As jy hierdie lees, lees jy die eerste blog wat ek in my lewe skryf!
Toe Wilmer (Huisgenoot se webredakteur) my bel om te vra of ek dit sal doen het ek dadelik ingestem!
Maar, later die dag toe ek in die bad sit, begin ek wonder waaroor skryf mens dan nou???
Daar is altyd soveel dinge wat in my kop rond dwaal - en nou dat ek die geleentheid kry om dit vas te pen weet ek nie waar om te begin nie...
Ek kan altyd my opinie rondom Julius Malema lewer? Of galbraak oor die feit dat my vullis steeds voor my huis staan as gevolg van van stakings? Dan is daar natuurlik ook die wêreldbeker wat om die draai is - wie weet hoe die spulletjie nou regtig gaan afspeel? Ek kan praat oor my vrees vir alleenwees? Of oor my bekommernis dat iemand my ruit gaan stukkend slaan by die verkeerslig en alles wat ek besit steel (dit nadat ek heel “paranoid” geraak het toe dit onlangs twee vriendinne oor gekom het). Dan is daar my versekering wat ‘n kopseer is... ai. En selfs die feit dat ek nou regtig net ‘n afspraak by die tandarts moet maak!
Elk geval...
Toe kom my kat, Ash, en kom sit op die rand van die bad. Hy kyk vir my asof ek die koning in die wêreld is! Hy miaau so paar keer en toe ek uiteindelik groet begin hy spontaan te spin.
Net daar besef ek dat ons hopeloos te veel vaskyk in dit wat negatief is! Hier langs my is ‘n klein lewende wesentjie wat net een ding voor sy oë het ,en dis ek, sy “meester”! Hy voel veilig by my - en ongeag wat gebeur, weet hy ek sal altyd daar vir hom wees en vir hom liefde gee.
En God is immers my meester... As ek so lief vir ‘n troeteldier kan raak, hoe lief moet God nie vir my wees nie? Ek, wat na Sy beeld gemaak is... Ons almal weet dit, maar as ek myself net vir n oomblik daaraan herrinner, is dit asof alles anders eintlik nie meer saak maak nie! Ek kan altyd op die rand van sy bad gaan sit en hy sal daar wees. Ongeag wat! Hy sal my ondersteun, sorg dat ek veilig is. En ewe skielik voel ek die wêreld kan maar vergaan, solank ek by Hom staan!
Ek besluit toe om my dag verder só te benader. Ek kyk eers waarvan ek hou en besluit dan waavan ek nie hou nie.
Die blou lug was so verfrissend - die wind wat deur my oop venster (in Johannesburg) gewaai het, het my ‘n gevoel van vryheid gegee. Ek sien hoe ‘n ou oom en tannie met hulle hond deur die Melville-koppies stap. En ek gewaar die duiwe op die telefoondraad in Beyers Naudé-rylaan…
Soos ek nou in my bed lê, en aan hierdie blog skryf, besef ek hoe bevredigend dit was! Hoe meer ek probeer fokus het op dit wat mooi is, hoe minder het ek die negatiewe of lelike raak gesien! Die vullis staan steeds voor my huis en opskrifte oor Julius Malema is steeds op koerantplakkate op lamppale - maar dit was ’n bysaak vandag!
Ek weet dat dinge wat verkeerd gaan, gaan nie hulself uitsorteer nie, maar ek hoef dit definitief nie my topprioriteit te maak nie!
Môre sal ek dalk self my vullissakke wegry (klem op dalk)! Nie omdat dit my hele dag omkrap nie, maar eerder omdat ek die hele boom wil sien langs dit...
Johan Venter is ‘n lid van die a cappella-groep, Flip a Coin, en ook ‘n liedjieskrywer.
Op die internet
Flip a Coin Facebook-blad