wat bereid is om op kort kennisgewing vir ons kommentaar te gee op ‘n spesifieke kwessie; vir elke familie wat worstel met hul eie pyn maar bereid is om dit met ons lesers te deel; vir elke glanspersoonlikheid, sanger en akteur wat hul tyd opoffer om ons in hul huise toe te laat.
Ek weet dit is soms bitter moeilik, meestal ontydig en altyd op die nipper sodat ons ons deadline kan haal, maar weet dat julle elkeen ‘n groot impak het op joernaliste se lewens het.
My grootste wens is dat ek almal kan help oor wie ek skryf.
Maar ek glo vas dit is juis hoekom ons die stories doen: Nie alleen omdat ons dit aan ons lesers verskuldig is om die beste en nuutste stories vir hulle op ons unieke Huisgenoot-manier te vertel nie, maar omdat iemand wat die artikel lees, bereid sal wees om te help.
Dankie aan almal. Ek hoop my moskombersie hou nooit op groei nie. ‘n Lewe daarsonder is eenvoudig ondenkbaar.