Blogger:

Huisgenoot

Huisgenoot Wenresep vir ‘n goeie tyd

E-pos
Print

As ek minister van onderwys was, sou ek een vak verpligtend gemaak het – Opvroliking. Ten minste ‘n uur ‘n dag sou onderwysers en leerders alles moes insit om mekaar te laat lag.

Wanneer hulle klaar geleer het wat die hoofstad van Peru is, hoe ‘n mens kwasjiorkor spel, hoeveel grade daar in ‘n reghoek is en waarom apartheid sleg was, sal hulle die komiese potensiaal moet leer ontgin van kwelvrae soos waarom die hoender die pad oorgesteek het, hoeveel olifante jy in ‘n Mini kan pas, hoeveel sielkundiges nodig is om ‘n gloeilamp om te ruil en wat is geel en ruik na koedoe.

Want sien, die lewe in ons ou landjie is swaar en uitmergelend genoeg en dis uiters onwaarskynlik dat sake binnekort meer rooskleurig gaan raak. Die kosbaarste geskenk wat jy die jongklomp kan gee is om hulle te leer lag vir die nimmereindigende streskonsert waarin ons ons bevind.

Dis uitkomsgebaseerde onderwys in sy suiwerste vorm, want as die ouderdom jou een ding leer, is dit dat sake progressief net erger raak en dat jou lewe letterlik en figuurlik meer peervormig word. As jy nie vir die jongetjies werk, geld, huisvesting of magies vol kos kan waarborg nie, kan jy seker maak dat hulle darem eendag Suid-Afrika se gekkeparadys invaar met ‘n gesonde sin vir humor.

En vir die ouer generasie het ek ‘n ander oplossing om die lewe meer draaglik te maak: HUISGENOOT WARE LEWENSDRAMA PARTYTJIES.

Ja, jy’t reg gelees. En nee, dis nie propaganda vir die tydskrif waar ek werk nie (ek word nie genoeg betaal om propaganda te pleeg nie), dis net ‘n blêrrie goeie plan vir ‘n moerse lekker opskop.

Ek het my eerste Huisgenoot Ware Lewensdrama-partytjie amper twintig jaar gelede gehou – lank voor ek ‘n voet in die deur gekry het om hier te werk – en dit was dadelik ‘n wegholtreffer.

Die resep is eenvoudig: kom as jou gunsteling Huisgenoot-storie of –karakter, hoe gekker hoe beter.

By die eerste partytjie het Alex Beyers die kollig gesteel as een van die Wolfkinders van Suid-Amerika. Elke millimeter van sy vel was met lang swart hare beplak en hy’t ‘n fraai sirkuspakkie aangehad. My skoolvriendin Anina Smit het gekom as Bruid van Huisgenoot – in haar ma se ou trourok wat beplak was met gru-verhale vars uit Huisgenoot. Daar was Maria die Kindvrou wat op nege swanger geraak het, ‘n Siammese tweeling, Bollie & Krabbel, ‘n kaalpoot Zola Budd, baba’s met sterte en Fanie & Melanie Ontdek die Piepie.

Maar die wonderlike het die gaste gou besef, is dat jy nie noodwendig in ‘n fancy kostuum hoef op te dress nie. Wat my die meeste laat lag het by die eerste Huisgenoot Ware Lewensdrama-partytjie is die ou wat opgedaag het met ‘n “bloedstrepie” wat by sy mond uitgeloop het en ‘n Checkers-sak wat hy heel aand in sy hand vasgeklem het. Sy tema was “Huisgenoot-storie waiting to happen”. Tot vandag weet niemand wat in daai sakkie was nie.

