Sjoe, die nuwe Huisgenoot-webtuiste is nog nie eers twee maande oud nie en tot op hede blyk dit regtig gewild te wees by ons lesers...
Die lekkerste van die nuwe Huisgenoot.com is dat lesers nou vir die eerste keer direkte terugvoer op meeste van die artikels wat in die tydskrif kan gee. En dis regtig wonderlik om ons lesers se menings te kan lees, want dit heg soveel ekstra waarde aan ons artikels. Daar is boonop baie uiteenlopende kommentaar en dit is duidelik dat Huisgenoot-lesers ‘n OPINIE het! En lesers is definitief ook nie bang om te verskil van mekaar (en selfs van Huisgenoot) nie.
Wat my veral beïndruk het, is dat ons lesers ook omgee – kyk byvoorbeeld die reaksie op die artikel van klein Marco van Vuuren wat vermink is deur ‘n onbevoegde dokter… Onmiddellik toe die storie in die tydskrif en op die webtuiste verskyn het, was daar ongelooflike terugvoer ter ondersteuning van hom en sy ouers. En kort voor lank, was daar sommer geld vir sy operasies ingesamel! WOW.
En boonop op ons Facebook-groep gesels ons ook tog te lekker met lesers! Dit is regtig vir ons ongelooflik insiggewend om interaktief met julle te wees.
Tog is nie alle kommentaar wat ons altyd kry noodwendig vir ons lekker om te lees nie – maar mens moet mekaar se opinies respekteer. En daar is niks fout om van mekaar te verskil nie... Dit bring my egter by ‘n ‘n klagte of twee van lesers dat ons nie hulle kommentaar publiseer - en nou vir Huisgenoot.com daarvan beskuldig dat ons hul reg op vryheid van spraak inperk.
Ongelukkig is daar soms kommentaar wat ons glo nie publiseerbaar is nie - óf omdat dit eenvoudig te kras is, óf dit grens aan haatspraak, óf ons voel dit voeg geen daadwerklike waarde by tot ‘n spesifieke debat nie. En ander kere is die kommentaar wat ons kry ‘n kwessie van “mostert na die maal” - of dit is nie meer relevant nie.
Tog glo ek, ons is regtig baie liberaal oor watter kommentaar ons wel publiseer – en ongeveer 90% van alle kommentaar wat ons op ons webtuiste ontvang, word vir publikasie deurgelaat.
Maar, om terug te kom by die argument van vryheid van spraak – dit is een van ons belangrikste menseregte en natuurlik sal ons by Huisgenoot ENIGE iets doen om dit te beskerm. Net soos ons briewe ontvang vir die tydskrif wat nie publiseerbaar is nie, is daar kommentaar wat nie publiseerbaar is nie. En dan moet ons, ons redaksionele oordeel gebruik…
Elk geval, dis vir die Huisgenoot-span regtig wonderlik om terugvoer van julle, ons lesers, te kry! Die feit dat julle hier op ons webtuiste, en by ons Facebook groep, interaktief kan wees, is soos om met julle te kan gesels.
So, moenie skaam wees nie en deel jou mening!
- Wilmer
NS: Onthou ons gebruik ook van die kommentaar op ons brieweblad - so kyk uit daarvoor as jy 'n Huisgenoot koop.
Wilmer Müller is Huisgenoot se Webredakteur.