Suid-Afrikaanse krieket maak my skaam, en dis nie Hansie se skuld nie, ook nie die duiwel nie.
Dit is seker maar geld se skuld. Hoe dan nou anders dat ons krieket-spelers so uitblink in dieselfde land en op dieselfde kolfblaaie waarop hulle ‘n maand terug nie hond haaraf kon maak nie?
Drie uit die top vyf lopievratein die IPL is Suid-Afrikaners. Jacques Kallis, Johan Botha en AB de Villiers. Behalwe vir AB het die ander twee nou nie eintlik die wêreldbeker aan die brand gehad nie. Hoe vind hulle dit nou moontlik om die arme Nieu-Seelandse boulers met gemak oor die grense te jaag?
‘n Maand terug was dit onmoontlik. AB slaan glad meer sesse as viere. Hy is by verre die speler met die meeste sesse tans in Indië. Boonop doen ons boulers ook glad nie sleg nie. Wayne Parnell, wat nou wel nie verlede maand gespeel het nie, is gesamentlik tweede op die ranglys met 4 paaltjies wat hy geneem het. En Dale Steyn kort op sy hakke met drie.
Morné Morkel het al klaar in twee wedstryde amper meer paaltjies geneem as wat hy in die hele wêreldbeker geneem het. Iets maak nie sin nie, of is dit net ek?
Waar is die spelers se trots as dit kom by krieket? Dis juis die klomp spelers wat al te gretig kla oor ooreising en te veel tyd oorsee. Het hulle al ooit ‘n dag gewerk soos die res van ons? 5 ster hotelle en mense wat in al hul begeertes voldoen en daar word gekla oor “Ons is uitgeput”. Haai sies tog.
Dit maak my net nog kwater, want as hulle dan kamtig so uitgeput is, hoekom doen hulle nou so goed in die IPL? Waar kom die skielike sukses vandaan? Vrae wat nooit beantwoord gaan word nie.
Lyk my die manne is net MOEG wanneer die groen en goud oor die kop getrek word. Miskien slaap hulle so lekker op die dik gestopte sakke vol geld wat hulle in Indië maak, die dat hulle so goed speel daar. Maak my skaam om krieket te kyk. Eintlik maak dit my siek.
Anton Vermeulen is Huisgenoot se redakteur van inligtingsgrafifka