En ek het my ook vrek gelag vir vriend Gideon Ebersohn wat in jeans en ‘n T-shit opgedaag het onder die vaandel: “Man met twee breinselle skryf country-treffer”. Soms wonder ek wat geword het van die vrou uit wie se kop ‘n aartappel gegroei het?!  En Liela Groenewald met ‘n reuse-wortel onder haar arm – “Vrou kweek grootste wortel in Brixton, dalk die wêreld”. Of was dit ‘n pampoen? En Monica Seles in tennisklere met ‘n yslike groentemes in haar rug.
Ongelooflike Tonele, Goue Tye…

Mettertyd het die Huisgenoot-partytjie al hoe baldadiger en lawwer geword. Deel van die aand se vrolikheid was Ds. Moenieworry-Janson wat in die hoek sit en raad uitdeel het in ruil vir drank en ‘n vasvra-kompetisie wat saamgestel is uit heerlike Huisgenoot-stories.

Jy kon altyd die Huisgenoot-verslaafdes op ‘n myl uitken, want hulle het geweet wat Advokaat Barbie se regte naam is, hoeveel Vet Careltjie geweeg het voor hy begin verslank het en wat Janie du Plessis se uitlander-eksman se naam is.
En hulle kon die mees kreatiewe antwoorde voorsien op vrae soos: Is Prins Edward gay? Wat was Worsie Visser se hond se naam? Was Gert van Rooyen en Joey Haarhof getroud of net vennote? Watter siekte skuil in gekookte olie? Is Patricia Lewis ‘n natuurlike blondine? Hoe oud is Riaan Cruywagen en hoekom? Is draf sleg vir jou tiete? En gaan Afrikaans uitsterf oor 5, 25 of 83 jaar?

Deur die jare het Huisgenoot minder op freak stories begin fokus, maar die skandes en skade van beroemdes is vandag nog ‘n goudmyn vir ‘n volbloed Huisgenoot Ware Lewensdrama-partytjie.

‘n Paar jaar gelede het ‘n egpaar gekom as Hansie Cronjé en die Duiwel – Willem in krieketklere en Dorette met flitsende horinkies op haar kop bo haar sexy rooi katpakkie. Herman Wasserman met sy kwynende haarlyn het gekom met ‘n roos in sy mond as “Help, ek is Bles!” en sy vrou Helena was ‘n baie oortuigende blonde Leonie.

Daar was ‘n wulpse porno-ster (deesdae redakteur van Rapport!) wat getuig het van haar liefde vir Robert Mugabe, laasgenoemde onherkenbaar in ‘n gorillapakkie – “lelik maar darem straight”.

“Haasdas se hoerkind” het vertel van sy Paaspyn aan die sy van ‘n ballerina wat bely het: “Seks en dagga maak my gagga” en die ma van ‘n “monsterkind” het die heel aand lank ‘n reuse opblaas-dinosourus onder haar arm vasgeklem.

Marthinus “Kortbroek” van Schalkwyk het heerlik ge-Hoeka-Toeka saam met die man met ‘n donkerbril en wit stok wat sy sig moes inboet omdat hy 24 uur aanmekaar gemasturbeer het.
Stout en effe siek maar LEKKER.

Ek wou verlede jaar vir my 40ste verjaarsdag die Moeder van alle Huisgenoot Ware Lewensdrama-partytjies gooi, maar toe haal my eie Ware Lewensdrama’s en ek hou toe net ‘n stemmige suipsessie op Vrydag die 13de November.
Vanjaar gaan egter nie sy gat sien sonder ‘n behoorlike Huisgenoot-opskop nie, al moet ek Esmaré se arm draai om die joligheid te borg.

Dink net wat ‘n mens alles kan doen met die jongste vlaag skandes – Steve en sy soveelste flossie, Joost al snuiwend in sy begaaide onderbroek, Jurie en Hestrie, Brad & Angelina en hul trop kinders, Ray McCauley se skeisaak, Gretha Wiid, Zuma en sy span bruide. Om nie te praat van Julius Malema nie…

Juig al wat beef, o my siel daar’s ryke stof!
 
- HANNELIE BOOYENS (Joernalis, Huisgenoot)



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (12)


  1. Anne
    2010/08/12 12:49:01 nm
    Aand die onderwys stelsel is geneuk tot hy nou in sy m...r is, nou will hulle weer verander maar intussen gaan daar so baie belangrike dinge by die venster uit, soos verantwoordelikheid (huiswerk so baie ma moet help met die take en opstelle ens), respek (vir jou self en ander as ook hulle besittings) en dan ook Goedsdiens want met ons skepper kan ons niks vermag nie, die kinders het die keuse of hulle dit wil bywoon of nie, meeste plattelandse skole is dit nog verpligtend maar hier in ons diebare stede is die nie meer 'n moet so hoe gaan ons ou engeltjies dn nou leer van onse Vader en hoe goed sy Woord en waar sy woord is as 'n klomp mense besluit wat aan ander noem dit dan nou maar beginsels/geloof is as dit waaraan ons Christene dan nou gewoond is die mag het om dit te verander soos hulle lus is
  2. Danie Nel
    2010/03/17 02:57:33 nm
    Daar is mag en krag in lekker lag. Ek is gek oor skerp streke soos deur jou beskruif. Hulle reken lekker lag verlaag mos stress vlakke nes goeie seks.Net jammer die seks is gewoonlik vinniger verby......ha,ha,ha
    Nou gaan ek uit my maag lag wanneer ek en my vrou weer intiem verkeer, dan halveer ek mos my stress vlakke 2 keer wat sal beteken daar bly net n kwart van die oorspronklikke stress oor. Dit behoort ek te kan hanteer...
  3. Jan
    2010/03/03 08:49:54
    100% Enige iemand wat kan lag help om spanning te verlig en denke te stimuleer.
  4. Darrell Apostolides
    2010/02/11 01:43:08 nm
    Fantasties! Dankie Hannelie. Ek sien nou dit is die moeite werd om hierdie ware lewensdramas te volg, en nie net vir die jaarlikse opskop nie.
  5. carina
    2010/02/09 12:27:13
    wanneer gaan iemand n tesis doen oor Suid-Afrikaanse manlike verneukers en onderbroeke met gate in?
  6. Elmari
    2010/02/08 09:07:25 nm
    Jy sal 'n paartie in Jozi ook moet kom hou!
  7. Hannelie Booyens
    2010/02/08 04:43:03 nm
    Oepsie. 'n Siesa-gagga-poefie fout het ingesluip: Helena Wasserman was nie Leonie Bridges nie, sy was Marietjie! Bietjie van 'n Freudian slippery slope! En hoe kon ek vergeet van die minlike Marina Griebebow wat gekom het as Tietjana Lesbiejanovska, 'n tromboonspeler van die staatsorkes van Kiev, wat ná die val van kommunisme as "mail order bride" beland het in die Hantam by die boereoom (Willem Bester) wat net van die Klipwerf-boereorkes gehou het.
    JAAAA! Kom ons party binnekort. Watch this space!
  8. Christiana Groenewoud
    2010/02/08 04:05:40 nm
    Skattie, wanneer en waar is die paartie?
  9. Cila De Caprio
    2010/02/08 04:01:32 nm
    ons moet 'n groot event maak van die volgende partytjie - en kaartjies verkoop! :)
  10. yvette
    2010/02/08 03:47:01 nm
    ek voel net jammer ek is nooit by sulke party nie maar sal sekerlik in die hoofstad probeer hierdie jaar gooi - maar miskien sal ek ook die suster publikasies moet insluit soos you an drum - hello vir die uitlanders and uitvind oor die HG equivilant in Nigeria .... sal wel die maaitjies van HG nooii .... en bo en behalwe die party dink ek humorsin moet definitifief deel van skool wees - miskien kan ons zapiro vra om 'n nationale campaign te begin ....
  11. Raquel Lewis
    2010/02/08 12:44:49 nm
    ag heerlik gestel! Ware drama soos net jy kan vertel
  12. Theresa Potgieter
    2010/02/08 12:18:38 nm
    Dankie Hannelie, ek het nou heerlik gelag! Nooi my asb uit na jou volgende Huisgenoot-opskop. Dit kan net pret wees!